Sesde verdagte vas ná Koffiebaai-moord

(Argieffoto)

ʼn Sesde verdagte is aangekeer vir die moord op ʼn Koffiebaaise polisielid.

Konst. Lonwabo Soga (26) is op 3 Desember doodgeskiet toe hy en ʼn kollega, konst. Siyabonga Nani (41), gereageer het op ʼn klagte.

Twee mans het Soga, wat die polisievoertuig bestuur het, genader en twee mans het aan Nani se kant nader beweeg. Een van die verdagtes het Soga summier doodgeskiet. Nani is gedwing om uit te klim, sy kollega se liggaam agterin die polisiebakkie te laai en ook daar in te klim.

Die rowers het daarna die polisievoertuig gebruik om ʼn winkel te beroof.

Bonginkosi Ndevu (27) het Vrydag in die Mqanduli-landdroshof op ʼn aanklag van moord verskyn nadat hy Woensdag in ʼn intelligensiegedrewe operasie van die Valke in Qunu in hegtenis geneem is, het kapt. Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Valke, gesê.

Afika Bavu (21), Afikile Nabo (27), Xhantilomzi Ntshinga (27) en Lubabalo Hlomendlini (37) is almal op 6 Desember in hegtenis geneem. Hlomendlini is in Mqanduli aangekeer en die res van sy makkers in Mthatha.

Anela Pencil (31) is drie dae later by ʼn hospitaal in Elliotdale in hegtenis geneem. “Hy is in die hospitaal opgeneem nadat Ndevu hom glo in ʼn stryery met ʼn mes gesteek het,” het Ngcakani gesê.

Tydens die inhegtenisnemings het die polisie beslag gelê op ses ongelisensieerde vuurwapens. Een daarvan het aan Soga behoort. Dit is geroof toe hy en Nani aangeval is. “ʼn Verskeidenheid polisietoerusting, waaronder boeie, ʼn glimbaadjie en ʼn handradio, is tydens die inhegtenisnemings gevind.”

Ndevu verskyn later vandeesmaand saam met die res van die verdagtes in die Mqanduli-hof. Hulle word aangekla van moord, poging tot moord en gewapende roof. Hulle bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karlahari ·

Net jammer die polisie se harde werk loop op niks uit met belaglike ligte vonisse en parool na 50% van vonnis.
Ons howe en politieke partye moet druk vir meer toepaslike vonisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.