Nog insette oor omstrede Bela-wet gesoek

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Daar is nog kans om jou stem oor die omstrede Bela-wetgewing te laat hoor.

Openbare sittings, waar Suid-Afrikaners mondelinge insette oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys kan lewer, word volgende maand hervat.

Die sekretaris van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderrig het pas dié kennisgewing met datums en lokale bekendgemaak.

Openbare verhore is enkele weke gelede uitgestel.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê Suid-Afrikaners behoort dié geleentheid om standpunt teen die wet in te neem met albei hande aan te gryp.

“Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes hulle so sterk moontlik teen die konsepwet uitspreek om te voorkom dat dit in die huidige formaat aanvaar word.”

Die Bela-wetsontwerp het ten doel dat skole se taal- en toelatingsbeleid deur landswette gerig word en nie deur skole se beheerliggame nie. Die regering kry egter sedert die aankondiging van die wetsontwerp die wind van voor daaroor en verskeie rolspelers meen dat dit ʼn direkte aanval op Afrikaans, asook moedertaalonderrig, is.

Verskeie organisasies, waaronder AfriForum, glo dit sal beter wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin.

Bailey het Dinsdag daarop gewys dat die wysigingswetsontwerp artikels bevat wat ʼn groot bedreiging vir die toekoms van gehalte-onderrig én Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou.

“Tans berus die finale besluit hieroor by skole se beheerliggame, maar die konsepwet bepaal dat die besluitnemingsmag by provinsiale onderwyshoofde moet lê. Dit beteken magsentralisasie in die hande van die staat, ten koste van gemeenskappe se reg om self oor hul kinders en skole se belange te besluit.”

Bailey sê dat die onderwysveld die afgelope paar jaar ingrypend verander het weens die nuwe leerpatrone wat tydens die Covid-19-afsondering gevestig is, tegnologie wat daarmee saam ontwikkel het en kwessies soos taalregte waaroor daar meer insig ontstaan.

“Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink en met nuwe voorstelle vorendag te kom, eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dir regime slaan die kitaar en die res van ons dans, net te dankbaar.

Hendrik ·

Alle ouers moet dit duidelik verstaan, hd omsrede Bela wetgewing beteken niks minder dat jou kind staatseiendom word. Eie aan ongenaakbare kommunisme.

Nico ·

Graag wil ek net weet, besef die ANC hoeveel geld was daar gespandeer om swart skole te bou en in stand te hoe, hospitale is ook verbeter, kyk lyk dit nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.