Parlementbrand kón verhoed gewees het – verslag

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die verwoestende brand by die parlement op 2 Januarie 2022 kon verhoed gewees het indien die polisiebeampte wat die sekerheidskameras moes monitor nie “vas aan die slaap” was terwyl die brandstigter oor die heining geklim en ure lank ongesiens in die parlementêre kompleks rondgedwaal het nie.

Dié heining was veronderstel om in 2004 opgegradeer te word. Dit het nooit gebeur nie.

Die brand (wat groot skade aan die Nasionale Vergadering‑gebou en ou Volksraad‑saal aangerig het) kon ook verhoed gewees het indien die parlementêre beskermingsdienste nie snags, oor naweke of op openbare vakansiedae af gegee is nie.

Dinge kon ook baie anders uitgedraai het indien die parlement in daardie stadium maar net ’n permanente veiligheidshoof gehad het, slegs gekwalifiseerde werknemers aangestel het en aan die basiese veiligheidstandaarde en brandregulasies voldoen het.

Maar helaas.

Die parlement se brandstelsel was daardie betrokke oggend inderwaarheid onbetroubaar en nie in staat om alarm te maak nie.

Dít is maar net sommige van die verdoemende bevindings van ’n interne ondersoek deur ’n private forensiese ondersoeker na die brand wat vandeesweek (meer as 20 maande ná die brand) bekend gemaak is.

(Foto: Elmond Giyane/GCIS)

Xolile George, sekretaris van die parlement, het die bevindings Woensdag op ’n mediakonferensie in Kaapstad bekend gemaak. Die parlement het egter op regsadvies besluit om nie die volledige verslag bekend te maak nie aangesien die strafregtelike saak teen die vermeende brandstigter Zandile Christmas Mafe nog nie afgehandel is nie.

“Dink ons dat die parlement nog sou staan… indien daar personeel van die parlement was wat nie op gedwonge verlof was nie? Die antwoord is ‘ja’,” het George tydens die mediakonferensie erken.

Hy sê die parlementêre beskermingsdienste se afwesigheid “het aansienlik bygedra tot die kwesbaarheid van die parlement”.

Luidens die verslag word vyf parlementêre amptenare verantwoordbaar gehou vir die mislukkings wat eindelik ’n verwoestende brand tot gevolg gehad het. Dit sluit in die versuim om veiligheidsbeleide te implementeer en mislukkings rakende nakoming en die versekering van die algemene bestuur van die parlement.

Siviwe Gwarube, hoofsweep van die DA, sê die brand “is die toonbeeld van die ANC se leierskap wat deur verwaarlosing en onbevoegdheid onderstreep word”.

Gwarube sê die bevindinge bevestig die vermoede dat die brand deur institusionele mislukkings veroorsaak is.

Gwarube gaan ’n skrywe aan die waarnemende speaker, Lechesa Tsenoli, en die waarnemende voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Sylvia Lucas, rig waarin sy versoek dat die verslag dringend aan die gesamentlike staande komitee vir finansiële bestuur voorgelê word vir openbare bespreking en ondervraging.

“Ons moet verstaan wie aanspreeklik gehou moet word en hoe die uitvoerende gesag verantwoordelikheid sal neem vir die brand wat nog dekades lank onthou sal word. Aanspreeklikheid moet in die parlement begin voordat dit oor die uitvoerende gesag uitgeoefen kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hendrik ·

Hierdie hoof oorsaak van die ” Institusionele mislukkings” is bloot luiheid lusteloosheid, gebrekkige verantwoordelikheidsbese en growwe traak my nie agtigheid wat deurspek is in die nasionale sowel as al die semistaatsinstellings. n Mens noem dit verrotting.

Zollie ·

Verder voel die spul in die parlement vere want die herstelwerk gaan deur die belastingbetalers betaal word.

Hennie Biebouw ·

Vir 29 jaar gaan ons nou al gebukkend onder die ANC en sy talle “ondersoeke” wat bloot die ooglopende benadruk. Niks verander nie. Hierdie spul kaders het hoegenaamd géén self trots nie.

Johanncb ·

Die absolute gemors waarin ons land verkeer, kon ook “verhoed gewees het” as die ANC geweet het hóé om te “regeer”!

Marcha ·

Natuurlik kon dit voorkom word. ANC eet mos maintenance geld. Wat dink hulle dan gaan gebeur.

Oom Charles ·

Bestuur, bevel en beheer, herstel en onderhoud.
Stel ‘n program op, plaas dit op die begroting en hou by die datums en protokolle.
Gebouebestuur is nie iets wat jy lank hoef te studeer nie.
Dit moet net gedoen word.

Kokerboom ·

Vraag bly HOEKOM staan parlementere sekretaris so apaties tsv ‘n massiewe salaris?

Andre ·

…moenie asem ophou vir sanksies teen die skuldiges nie; onthou hulle is kaders.

Papsak ·

Hy moet boet hy makeer niks nie as jy dit kan doen is jy nie siek nie hy geweet wat hy doen laat hy vir skade betaal los belastingbetalers n slag uit hy wou oulik wees laat hy boet klaar

Nico ·

Sal dit ooit tot sy volle reg herstel kan word, die glorie van die gebou is totaal vernietig, die brand is met opset gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.