NG kerk se verlore troffel dekades later aanlyn opgespoor

Dié troffel is in 1904 gebruik om die kerk se gebou se hoeksteen in te messel, maar het met verloop van die jare verlore geraak (Foto: Verskaf)

Ná 118 jaar is die geskiedkundige troffel van die NG kerk in Laingsburg weer terug in sy oorspronklike tuiste. Dít nadat ʼn dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) die troffel toevallig aanlyn opgespoor het.

Hierdie spesiale doelgemaakte troffel is in 1904 gebruik om die hoeksteen van die kerkgebou in te messel en het baie sentimentele waarde vir die kerk.

Die troffel het egter oor die jare verlore en vergete geraak tot vroeër vanjaar toe Pierre Oosthuizen, ʼn bourekenkundedosent aan die UV, dié troffel op ʼn aanlyn veiling ontdek het.

Oosthuizen het ʼn besonderse voorliefde vir ou geboue, oudhede en genealogie, dié dat hy op die internet rondgesoek het vir historiese items. Dit is nie duidelik hoe die troffel uit die kerk se besit geraak het nie.

Volgens Oosthuizen het hy die materiale en ontwerp, asook historiese en emosionele waarde van die troffeltjie dadelik herken en die afslaer ʼn aanbod gemaak. Hy het die troffel gekoop met die doel om dit aan die NG kerk Laingsburg terug te besorg.

Pierre Oosthuizen het verlede week die troffel aan die kerk oorhandig (Foto: Verskaf)

Oosthuizen het die troffel amptelik op 17 Julie aan die kerk oorhandig met die voorstelling van hul nuwe predikant, ds. Heinrich Niehaus.

Oosthuizen skryf in ʼn berig, geplaas op die Kerkbode se webblad, dat die troffel in opdrag van die kerkbestuur in 1897 in Sheffield, Engeland, uit Sterling-silwer gegiet, gevorm en kunstig fyn versier is met sierlike braambessieblare en -vrugte wat gerank is oor die oppervlak van die troffel.

“Die skenkel, in die vorm van ʼn jong wingerdblaar, heg die lem aan die silwerbeslagring, waarin die greep snoesig pas. Die greep is uit die ivoor van ʼn olifanttand gedraai tot ʼn esteties bevredigende handvatsel wat geëwenaar word deur praktiese en doeltreffende funksionaliteit,” skryf Oosthuizen.

“Op enige bouterrein is ʼn troffel ʼn integrale deel van ʼn messelaar se werkgereedskap. Dis ʼn relatiewe goedkoop en eenvoudige werktuig wat in die hande van ʼn meesterambagsman ʼn sleutelrol kan speel in die skep van komplekse en beeldskone strukture.”

Vantevore was dit tradisie om die hoeksteenlegging van ʼn prominente gebou te vier met ʼn groot gemeenskaplike byeenkoms. Die hoeksteen of fondamentsteen is die riglyn waarna die res van die gebou se messelwerk verwys, verduidelik Oosthuizen.

“Die hoeksteen moet loodreg en waterpas wees om die korrekte uitleg en stabiliteit van die struktuur te verseker. Vroeër jare was dit tradisie om die hoeksteen met koring, wyn en olie in te lê om die struktuur vir sy leeftyd te seën.”

Die NG kerk Laingsburg se kerkraad het in 1904 besluit om die teoloog, akademikus en geestelike leier, prof. Adriaan Moorrees, uit te nooi om die hoeksteen van die nuwe kerk te lê. Hy is later as hoogleraar aan die kweekskool van Stellenbosch aangewys, asook die eerste visekanselier en voorsitter van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het die posisie as kanselier tot sy dood beklee.

“Dit was net gepas vir so ʼn uitnemende persoon om die hoeksteen van ʼn ikoniese gebou in te messel,” sê Oosthuizen.

Die woorde “Jehovah-Nissi. (Exodus 17:15b)” is op die hoeksteen aangebring. “Jehovah-Nissi is die naam wat Moses aan die altaar gegee het wat hy opgerig het ná ʼn persoonlike oorwinning. Dit beteken: ‘Die Here gee my die oorwinning.’”

Volgens Oosthuizen is die kerkgebou – wat rus op hierdie hoeksteen – uit granietboublokke, wat per trein ingevoer is, gebou wat in ʼn onreëlmatige vormklipverband ingemessel is wat vandag ʼn seldsame boukunstegniek is.

Oosthuizen beskryf die kerk as ʼn argitektoniese en historiese juweel vir die inwoners van Laingsburg en ʼn erfenis vir die res van Suid-Afrika.

Hy beskryf dit ook as merkwaardig dat die gebou staande gebly het ná die Buffelsrivier in 1981 oorstroom het, wat gelei het tot die historiese Laingsburg-vloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

philippus ·

Jehova-nissi . Wonder hoekom het God se naam verander. Het die ANC in die Hemel ook oorgeneem. Vandag is die woord Jehova n vloekwoord in die NG Kerk.

Nico ·

Duidelik verstaan jy nie Hebreeus nie, gaan doen ‘n bietjie navorsing.

Piet Snot ·

Philippus, jy’s oningelig en verkeerd.
Jy moet wyer lees.

Louise ·

Ag vergewe maar die kerktannies, hulle het gedink dis ‘n cake lifter. Seker deurmekaar geraak by iemand se begrafnis. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.