Negende verdagte vas ná Koffiebaai-moord

(Argieffoto)

ʼn Negende verdagte het Donderdag in die Mqanduli-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn ná die moord op ʼn Koffiebaaise polisielid einde verlede jaar.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê Sipho Mji (40) is Woensdag in hegtenis geneem. Die ander agt verdagtes is almal tussen Desember en Maart vanjaar aangekeer.

Konst. Lonwabo Soga (26) is op 3 Desember verlede jaar doodgeskiet toe hy en ʼn kollega, konst. Siyabonga Nani (41), gereageer het op ʼn klagte.

Maroela Media het vroeër berig vier mans het hulle genader onder die voorwendsel dat hulle hulp benodig. Twee mans het Soga, wat die polisievoertuig bestuur het, genader en twee mans het aan Nani se kant nader beweeg. Een van die verdagtes het Soga glo summier doodgeskiet.

Volgens die polisie se inligting het die rowers daarna die polisievoertuig gebruik om ʼn winkel mee te beroof. Hulle is met R6 000 se kontant, ʼn vuurwapen en die winkeleienaar se bakkie vort. Dié bakkie is later digby Mqanduli gevind.

“Die polisie het op ses ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê, insluitend Soga en die winkeleienaar s’n,” sê Nkwalase.

Twee van die nege verdagtes is op borgtog van R3 000 elk vrygelaat. Die oorblywende verdagtes sal na verwagting weer op 27 Augustus in die hof verskyn wanneer hulle dan formeel om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Hoe de vrek kry hulle borg vir sulke afskuwelike misdade…..is dit hoe menseregte werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.