Groepsgeding deur slagoffers van vuurwapengeweld

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Groep mense wat die slagoffers was van vuurwapengeweld – wat glo gepleeg is met vuurwapens wat by die polisie gesteel is – het begin met ʼn groepsgeding om skadevergoeding om die polisie daarvoor verantwoordelik te hou.

Gun Free South Africa (GFSA) het ʼn kennisgewing hieroor aan onder andere die minister van polisie, Bheki Cele, gestuur waarin hy ingelig word van die voorneme om skadevergoeding te eis weens sterftes en beserings wat veroorsaak is deur die optrede van Christiaan Prinsloo en David Naidoo, wat glo die verkoop van die wapens aan bendes gefasiliteer het.

“Terwyl die virus van vuurwapengeweld versprei, is dit tyd om die polisie aanspreeklik vir hul nalatigheid te hou,” sê Adèle Kirsten, direkteur van GFSA.

Die litigante in die groepsgeding sluit in die ouers of voogde van kinders wat beseer is, die afhanklikes van slagoffers wat dood is en diegene wat ʼn aanval met ʼn sogenaamde Prinsloo-wapen oorleef het. GFSA sê verskeie families het reeds verklarings afgelê en pogings duur voort om selfs meer voornemende eisers op te spoor.

ʼn Prokureursfirma hanteer die sake op ʼn vrywillige grondslag en vooraanstaande advokate is reeds betrek om die eisers in die Wes-Kaapse hooggeregshof te verteenwoordig.

Prinsloo, ʼn voormalige polisiekolonel, het tussen 2007 en 2015 meer as 2 000 vuurwapens in die polisie se besit gesteel. Dit is by die polisie ingehandig om vernietig te word, maar hy het dit uit die pakkamers gesteel en verkoop.

In 2016 is hy ingevolge ʼn pleitooreenkoms met die staat tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir rampokkery, korrupsie en geldwassery.

Kirsten sê die polisie het versuim om te verseker dat Suid-Afrika deurgaans ʼn sterk en doeltreffende vuurwapen- en ammunisiebeheerstelsel het. Dit het iemand soos Prinsloo dus in staat gestel om vuurwapens in polisiepakkamers te steel en jare lank ongesiens in gemeenskappe te laat beland.

Die polisie het sedertdien boonop versuim om stappe te doen om die sistemiese mislukkings te pak wat moet verhoed dat wettige vuurwapens in misdadigers se hande beland en bydra tot die beskikbaarheid van die poel wapens.

Volgens GFSA is vuurwapens al hoe meer geredelik beskikbaar en dit is nou die hoofoorsaak van moord in Suid-Afrika, met 34 mense wat elke dag tussen Oktober en Desember verlede jaar doodgeskiet is.

Die organisasie sê toe die polisie destyds tydens “Operasie Impi” Prinsloo se bedrywighede ontdek het, het die polisie se eie regsafdeling gewaarsku indien die gesteelde wapens nie herwin en stappe gedoen word om verdere korrupsie te verhoed nie, is die kans op ʼn regsgeding geweldig groot.

Operasie Impi is in Desember 2013 van stapel gestuur nadat die polisie talle vuurwapens op die Kaapse Vlakte begin aantref het wat professioneel gesuiwer is van enige identifiseringsmerke – bewyse dat ʼn gesofistikeerde vuurwapensmokkelnetwerk daarby betrokke was, sê GFSA.

Teen September 2016 het die polisie aangedui dat minstens 1 000 Prinsloo-wapens nog in omloop is en steeds in misdaad gebruik word, sê die organisasie. Luidens berigte was die wapens wat hy verkoop het, teen daardie tyd ook al verbind met die dood van 89 kinders en die wond van 170 minderjarige slagoffers.

Daar is egter geen openbare inligting oor die polisie se verdere vordering – indien enige – met die herwin van die gesteelde wapens nie, sê GFSA.

“Die vuurwapens is steeds in omloop in ons gemeenskappe en hou die grootste bedreiging vir ons reg op lewe in. Dit is hoekom die polisie toegewyde spanne moet hê wat die wapens kan opspoor en vernietig,” sê Lynn Phillips, sekretaris van die Kaapse Vlakte-veiligheidforum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Is dit hoekom cele so opgewonde was dat almal se vuurwapens ingehading moes word en is dit hoekom vuurwapen lisensie nie afgehandel raak nie altyd mos verskonings maw die prinsloo 18 jaar gekry ongeag hoeveel is agv van hom dood nee maat jy moet lewenslank sit

Jacobus ·

Prinsloo was in April 2020 alweer uit op parool volgens n uitgawe.

Danie ·

Dankie ry hulle tot in die hoogste hof en terug.Kry die beste verdediging en moet nie gaan le nie.

ES ·

Adèle Kirsten het nog nooit in haar lewe aansoek gedoen vir ‘n vuurwapenlisiensie nie… dit is nie so geredelik beskikbaar soos wat sy beweer nie.

O wag, het het vergeet sy praat van onwettige vuurwapens, maar sy het ons wettige vuurwapeneienaars al lankal in haar visier. Sy wil ons nog vinniger ontwapen as wat Cele dit wil doen.

Ek het niks tyd vir haar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.