’n Entoesiastiese rugbystem is stil

Die entoesiastiese Kaunda Ntunja. Foto: Twitter.

Huldeblyke stroom in vir die SuperSport-kommentator Kaunda Ntunja. Die voormalige Cheetahs-flank was die eerste swart SA Skole-kaptein terwyl hy in 2005 ook die Curriebeker saam met die Vrystaters omhoog gehou het.

Hy is gister in die ouderdom van 38 in Oos-Londen oorlede. Hoewel daar in sommige media berig is dat hy vermoedelik Covid-19-komplikasies gehad het, is dit nie bevestig nie. Sy familie sal later ’n mediaverklaring uitreik.

Die nuus is deur sy suster op sosiale media bevestig. “Soos wat julle kan dink, probeer ons steeds om die tragiese nuus te verwerk en ons vra vir jul liefde, ondersteuning en diskresie,” het Tando Ntunja op sosiale media geskryf.

Ntunja het ná sy speeldae naam as rugbykommentator gemaak en veral sy entoesiastiese Xhosa-diens op SuperSport het kykers vermaak. Hy het onder meer gewildheid verwerf vir sy unieke werk toe Makazole Mapimpi verlede jaar ’n drie in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk het.

“Die SuperSport-familie is platgeslaan. Kaunda was ’n wonderlike karakter – goedhartig, vrygewig en iemand wat ongelooflik baie vir rugby omgegee het. Ons gaan hom baie mis,” het Gideon Khobane, SuperSport se uitvoerende hoof, gesê.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het in ’n verklaring gesê dat Ntunja se afsterwe ’n leemte in Suid-Afrikaanse sport gelaat het, asook dat hy een van die land se voorste kommentators was.

SA Rugby het ook hulde aan Ntunja gebring.

“Ons is hartseer oor die dood van een van ons geliefde rugbyseuns. Kaunda was ’n ware rugbypionier.

“Hy het ’n ongelooflike invloed op die plaaslike rugbylandskap gehad en ons sal sy groot glimlag en stem mis,” het die president van SA Rugby, Mark Alexander, gesê.

Dan het die Leeus gesê dat rugby armer sonder sy stem is.

“Dit is ’n hartseer dag om só ’n groot rugbyfiguur te verloor. Kaunda het ook die Raiders-rugbyklub aangevoer en ons gebede is met die Ntunja-familie,” het die Leeus se uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JN ·

Ag nee man,Regtig tragies wat ookal die siekte.So sterkte aan die familie..

Scalla ·

Meegevoel aan die na aan hom, persoonlik onbekend aan my, as ek weer sy naam hoor of sien sal dit die 2 de keer wees aangesien daar n taalkeuse op tv bestaan wat jy self volgens jou voorkeur kan kies, sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.