‘Nama-grond nie te koop’; gemeenskap vra moratorium op nuwe mynregte

Inwoners betoog op Menseregtedag op Springbok in die Noord-Kaap. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Gemeenskappe in Namakwaland eis ʼn moratorium op alle nuwe mynregte.

Inwoners van die Richtersveld, Concordia, Hondeklipbaai en ander Noord-Kaapse dorpe het op Menseregtedag na Springbok opgeruk waar hulle gevra het vir ʼn moratorium op alle nuwe mynaansoeke, sowel as die hernuwing van bestaande permitte.

Hulle eis ook dat staatsdepartemente sinvol met geraakte gemeenskappe kommunikeer oor enige nuwe ontwikkelings.

GroundUp het vroeër berig die Richtersveld-gemeenskap het in 2003 ʼn grensverskuiwende saak teen Alexkor, die staatsbeheerde diamantmynmaatskappy, in die Konstitusionele Hof gewen.

ʼn Skikking wat in 2007 bereik is, het tot die totstandkoming van die sogenaamde Pooling and Sharing Joint Venture gelei; Alexkor het daarvolgens ʼn beherende belang van 51% behou en die gemeenskap 49% deur die Richtersveld-mynmaatskappy.

Maar tot dusver het die gemeenskap maar weinig by die skikking gebaat.

Tydens Donderdag se opmars na die Springbok-sportstadion het mense “Nama-grond is nie te koop nie” gedreunsing en uitgeroep “ons het die reg om nee te sê” en “ons is die arm miljoenêrs van Namakwaland”.

Lede van die Vrywillige Vooraf en Voortdurende Volledig Ingeligte Toestemmingsbeweging (VVVT), ʼn plaaslike aktivistegroep, het by hulle aangesluit.

By die stadion het verteenwoordigers van dorpe soos Nababeep, Port Nolloth, Alexanderbaai en Kommagas hul ervarings gedeel.

Ann Friedberg, ʼn inwoner van Sanddrif in die Richtersveld, het gesê die regering en mynmaatskappye het van hulle “arm miljoenêrs gemaak”. Op ʼn vraag oor wat sy hiermee bedoel, het Friedberg verduidelik dat hoewel die Richtersveld ryk aan minerale hulpbronne is – wat van hulle miljoenêrs kan maak – kan inwoners “nie [hul] hande daarop kry nie”.

Shereen Fortuin, ’n gemeenskapsleier van Concordia, sê hulle het in November ʼn memorandum aan die departemente van onderskeidelik minerale bronne en energie, landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling asook die Nama Khoi-munisipaliteit oorhandig.

Hulle wag nog op ʼn antwoord.

Fortuin sê die doel van die optog was om hul grondwetlike reg op konsultasie op te eis en dat hul grondregte gerespekteer word.

Gemeenskappe in die Richtersveld en Concordia het gemeenskaplike grondbesit ingevolge die Wet op die Transformasie van Bepaalde Landelike Gebiede.

“Ons wil in staat wees om besluite te kan neem oor wat met en onder ons grond gebeur,” het die memorandum gelui.

Ondanks aktiewe mynbou in Namakwaland staar hoë werkloosheid, gebrekkige infrastruktuur en swak toegang tot water en elektrisiteit gemeenskappe in die gesig, lui dit voorts.

Ann Friedberg, ʼn inwoner van Sanddrif in die Richtersveld, sê die regering en mynmaatskappye het van hulle “arm miljoenêrs gemaak”. (Foto: GroundUp)

Protesteerders eis ook dat grond wat deur mynbou beskadig is, gerehabiliteer word.

Hulle vra behoorlike konsultasie oor die Namakwa- spesiale ekonomiese sone en die Boegoebaai- groen waterstof- megaprojek.

Friedberg sê inwoners van die Richtersveld het bitter min inligting oor die projek ontvang. “Ons het nie ʼn sê oor ons grond nie. Maar ons voorouers se beendere lê daar,” sê sy.

GroundUp het ook onlangs berig oor konflik wat ontstaan het toe inwoners betoog het teen ʼn kopermyn wat weer in Concordia in bedryf gestel is.

Mynbou is ʼn kernbedryf vir die Noord-Kaap en die provinsie is ryk aan minerale hulpbronne. Terwyl die memorandum lui dat gemeenskappe nie teen ontwikkeling gekant is nie, wil hulle hê dit moet met hul toestemming gebeur.

“Ons is ten gunste van ontwikkeling wat tot voordeel van ons gemeenskappe is en nie wentel om wins nie,” lui die memorandum.

Die departement van minerale bronne en energie het nie op navrae gereageer nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Noord-Kaap, stig af. Die junta in Pretoria het julle provinsie se rykdom uitverkoop. Nou wil hulle nog julle water besoedel met die ontginning van skaliegas. Volksvreemde amptenare word ingebring om julle te bestuur. Julle beskik oor alles om julle land self uit te bou waar julle BBP per capita van die hoogste te wêreld is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.