Nios weerlê ‘vals berig’ oor koronasterfte in die Kaap

Die koronavirus (oftewel 2019-nCoV) (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Woensdag “vals inligting” wat op Twitter versprei word dat ʼn persoon in die Wes-Kaap weens die nuwe koronavirus (2019-nCoV) gesterf het, weerlê.

“Ons neem kennis van vals inligting op Twitter wat deur die gebruiker @MarkSmit222 versprei word dat daar ʼn COVID-19-sterfte in die Wes-Kaap is,” het Sinenhlanhla Jimoh, senior woordvoerder van Nios, in ʼn verklaring gesê.

“Ons kan bevestig dat daar geen positiewe geval van COVID-19 of enige sterfte tot dusver in Suid-Afrika was nie. Ons versoek die publiek om gerugte van dié aard te verwerp en ons ontmoedig die verspreiding van vals inligting.”

Jimoh het gesê indien daar ʼn positiewe geval in Suid-Afrika aangemeld word, sal amptelike inligting deur die nasionale departement van gesondheid, die Wêreldgesondheidorganisasie en Nios bevestig word.

Suid-Afrika bly op ʼn hoë gereedheidsgrondslag vir enige vermoedelike gevalle wat deur sy grense kan inkom, het sy gesê, maar geen positiewe gevalle is tot dusver aangeteken nie.

“Altesaam 63 toetse vir COVID-19 is tot en met 12 Februarie 2020 gedoen en dit was almal negatief. Die Nios kan bevestig dat Suid-Afrika nog nie ʼn bevestigde geval van COVID-19 het nie.”

Die nasionale nooddienssentrum by die Nios bly geaktiveer en ontvang steeds inligting deur die 24 uur-kontaklyn en die algemene nommer vir die publiek. “Die publiek kan enige tyd tussen Maandae en Vrydae, 08:00 – 16:00, die algemene nommer 011 386 2000 skakel. Oproepe buite kantoorure sal na die Gautengse nooddienste verwys word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Indien die Instituut,soos ander deur Korrupsie bestuur word, kan ons hulle glo?

HOOP ·

Is dit werklik moontlik dat Afrika nie een voorval het nie , Europe daagliks maar Afrika (Suid Afrika) niks nie , die dag as NIOS wakker skrik gaan dit te laat wees vir ons. Dalk is ons Afrika gene so sterk dat die virus ons nie aantas nie.

Leonie ·

Ek kan regtig nie glo dat daar wraggies nie een geval in SA is nie. Ons mediese velde is deesdae so swak, weet hulle ooit hoe om reg te toets vir die virus?? Maak mens nogal bekommerd…..

Werner ·

Nou wanneer moet ons dit begin glo as die lyke in die strate begin le hulle kan nie eens bek en klou seer beheer nie nou moet ons hulle glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.