President Jacob Zuma het gesê hy is vol vertroue dat die parlement die verslag oor opgraderings by sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal doeltreffend sal hanteer, het die SAUK Vrydag berig.
“Die saak is nou in die parlement se hande,” het hy aan die nasionale uitsaaier gesê. “Ek is oortuig dat die parlement, die hoogste vlak wat hierdie aangeleenthede hanteer, die tyd sal neem en die saak sal afhandel, sodat hierdie hoofstuk afgesluit kan word.”
Zuma het Donderdag sy antwoord by die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, ingedien in antwoord op drie verskillende ondersoeke oor opgraderings ter waarde van R246 miljoen by Nkandla.
Zuma het onder meer in sy antwoord aanbeveel dat die ministers in die veiligheidsgroepering en die minister van openbare werke aan die kabinet verslag moet doen oor hul rolle en verantwoordelikhede rakende die president, adjunkpresident en hul voorgangers se veiligheid.
Hy het ook aanbeveel dat Thulas Nxesi, die minister van openbare werke, dringend aan die kabinet verslag moet doen rakende die hersiening van die protokol en prosedures ten opsigte van verkryging, uitgawes en die toesighouding wat van toepassing is op prestige- en verwante projekte.
Thuli Madonsela, die openbare beskermer, het in Maart vanjaar ʼn verslag vrygestel waarin bevind is dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die opgraderings aan Nkandla. Sy het aanbeveel dat hy ʼn gedeelte van die bedrag moet terugbetaal.
Lees ook:
Zuma probeer aanspreeklikheid vermy, sê DA
Zuma antwoord op Nkandla-verslae