Eerste vrou as adjunkhoofregter aangestel

Regter Mandisa Muriel Lindelwa Maya. (Foto: Verskaf)

Regter Mandisa Maya het vandeesweek die eerste vrou geword wat as adjunkhoofregter van Suid-Afrika aangestel is.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag bekend gemaak dat Maya, regter-president van die appèlhof, vanaf 1 September as adjunkhoofregter sal dien. Ramaphosa het reeds vroeër vanjaar, nadat Raymond Zondo as hoofregter aangestel is, sy voorneme om Maya vir die pos te benoem, geopper.

“Regter Maya sal bydra tot die voortdurende transformasieproses van die regbank,” het Ramaphosa gesê.

“Haar aanstelling as adjunkhoofregter sal dien as ʼn baken van hoop vir talle jong vroue en hulle daarvan oortuig dat Suid-Afrika ʼn land van moontlikhede is – ongeag geslag, sosiale of ekonomiese omstandighede.”

Ramaphosa het Maya se aanstelling ingevolge artikel 174(3) van die land se Grondwet gedoen.

Maya spog met meer as twee dekades se ondervinding as ʼn regterlike beampte en volgens Ramaphosa het sy haar tot dusver in haar  loopbaan onderskei. Sy is die eerste vrou wat die posisie van regter-president van die appèlhof en nou adjunkhoofregter beklee.

Maya, wat getroud is met drie kinders, het ná haar studies in Suid-Afrika in 1990 ʼn meestersgraad in regte by Duke University in die VSA verwerf. Sy was by verskeie geleenthede die waarnemende regter van onderskeidelik die hooggeregshof en appèlhof en is in 2017 as regter-president van die appèlhof aangewys.

Sy is tot op hede steeds die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (sedert 2013), lid van die Regterlike Dienskommissie (sedert 2017) en raadslid aan die Suid-Afrikaanse Geregtelike Onderwysinstituut (sedert 2017).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

Solank haar aanstelling niks met ras, geslag of politiek te doen het nie, maar suiwer op grond van bevoegdheid, is dit reg met my.

Perdeby ·

Haar kwalifikasie lyk darem nie of sy agv ras aangestel is. Baie sterkte vir haar in haar nuwe pos.

Burgermeester ·

” … sal bydra tot die voortdurende transformasieproses van die regsbank.” Wat word daarmee bedoel? Vir my beteken daai sinnetjie, dat sy net nog ‘n onbevoegde kader is wat in ‘n pos gedruk is om die wil van die ANC te doen. Ek sal my woorde terugtrek as ek verkeerd bewys word.

philippus ·

Man vrou feetjie wat ook al…. as die ANC dit aanstel moet jy maar weet dis rubbish, in my opinie

Yolandie ·

Ja veral as jy in ag neem dat sy in die VSA studeer het nie. Dan het sy gehalte onderrig gehad (hopelik).

Esme ·

Regter Maya, baie geluk met die aanstelling.
Volg asseblief in Adv Thuli Madonsela se voetspore en hopelik het ons weer ‘n regstelsel wat werk.
Huidiglik is daar geen arrestasies, geen vervolgings, net misdaad sonder gevolge.

Swerwer ·

Kan enige iemand verduidelik wat “voortdurende transformasieproses van die regbank” nou eintlik beteken, Watter transformasie proses moet ‘n regbank deurgaan. Dit is klaar swart vol van die ANC en EFF en die land is klaar rommelstatus so wat is daar nog wat moet plaasvind. Die moordenaars loop op straat die dossiere raak weg, die onskuldiges sit agter tralies, die boere word uitgemoor, Malema belowe die jeug die staat sal alleen besit oor alle grond van die hele Suid Afrika hê……….nou wat nog?

Niklaas ·

Sy klink heel bekwaam en goed opgelei. Ek glo sy is beslis strate beter as daai een wat die regter in Oscar se saak was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.