Nie meer plek vir ’n muis in Nelspruit

Foto: GB Jordaan.

Die son skyn vanjaar inderdaad helder op rugby in Mpumalanga. Nie net is die Pumas vir die eerste keer in die unie se geskiedenis die Curriebeker-kampioenspan nie, maar hul o. 18-Cravenweekspan was ook bielies by die nasionale week.

O ja, dan speel die Springbokke nog boonop hierdie naweek teen die All Blacks in Nelspruit. Die indrukwekkende Mbombela-stadion spog met ’n kapasiteit van 43 000 en elke liewe kaartjie vir die toets is reeds opgeraap.

“Die toets beteken nie net baie vir rugby in die provinsie nie, maar is ongetwyfeld ook ’n welkome ekonomiese inspuiting. Wat verblyf betref is daar nie plek vir ’n muis in Nelspruit nie, terwyl die restaurante ook vol bespreek is,” sê Marius van Rensburg, Mpumalanga-rugbyunie se gewilde uitvoerende hoof.

Hy is juis besig om met die Curriebeker-trofee deur die provinsie te toer en ’n mens kan die opgewondenheid in sy stem hoor wanneer hy oor Saterdag se groot toets gesels.

Die Springbokke het immers ’n onoorwonne rekord in die Laeveld nadat hulle reeds met Skotland, Wallis en Argentinië op die Mbombela-stadion klaargespeel het.

Die indrukwekkende Mbombela-stadion. Foto: Verskaf.

“Ons is baie bevoorreg om ’n stadion van internasionale gehalte te hê en ek is veral trots op die speeloppervlak wat baie goed onderhou is.”

Rieko Ioane, die briljante All Blacks-agterspeler, het vroeër die week ook gesê dat die Nieu-Seelanders opgewonde oor hul Laeveldse safari is.

“Dit is anders hier as in die plekke waar ons normaalweg speel – soos Kaapstad en Johannesburg – en dit is selfs iets nuuts vir ons meer ervare spelers. Ons is egter opgewonde oor die uitdaging en kan nie wag om te speel nie,” het Ioane gesê.

Natuurlik hou Van Rensburg saam met duisende ander Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners duim vas dat die Springbokke ook met die All Blacks in Nelspruit sal afreken.

Hy het terselfdertyd ook die hoop uitgespreek dat SA Rugby dit sal oorweeg om die Springbokke weer na Nelspruit te bring.

Maar op watter prestasie is hy die trotsste – die Curriebeker-triomf of die geskiedkundige toets tussen die Springbokke en die All Blacks in die provinsie?

“Vanjaar is beslis ’n suksesvolle jaar vir die Pumas. Alles het in 2022 gebeur; dus is ek ewe trots op al twee unieke gebeurtenisse!” skerts hy.

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en selfs al het jy nie ’n kaartjie nie kan jy die wedstryd regstreeks op SuperSport volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

H.A. ·

Hoe gaan ek nou rugby kyk of luister- loadshedding het ingetree!

krodedil ·

‘n Ware opregte “All Black” ondersteuner sal ‘n plannetjie maak

Voilet ·

Hierdie bokkies is op die slagveld. Hul gaan geslag word deur die AB

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.