‘Mylpaal’ met aanstelling van nuwe adjunkhoofregter

Regter Mandisa Muriel Lindelwa Maya. (Foto: Verskaf)

Die aanstelling van Mandisa Maya as Suid-Afrika se nuwe adjunkhoofregter is uit verskeie oorde verwelkom.

Hoofregter Raymond Zondo het Maya se aanstelling bestempel as ʼn “betekenisvolle mylpaal in die land en die regbank se geskiedenis”, terwyl die DA die aankondiging ook verwelkom het.

Maya, tans die president van die appèlhof, is die eerste vrou wat die pos as adjunkhoofregter beklee. Zondo het Maya gelukgewens met die aanstelling en gesê hy sien daarna uit om haar op 1 September by die Konstitusionele Hof te verwelkom en in dié nuwe rol met haar saam te werk.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagoggend aangekondig dat Maya die pos voortaan sal beklee. Die Regterlike Dienskommissie het vroeër aanbeveel dat sy as hoofregter aangewys word, maar Ramaphosa het besluit om Zondo in dié amp aan te stel.

Die DA het ook Maya se aanstelling verwelkom.

“Ons wens haar die beste toe in hierdie deurslaggewende rol en vertrou dat sy geregtelike onafhanklikheid en die beginsel van konstitusionalisme sal handhaaf,” het adv. Glynnis Breytenbach, ʼn DA-LP en die party se woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, gesê.

Volgens Breytenbach staar ʼn reuse-uitdaging Maya egter in die gesig weens die twyfelagtige stand van die regbank.

“Namate meer gevalle van ANC-korrupsie en wanpraktyke aan die lig gekom het, was die regbank deurlopend in die spervuur in ʼn poging [van betrokkenes] om aanspreeklikheid vry te spring.

“Regter Maya moet haar posisie gebruik om terug te druk teen enige pogings om die regbank te diskrediteer,” sê Breytenbach.

“ʼn Sterk, onafhanklike regbank is die ruggraat van ʼn vrye en regverdige samelewing waar almal gelyk is onder die wet. Adjunkhoofregter Maya se rol om die regbank te beskerm en op te bou is noodsaaklik om hierdie ideaal lewend te hou.”

GOOD het Maya se aanstelling ook verwelkom en sê dit is ʼn belangrike stap na verdere geslagstransformasie op die regbank.

“Suid-Afrika se hoogste hof is die hoeksteen van ons demokrasie en het ʼn sleutelrol gespeel om rigting te gee aan leiers en wetgewers, asook om diegene in beheer aanspreeklik te hou wanneer hulle versuim om hul grondwetlike pligte na te kom,” sê Brett Herron, ʼn GOOD-LP en sekretaris-generaal van die party.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Dis seker mooi “transformasie van die regstelsel”, maar time and and again wanneer nogal ANC ministers in hofsake is, gebruik hulle WIT regsverteenwoordigers. Hoe dan nou?

SjN ·

Daar was mos van die begin af besluit dit moet n vrou wees, kom ons wag en kyk, tyd sal leer.

Jack ·

Wonder hoelank sy rein gaan bly soos wat die regstelsel nou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.