Nee, beurtkrag bespaar jou nié geld

(Argieffoto)

Suid-Afrikaners moes nog elke dag van hierdie jaar beurtkrag verduur en verbruikers mor al hoe meer omdat hulle oënskynlik nie ʼn sent minder vir krag betaal nie – selfs al word hul krag soms vir tot tien ure ʼn dag afgeskakel.

Dan is daar diegene wat sê die aan- en afskakel van krag plaas ʼn groter las op die netwerk as wanneer beurtkrag nie geld nie.

“Ek is nogal suinig oor kragverbruik. Gemiddeld, met geen beurtkrag nie, gebruik ons daagliks 10 tot 12 eenhede op ons voorafbetaalde meter. Met die huidige onderbrekings van 10 ure oor 24 uur, het ons verbruik meer as verdubbel tot tussen 25 en 28 eenhede,” skryf een woedende Facebook-gebruiker.

“Geisers wat weer moet warm word, yskaste wat moet afkoel, die laai van rugsteun-ligte ensovoorts, gebruik meer krag as op dae sonder beurtkrag. Hoekom is daar beurtkrag as dit duidelik ʼn groter las op die netwerk plaas?” vra hy.

Las op netwerk minder (nie op jou rekening)

Hoewel die inwerkingstelling van beurtkrag beskou word as voordeling “in die breër prentjie” om die netwerk stabiel te hou, hou dit weinig persoonlike voordeel vir verbruikers in, sê kenners.

Len Winkler, programhoof van elektries by die beroepsopleidingskollege Sol-Tech, verduidelik dat ʼn energie-intensiewe toestel soos ʼn geiser die watertemperatuur deurlopend reguleer, mits die krag aanbly. Indien die krag afgaan en die warm water opgebruik word, moet die geiser al die water van voor af verhit.

Indien jy egter water warm gebruik – en dan nie weer nie tot die krag weer aankom – bly die oorblywende water in jou geiser warm en hoef die toestel nie so hard te werk wanneer die elektrisiteit weer aankom nie.

Dieselfde geld vir toebehore soos jou yskas en vrieskas, sê Winkler. Wanneer beurtkrag geld, kan die ys- of vrieskas nie koud bly nie – veral nie as jy die deur deurlopend oop en toemaak nie. Dit beteken die toestel se kompressor moet oortyd werk om weer die verlangde temperatuur te bereik.

Die kort antwoord, sê Winkler is: “Nee, jy spaar beslis nie krag weens beurtkrag nie.”

Toebehore met ʼn element, soos ʼn stoof, ketel en haardroër, gebruik gewoonlik die meeste krag.

Die take wat verbruikers weens beurtkrag moet uitstel, soos om wasgoed te was of te stryk, moet nou in die tye wanneer daar wél krag is, geskied. Gedurende spitstye, tussen 05:00 en 09:00 en weer tussen 16:00 en 20:00, geld ʼn hoër kragtarief, wat ook jou rekening opjaag.

Winkler sê dit is moeilik om verbruikers se kragverbruiker akkuraat te vergelyk, omdat elke huishouding se gewoontes en behoeftes verskil.

Is sonkrag die antwoord?

(Argieffoto: pixabay)

Kenners sê ʼn sonkragstelsel kan jou geld bespaar, maar nie noodwendig uit die staanspoor nie. Dit is boonop aanvanklik ʼn reuse- kapitale uitgawe wat nie almal kan bekostig nie.

ʼn Egpaar van Garsfontein in Pretoria het in Julie vanjaar ʼn sonkragstelsel by hul huis laat installeer. Dit het naastenby R120 000 beloop en sluit in ʼn omsetter, battery, sonpanele, installasie en ʼn sertifikaat van voldoening.

Met die stelsel kan alle elektriese toebehore in die huishouding, behalwe die geiser en stoof, tydens beurtkrag aan die gang gehou word. Die kragrekening sedert die installering van die stelsel wissel egter.

In Junie verlede jaar, voor die installering van die stelsel, beloop die huishouding se kragrekening sowat R2 800. Drie maande ná die installering is die Oktober-kragrekening sowat R2 500, in November R1 500 en in Desember R2 300.

Dit is omdat die stelsel steeds afhanklik is van Eskom wanneer die son nie skyn nie.

Hulle het sedert die installering van die stelsel wel sowat 1,5 ton steenkool help bespaar en sowat 2,67 megawatt-uur self opgewek. “Hoewel die finansiële besparing tot dusver nie enorm was nie, is ons nie spyt nie. Sedert fase 6-beurtkrag aan die begin van die jaar ingeskop het, was ons nog nie een keer sonder krag nie.”

Jakes Joubert, uitvoerende hoof van Solar 4 You, sê vir gewone huishoudings is die besparing laag wanneer die terugbetaling met munisipale krag vergelyk word. Wanneer brandstof vir die kragopwekker egter ter sprake kom, is die besparing groot.

“Vir sakeondernemings is die besparing ook ongelooflik hoog; as die stelsel deur die bank gefinansier word, is die besparing groter as die paaiement – dit maak nie sin om daarmee te wag nie,” sê Joubert.

Navrae oor sonkragstelsels neem ook toe namate verbruikers besef dat Eskom nie betroubaar is nie, sê hy. “Die laaste twee jaar het navrae toegeneem selfs wanneer beurtkrag opgeskort word.

“Nou, ná André de Ruyter [hoof van Eskom] se bedanking, het navrae nog meer toegeneem; van huishoudings én besighede. Ek dink mense besef Eskom gaan nie regkom nie,” sê Joubert.

Hy sê die prys van sonkragstelsels volg gewoonlik die wisselkoers en daal ingrypend sodra nuwe tegnologie bekend gestel word. “Vir die huishoudelike mark gaan Solar 4 You binnekort ʼn kragomsetter [“inverter”] bekendstel wat heelwat goedkoper is as die huidige omsetters op die mark.

“Ons kommersiële sustersmaatskappy, Red Energy, gaan vanjaar ook ʼn omsetter bekendstel wat ondernemings aan die gang kan hou vir tot die helfte die koste wat hulle tans moet betaal.”

HP Steyn, uitvoerende direkteur van KragDag, stem saam daar is al hoe groter belangstelling in sonkragstelsels.

Die Sakeliga KragDag, met die tema “Kom ons bou ʼn kragstasie”, word vanjaar op 17 en 18 Februarie in die Wes-Kaap aangebied en van 9 tot 12 Augustus in Gauteng. Steyn sê een van die kwessies waarop hulle vanjaar spesifiek wil fokus, is die finansiering van alternatiewe kragstelsels.

“Baie ouens besef reeds die somme maak sin en só ʼn stelsel gee aan hulle sekuriteit, maar dit is ʼn groot kapitale uitgawe. Alles wat die finansiering van alternatiewe energie betref, gaan vanjaar vir ons belangrik wees,” sê Steyn.

“Kragprobleme word nie opgelos deur bloot ʼn kers aan te steek nie. Dit word opgelos waar individue, ondernemings en gemeenskappe by mekaar kom kers opsteek om selfstandiger te leef en sake te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tante Toekie ·

As ons meer krag gebruik, waar kom dit vandaan? Is loadshedding dan nie ‘n klug nie?

Papsak ·

Hierdie hele loadshedding is n klug want Eskom spaar vir ons krag daarom smeek hulle publiek moet tog nie krag gebruik nie eerste besigheid wat ek sien wat jou vra om nie te gebruik nie daar is hordes skelm in Eskom raak bietjie van hulle ontslae en daar sal geld wees vir in standhouding gaan sit Ramaphosa se krag ook n bietjie af laat hy voel hoe ons moet voel

Samuel ·

As Ramaphosa se krag afgesit word, sal beurtkrag spoedig beëindig word.

miraclealigner ·

Ek het ‘n solar/inverter/battery -backup (met Lithium batterye-) sisteem in my huis ge-installeer laas jaar. My huis is deur die dag nie op Eskom se krag netwerk nie, dit is so-te-sê ‘off-grid’. So my yskas(te) is die hele tyd aan sonder dat dit Eskom krag trek. As die krag in die aand aangesit word na loadshedding dan laai dit die battery indien benodig, maar dit is nie naastenby soveel krag soos wat gebruik word met ‘n dubbeldeur yskas of twee nie. Ek sien GEEN vermindering op my krag rekening nie, daar was net laasjaar in Oktober ‘n vermindering. Nou logies sê dit vir my, in my opset, as die krag af is vir 1/3 van die dag, dan moet ek mos ‘n 1/3 of minder vermindering in my krag rekening sien? Of ten minste, as die sonpanele my huis krag gee deur die dag (selfs al is dit bewolk-) en dit is gemiddeld 5-7 ure op sonkrag, dan moet ek mos ‘n vermindering in my krag rekening sien? Of redeneer ek verkeerd? Ek moet ook noem ek het nie my sisteem ingesit om ‘krag te spaar’ nie….

Nommer 7 ·

miraclealigner, ‘n groot 250 watt dubbeldeur ys/vrieskas, met 40% “duty cycle”- gebruik sowat R180 se krag per maand. Met solar is die besparing dus nie veel nie.

Pierre ·

Ek het ook n solar stelsel, kyk gerus na waneer jou geyser aan sit, as jy dit in die aan hardloop dreineer die jou batterye wat weer moet herlaai, die herlaai kan ook gestel wees van grid af wat beteken dat die grootste las nie deer sonkrag bedien word nie, afhangend van jou stelsel kan jy die stelsel programeer om sekere tye laai van die grid af, die ander punt is jou geyser is moontlik nie gesplit nie so as eskom af gaan bly jou geyser aan wat ekstra krag van battery af haal en die siklus begin weer, dan is daar ook die moontlikheid dat die munisipaliteit geskatte waardes gebruik verander na prepaid meter toe

miraclealigner ·

@Pierre my geyser(s) en oond (ek het ‘n gasstoof-) is nie op my stelsel gekoppel nie. @Nommer7 ek hoor wat jy sê maar my yskaste is baises regdeur die dag aan (wat dit hulself aan en af sit soos dit doen-), so dit beteken dat as loadshedding verby is dan hardloop my yskaste nie volspoed om ‘op te vang’ nie. My yskaste was fisies nie af in amper ‘n jaar nie. Ek het ook nie die solar ingesit om krag te spaar nie, ek het dit ingesit soat ons nie sonder krag sit nie, ons sit met die pandemie van kabel diefstal waar ons woon. So as ek self die krag reguleer na die toestelle wat krag gebruik (ysakste-), en die geyser reguleer self soos dit doen met die termostaat dan moet ek tog seker ‘n vermindering sien in krag gebruik, al is dit net so bietjie? Ek kla wel glad nie, die solar is die beste belegging wat ek nog gemaak het, vir die wat kan, oorweeg dit gerus.

Herman L ·

Die artikel is misleidend. Hoekom sal ‘n huishouding min of geen krag spaar, maar ‘n sakeonderneming wel? Hoe is dit moontlik om steenkool te help spaar, maar geen krag nie?

Skopnog ·

As voorbeeld/vraag: Veronderstel jy het 50% van die dag beurtkrag, sal jy helfte minder kos maak (stoof), “geyser” helfte so warm maak, helfte soveel koffie water kook. Ek dink die lading word , tot ‘n baie groot mate, steeds gebruik.

Samuel ·

Ek het ook agtergekom my elektrisiteitsverbruik is hoër tydens beurtkrag. Ek het die gewoonte om soggens eeste ding die vorige dag se eenhede af te skryf. Sonpanele is egter buite bereik weens die hoë koste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.