Nege geskors oor brand by parlement

Groot skade is aan die parlementsgebou aangerig. (Foto: Stad Kaapstad)

’n Eksterne regspan het nou 28 parlementswerkers uitgewys wat weens hul beweerde wanbestuur en nalatigheid vermoedelik daartoe bygedra het dat verlede jaar se verwoestende brand by die parlement uitgebreek het.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, sê dissiplinêre stappe sal teen 13 van hierdie parlementswerkers gedoen word. Nege van hulle is weens die ernstige aard van die bewerings reeds voorlopig geskors.

Dié senior amptenare is egter met volle betaling en voordele geskors.

Mothapo sê hierdie besluit neem hul senior posisies in ag en die moontlike invloed wat hulle op hul kollegas binne die parlement kan hê.

“Hierdie skorsing, aldus die parlement, is deurslaggewend vir die handhawing van die integriteit van die instelling en om ’n onpartydige proses te verseker. Die besluit is geneem om alle betrokke partye te beskerm en is slegs van toepassing in situasies waar die voortgesette teenwoordigheid van hierdie individue die dissiplinêre voorbereiding kan belemmer of moontlik getuies kan laat swaai.”

Mothapo sê die 28 parlementswerkers wat geïmpliseer word, het vanaf 20 Oktober kennis ontvang oor die aanklagte wat oorweeg word en is ’n kans gegun om daarop te antwoord of kommentaar te lewer.

Altesaam 26 werknemers het sedertdien gereageer. Een het egter versuim om te reageer terwyl ’n ander gedurende die tydperk gehospitaliseer was. Dié het sedertdien aangedui dat hy bereid is om op die bewerings te reageer.

Volgens Mothapo het sommige van die werknemers bevredigende regverdigings vir hul optrede aangebied en is sedertdien vrygespreek. Die parlement oorweeg, wat hierdie werknemers betref, nou alternatiewe maatreëls soos professionele ontwikkeling of bykomende opleiding om aandag aan enige geïdentifiseerde vaardigheidsgapings te gee.

“Ander het egter nie voldoende verduidelikings verskaf nie,” sê Mothapo, met verwysing na die 13 parlementswerkers wat kennisgewings ontvang het. “Die parlement reël gevolglik dissiplinêre verhore vir hierdie personeellede. Die personeellede sal binnekort in kennis gestel word van die spesifieke aanklagte wat hulle in die gesig staar.”

Eksterne regskenners is aangestel om die dissiplinêre verhore te behartig. Hulle sal onpartydigheid waarborg en enige vermoede van vooroordeel uitskakel, sê Mothapo.

Maroela Media het vroeër berig oor die verskeie sekuriteitsbreuke wat vermoedelik tot die verwoestende brand op 2 Januarie 2022 by die parlement gelei het.

’n Interne ondersoek deur ’n private forensiese ondersoeker het byna twee jaar ná die brand aan die lig gebring die brand kon verhoed gewees het indien die polisiebeampte wat die sekerheidskameras moes monitor, nie “vas aan die slaap” was terwyl die brandstigter oor die heining geklim en ure lank ongesiens in die parlementêre kompleks rondgedwaal het nie.

Dié heining was veronderstel om in 2004 opgegradeer te word. Dit het nooit gebeur nie.

Die brand (wat groot skade aan die Nasionale Vergadering‑gebou en ou Volksraad‑saal aangerig het) kon ook verhoed gewees het indien die parlementêre beskermingsdienste nie snags, oor naweke of op openbare vakansiedae af gegee is nie.

Dinge kon ook baie anders uitgedraai het indien die parlement in daardie stadium ’n permanente veiligheidshoof gehad het, slegs gekwalifiseerde werknemers aangestel het en aan die basiese veiligheidstandaarde en brandregulasies voldoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

annie ·

So daar is geen minister en ander hogeres wat beheer moes uitoefen nie?

Ronél ·

Dié senior amptenare is egter met volle betaling en voordele geskors…laat my bloeddruk styg

anko ·

Ek soek so n werk met volle vergoeding terwyl geskors is. Dis absoluut belaglik dat so iets gebeur. Geskors sonder vergoeding dis hoe dit hoort.

Lorraine ·

Geskors met volle betaling? Watse straf is dit? Dis hoekom daar so baie kriminele oortredings gebeur in die ANC se kringe!

Anel ·

Hulle is nie geskors nie maar op verpligte vakansie geplaas! Díe is geen straf nie!!! Skors beteken jy kry geen voordeel nie! Nou betaal ons eeer vir ‘n spul kaders om lekker vakansie te hou, weer vir jare!!! Ek word briesend as ek sulke goed lees.

Bolandse Nooi ·

Nee maar man, dan gaan ek ook nou maar bollie aanvang by die werk en as hulle my skors, daarop aandring dat dit MET vergoeding moes wees, want “what’s good for the goose, is good for the gander”, dan nie? Nou gaan hulle weer etlike járe “geskors, met voordele” wees, net om stilweg weer te begin werk as parlementêre “whatse-evers”, sodra die stof gaan lê het.

skurweberg ·

Die wat die aanstellings gemaak het, moet ook vervolg en geskors word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.