Nog drie kry borgtog in Thabo Bester-saak

Senohe Matsoara en Teboho Lipholo op 12 Mei 2023 in die Bloemfonteinse landdroshof. (Foto: Becker Semela / GroundUp)

Nog drie medebeskuldigdes in die Thabo Bester-ontsnappingsage is op borgtog vrygelaat.

Luidens regter Joseph Mhlambi se uitspraak is Senohe Matsoara, voormalige bewaarder van G4S, Tebogo Lipholo, kringtelevisiekamera-operateur, en Tieho Makhotsa, ’n beheerkameroperateur, elk op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die uitspraak is Woensdag in die hooggeregshof in Bloemfontein gelewer.

Mhlambi het gesê die drie beskuldigdes is nie ’n vlugrisiko nie en is ook nie ’n bedreiging vir die getuies nie.

Matsoara, Lipholo en Makhotsa se borgtogvoorwaardes behels dat hulle Maandae tussen 06:00 en 18:00 by die Kagisanong-polisiestasie moet aanmeld. Hulle mag ook nie direkte of indirekte kontak met die staatsgetuies hê nie.

Verder mag die beskuldigdes nie die Bloemfontein-omgewing sonder geskrewe toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.

Thabang Mier, nog ’n bewaarder van G4S, is Maandag op borgtog vrygelaat.

Die twee ander persone wat saam met Mier in die hof verskyn het, Joel Makheta en Moeketsi Ramolula, sal eerskomende Dinsdag weer in die hof verskyn vir hul formele aansoek om borgtog.

Die res van die beskuldigdes sal na verwagting weer op 8 Augustus in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 12 persone is reeds in hegtenis geneem in verband met die voorval. Al twaalf beskuldigdes sal na verwagting op 8 Augustus saam in die hof verskyn.

Thabo Bester in die hof (April 2023) (Foto: AFP)

Die meeste van die beskuldigdes was werknemers van die G4S- private veiligheidsmaatskappy toe Bester sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verdwyn het.

ʼn Verbrande liggaam is in Mei verlede jaar in sel 35 aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het. Die liggaam is intussen geïdentifiseer as dié van Katlego Bereng Mpholo.

Bester, wat die Facebook-verkragter gedoop is, is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy slagoffers op dié sosialemediaplatform gelok en hulle dan verkrag en beroof het. Hy het minstens een van sy slagoffers vermoor.

Diegene wat tans vervolg word vir hul beweerde betrokkenheid by Bester se ontsnapping sluit in Bester se vriendin dr. Nandipha Magudumana; haar pa, Zolile Sekeleni; voormalige werknemers van die Mangaung-gevangenis, Senohe Matsoara, Monteyani Masukela, Tieho Makhotsa en Nastassja Jansen; Teboho Lipholo, ʼn voormalige werknemer van die kringtelevisiediensverskaffer Integritron Security Solutions; en Zanda Moyo, ʼn Zimbabwiër.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Die klomp kry ook als reg ek is seker hul n paar rand gekry vir die ontsnapping

My siening ·

Dis n skande hoe hierdie kriminele bevoorreg word deur die staat en kyk mooi die Zuma taktiek gaan nou begin en 2030 word saak net uitgegooi of van rol geskrap want regerings amptenare is betrokke en ook groot geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.