Nederlandse koning vier samewerking met SA

Die koningspaar geniet Pretoria se jakarandabome (Foto: @dutchroyals_ /Twitter)

Koning Willem-Alexander van Nederland het Donderdag president Cyril Ramaphosa bedank vir die hartlike verwelkoming in die land en sy wens uitgespreek dat hy die mense in al twaalf amptelike tale (gebaretaal ingesluit) kon bedank.

Ramaphosa het die koning en koningin Máxima by die Uniegebou in Pretoria ontvang.

Die koning het verwys na sy persoonlike verbintenis met Suid-Afrika, veral toe hy Nelson Mandela se inhuldiging byna 30 jaar gelede bygewoon het en Mandela wat die koningspaar se troue in 2002 bygewoon het.

“Jy verteenwoordig die generasie ná Mandela,” het die koning aan Ramaphosa gesê. “Maar jy het, net soos hy, jou stempel op ʼn vry Suid-Afrika afgedruk. Nog meer: jy was een van die belangrikste argitekte van die tussentydse Grondwet van 1993, die fondament waarop jou demokratiese regstaat gebou is.”

Koning Willem-Alexander sê Suid-Afrika staan uit vir sy sterk wetgewing en ʼn onafhanklike reg. “Hier het mense die vryheid om hulself uit te druk, om te verenig, om hul eie pad te kies en hulself te wees. Julle was die eerste land in die wêreld om grondwetlik diskriminasie teen seksuele oriëntering te verbied. Dit verdien alles groot respek.

“Ons het na Suid-Afrika gekom om te luister en gedagtes uit te ruil oor dit wat julle raad en oor alles wat ons deel.”

Die toespraak het ook die gedeelde geskiedenis tussen Nederland en Suid-Afrika beklemtoon, insluitend gesamentlike pogings teen apartheid. Die koning het ook verwys na voortgesette samewerking op internasionale kwessies soos menseregte en ondersteuning vir die Internasionale Strafhof.

Elektrisiteitsoorgang

Die koningspaar saam met pres. Cyril Ramaphosa (Foto: @dutchroyals_ /Twitter)

Koning Willem-Alexander sê albei lande is daartoe verbind om die oorgang te maak na ʼn kragstelsel wat vir die toekoms volhoubaar is. “Ons streef saam na skoon, regverdige en klimaatsvriendelike energieverskaffing. Ek is trots daarop dat ons besig is om ons samewerking te vergroot en ook groen waterstof ondersoek.

“Dit sal baie mooi wees as julle Suid-Afrika se son noordwaarts kan uitvoer! Dit sal ʼn volhoubare hupstoot wees vir julle ekonomie en ons sʼn.”

Opleiding en vaardigheidsontwikkeling

Die koning meen die belangrikste bron van krag vir ʼn vooruitstrewende ekonomie is ʼn goed-opgeleide bevolking.

“Julle is ʼn jong nasie, in elke sin van die woord. Dit is fantasties. Maar baie jongmense is sonder werk en het nie die vaardighede om hul drome te bewaarheid nie. Goeie opleiding wat aan die behoeftes van die samelewing voldoen, is die sleutel.”

Die koning sê die twee lande werk al ʼn paar jaar lank saam in opleiding en navorsing.

“Tydens ons besoek sal ons graag ʼn ekstra hupstoot wil gee hieraan.”

Sport en kultuur

Die koningspaar saam met pres. Cyril Ramaphosa by die Uniegebou (Foto: Siya Duda/GCIS)

“Elke keer wat ek in Suid-Afrika is, word ek aangespoor deur die ongelooflike lewenslustigheid, positiewe energie en vreugde. Dit is asof mens die Springbokke sien speel, deesdae met die ondersteuning van LED-liggies!”

Die koning het onthul dat hy volgende maand die Erasmusprys, een van Europa se mees gesogte eerbewyse, aan Trevor Noah sal oorhandig. Hy is die jongste wenner in die 65 jaar lange geskiedenis van dié toekenning.

Die Nederlandse Praemium Erasmianum-stigting ken dit jaarliks toe aan mense of instellings wat ʼn buitengewoon belangrike bydrae op kulturele, maatskaplike of sosiaal-wetenskaplike gebied gelewer het. Die prys is na die Nederlandse Renaissance-humanis Desiderius Erasmus genoem.

“Ek voel dit is ʼn baie mooi verbintenis – tussen ʼn diepsinnige humanis van Rotterdam van 500 jaar gelede, die outeur van Stultitiae Laus (“Tot lof van dwaasheid”),  en ʼn jong Suid-Afrikaner van Soweto, wat as ʼn skerpskerts-komediant in Johannesburgse klubs volwassenheid bereik het.”

Die koning het ook verwys na ʼn aanhaling van Trevor Noah: Ek het nog nooit toegelaat dat die gedagte aan iets pynlik my verhoed om iets nuut te probeer nie.

“Wat ʼn uitstekende slagspreuk. Sonder dat ons die verlede vergeet, is ons hier om nuwe geleenthede aan te gryp in ons samewerking met julle. Ons sien uit na die res van ons besoek!”

Die koningspaar sal na verwagting môre die Iziko-slawemuseum in Kaapstad besoek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Huh? Van watter land raak die koning die snert kwyt? Defnitief nie dieselfde RSA wat ons elke dag letterlik moet oorleef nie!!!!

Allop ·

Stem volkome saam met Johann Die koning vee bree strepe met die heuningkwas om Cyril se mond wat hy met genoegdoening aflek

Daleen ·

Kom bly hier vir 3 maande ou grootbek dan sal jy heeltemal ander deuntjie sing…..

Wakkerslaper ·

Pffft! Nie geweet Holland is so gretig om saam met terroriste te werk nie…. O nee wag, ek onthou nou die 1980’s….

trotsNAMSA ·

Gaap, gaap …..
Kom die Hollanders vir nog goed wat hulle kan wegdra ?
Gelukkig het van ons voorouers die ou lappie land in die 1700’s verlaat. Bly ieder hier as daar.
:)

Tjaart ·

Die Nedelandse koningshuis het ons net mooi niks gehelp met die Anglo Boere oorlog nie. Hulle het ons niks gehelp met die kommunistiese aanslag teen ons in die 70’s en 80’s nie- inteendeel, hulle het die ANC ondersteun. Hulle het nou ook nie kom help nie. Hulle het geld kom leen vir ons, om ons van steenkool energie af te kry (terwyl Europa steenkool van ons invoer) ten duurste – sodat ons afhanklik van hulle WEF globale kabaal sal wees.

Antoinette ·

Daai blou/pers rok is een van die lelikste rokke wat ek nog gesien het.

Feite ·

Hierdie kamstige koninglikes maak my siek. Altyd hand om die blaas met grootste misdadigers teen mense regte wanneer dit hulle agenda pas. Hulle gee nie n hel om vir die regte en welstand van die mense van Suid Afrika nie.
Dieselfde met die Britse Koninglikes – lekker Suid Afrika beset maar ewe skielik die welwetenheid vanself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.