Nog geen teken van vermiste Pta-man

Beyers Coetzee (57) het in die see by Koffiebaai verdwyn toe hy sy vriende wou help. (Foto: Verskaf)

Die Pretorianer wat op 19 Maart in die see by Koffiebaai in die Oos-Kaap verdwyn het, word nog steeds vermis.

Beyers Coetzee se gewese vrou, Ronel, het Maandag aan Maroela Media gesê dat daar nog geen nuus oor hom is nie.

Dit is ook nie duidelik of die soektog na Coetzee tans voortduur of intussen afgelas is nie. Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag in dié verband gereageer nie.

Coetzee, ʼn IT-spesialis, word al langer as ʼn week vermis nadat hy onder die water verdwyn het toe hy twee vriende te hulp wou snel.

Dié vriende, saam met wie hy vir die langnaweek gekamp het, is op die betrokke dag deur ʼn brander van hul kajak afgeslaan. Coetzee het ten tyde van die voorval op die strand gesit en die see sonder ʼn lewensreddingsbaadjie ingevaar om sy vriende te probeer red.

Hy het glo suksesvol tot by die kajak geswem en opgeklim, maar is kort daarna ook omgeslaan. Sy vriende het sowat 30 minute later veilig uit die see gekom, maar Coetzee is sedertdien nog nie weer gesien nie.

Die polisie, lede van die publiek en die nasionale seereddingsinstituut se soektog na Coetzee het tot dusver nog niks opgelewer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.