Nog 9 lewens op paaie geëis

Die ongelukstoneel op die R59 tussen Vereeniging en Sasolburg. Foto: ER24

Nog nege mense, onder wie ʼn kind, het Sondagoggend die lewe gelaat in twee verskillende padongelukke.

Een van dié ongelukke het net voor 07:00 op die R59 tussen Vereeniging en Sasolburg gebeur toe twee voertuie reg van voor gebots het. Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê by paramedici se aankoms op die toneel het hulle die erg beskadigde wrakke van die twee voertuie in die pad aangetref.

“’n Vrou en ʼn jong kind is in een van die voertuie aangetref. Hulle het reeds aan hul veelvuldige beserings beswyk. ʼn Passasier in die tweede voertuig het ook reeds voor paramedici se aankoms gesterf,” sê Vermaak.

Twee vroue in die tweede voertuig het kritieke beserings opgedoen. Een van die vroue is per helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem, terwyl die ander vrou per ambulans na ʼn hospitaal gehaas is.

Die ongelukstoneel op die R59 tussen Vereeniging en Sasolburg. Foto: ER24

Volgens Vermaak het ses ander mense geringe tot matige beserings opgedoen en is hulle op die toneel behandel voordat hulle na hospitale geneem is.

In Noordwes het ses mense omstreeks 08:00 in ʼn grusame ongeluk op die R49 naby Ottoshoop tussen Mahikeng en Zeerust gesterf. Thabo Sematle, direkteur van kommunikasiedienste in die provinsiale regering, sê vier van die oorledenes het op die toneel gesterf, terwyl twee in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Volgens Sematle is verkeersbeamptes, die polisie en dr. Mpho Motlhabane, die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, tans op die toneel.

Meer inligting oor dié ongeluk sal later bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wessel ·

Ek lees met groot hartseer van die verwoestende padongelukke orals in die land Ons reis tans deur die Oos Kaap en het in 400 km nog geen verkeerskonstabel gewaar nie Wil net byvoeg dat mense openlik drink by ry stoppe vulstasies en unineer langs paaie en teen hoe snelhede jaag Ons paaie is net soos die land lewensgevaarlik en chaoties Die hoe dodetal op die verbaas my glad nie

Abe ·

Wessel,
‘n Mens moet eenvoudig met jou saamstem: mens kry die indruk dat daar geen ordentlikheid meer in ons padgebruikers is nie. Dit skep n algemene toestand van wetteloosheid wat natuurlik weer op sy beurt die hele pad/reis omgewing uiters onaangenaam en lewensgevaarlik maak.

PJC ·

Ek dink die drie hoofoorsake van ongelukke is taxis, drank en spoed. Dit is ongelooflik watter spoed mense ry op paaie wat nie geskik is daarvoornie. Nog ń bydraende faktor is vragmotors. Die owerhede is egter bang of nie bereid om prbleme te erken nie want hulle wil tog net nie ongewild wees voor die volgende verkiesing nie.

jj ·

die punt is as jy nie gestraf word vir jou sonde nie bly jy sonde doen……… die owerhede skree heeltyd mense luister nie en daarna wil almal se hoe sleg is dit…….. neem verantwoordelikheid en word aanspreeklik as jy verkeerd is dan sal dit minder word maar dit sal nooit weggaan nie

Abe ·

Petra,
Wat ‘n verfrissende kommentaar: Iemand wat iets mooi kan waardeer.

Wessels ·

En so staan daardie wrak weereens op ‘n duidelike soliede dubbel witlyn…. Ai…

Annie ·

Hier by ons word daar sommer gedrink terwyl die taxi bestuurders die kinders by die skool gaan oplaai. En die musiek is so hard al gewonder hoeveel kinders sit met gehoor probleme.

Abe ·

Annie,
Aag dis nog niks (ons omgewing is tog woester as julle s’n) nou die dag het iemand ‘n bottel by ‘n voertuig se venster uitgegooi wat my motor skramps getref het. Ek was te bang om uit te klim om ondersoek na die skade in te stel.

Charlotte Rossouw ·

Ek het gister op die R59 gereis, my ondervinding….geen respek vir mede padgebruikers nie
Bestuurders is ongeduldig onverantwoordelik
Geen spoedgrens word gehandhaaf nie
Selfone selfone wanneer gaan ons ag slaan op waarskuwings
NB…verskeie voeruie waar kinders in motors voor sit op ouer se skoot of agter staan…..geen ouer wat dit toelaat kan vir my sè hy/sy het sy kind/ers lief nie….anders sal jy die verantwoordelike ding doen…gordel jou kinders vas
Laastens…..bestuurders wat met noodflikkers in die vinnige baan 60km bestuur…..terwyl dit lyk of hul half slaap..

Reti ·

Die spesifieke stuk pad gaan nog baie meer mense eis. Maak hom 2 bane in albei rigtings. Dis baie besige pad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.