NGV: Jare om ʼn elektroniese pasiëntstelsel te ontwikkel

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Belastingbetalers sal oor die volgende vyf jaar sowat R1,5 miljard moet opdok om ʼn geïntegreerde elektroniese gesondheidsrekordstelsel vir staatsgesondheid te ontwikkel. Dit sal waarskynlik ʼn verdere R1,5 miljard kos om dit te implementeer.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het in reaksie op ʼn geskrewe parlementêre vraag van die DA aangedui sy departement het nog nie bepaal wat die implementering van die stelsel sal kos nie.

“Dis ondanks die feit dat dié stelsel ʼn vereiste is van die Wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering wat die ANC deur die parlement probeer stoomroller,” sê Michele Clarke, die DA se skaduminister oor gesondheid.

Behoorlike rekordhouding van pasiënte is ʼn noodsaaklike element om gehaltegesondheidsorg te verseker en die ontwikkeling en implementering van só ʼn stelsel sal beslis van hulp wees in die holistiese behandeling van pasiënte en om regsgeneeskundige eise weens mediese nalatigheid te verminder.

“Die departement van gesondheid se bestuur van data was egter nog altyd problematies,” sê Clarke. “Minister Phaahla het tydens sy antwoord gesê geen regsgeneeskundige sake is na die gesondheidsbedryf se teenkorrupsieforum (HSACF) verwys sedert dit in 2018 tot stand gekom het nie. Alhoewel dit vreemd en kommerwekkend sal wees indien dit die waarheid is, het die HSACF sukses behaal wanneer dit bedrieglike regsgeneeskundige eise moes hanteer, insluitend die saak van ʼn Oos-Kaapse prokureur wat in hegtenis geneem is vir drie aanklagte van bedrog ter waarde van meer as R100 miljoen.”

Die HSACF is ʼn groep belanghebbendes van wetstoepassers insluitend die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), burgerlike samelewing, gesondheidsbedryfreguleerders, die privaat sektor en die nasionale departement van gesondheid.

“Minister Phaahla se reaksie op die DA se vraag dui op twee dinge: óf sy departement is onwillig of onbekwaam om te voldoen aan die parlement se oorsigmeganismes en strukture, óf hy weet nie hoe om noodsaaklike data te bestuur en toegang te bekom daartoe nie. Hoe verwag die departement en provinsies om die skerp toename in regsgeneeskundige eise die afgelope paar jaar te hanteer as daar nie eers geloofwaardige inligting verskaf kan word op ʼn eenvoudige parlementêre vraag nie?”

Clarke sê die departement se versuim in dié verband is ʼn groot aanduiding van die chaos wat sal heers indien die ANC suksesvol sal wees om die ongrondwetlike wetsontwerp deur te stoomroller. “Die ANC het nog altyd baie leë beloftes gemaak. ʼn Paar provinsies se gesondheidsbegrotings word reeds oorweldig deur regsgeneeskundige eise. Die HSACF is met groot ophef van stapel gestuur, en tog kan die nasionale departement van gesondheid – ʼn belanghebbende – nie geloofwaardige inligting bekom nie, en het skynbaar ook nie die inligting bevraagteken wat van provinsies af bekom is nie. Hoe op aarde sal die NGV – die volgende sogenaamde wonderkuur – enigsins anders wees?”

Clarke sê tensy die regering nie die basiese dinge soos infrastruktuur, personeeltekorte, agterstande en gevolgebestuur regruk nie, sal die NGV nooit suksesvol wees nie. “Dit word gebou op ʼn fondasie wat stelselmatige uitgekalwe is deur kaderontplooiing, korrupsie en onbekwaamheid en in plaas daarvan om die probleme te takel, wil die departement dit net ʼn nuwe laag verf gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.