Nog ʼn brand in Houtbaai: Oplossings is min

Herbouing vind plaas in Imizamo Yethu na ‘n brand op 6 September 2020. Foto: Eunize Stoltz

Minstens 265 strukture is vernietig en meer as 1 000 mense is dakloos gelaat nadat ʼn brand in die informele nedersetting Imizamo Yethu in Houtbaai in die Wes-Kaap uitgebreek het.

Roberto Quintas, wykraadslid vir Houtbaai, sê die aantal mense wat dakloos gelaat is, kan verder styg soos inwoners wat die gebied tydelik verlaat het, byvoorbeeld vir werk of ʼn begrafnis, na hul huise terugkeer.

ʼn Brand het vroeg verlede Sondag in Molokoanestraat in Imizamo Yethu uitgebreek waarna dit na ander dele versprei het. Jermaine Carelse van die Stad Kaapstad se brand‑ en reddingsdienste sê brandbestryders van Houtbaai was eerste op die toneel en was weens sterk winde gedwing om bykomende hulpbronne aan te vra. Versterkings is vanaf 14 verskillende stasies na die gebied ontplooi waarna die brand sowat 10 uur later geblus is.

Volgens Quintas word die oorsaak van die brand aan nalatigheid toegeskryf. “Die brand is veroorsaak toe ʼn vuur wat vir kookdoeleindes gebruik was, sonder toesig gelaat is.”

Hulpverlening

Opruimingswerk duur voort. Foto: Eunice Stoltz

Dit is nie duidelik of die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) al hulp aan brandslagoffers verskaf het nie.

Quintas sê die Stad Kaapstad werk sedert Sondag nou saam met verskeie niewinsgewende organisasies in die gebied, gemeenskapsleiers asook korporatiewe instellings om verligting vir inwoners te bring.

Opruimingswerk wat reeds vroeg die week begin het, duur voort, terwyl noodboumateriaal reeds aan verskeie brandslagoffers uitgedeel is. Dié boumateriaalpakket sluit in: vier sinkplaatmure, ses houtpanele, ʼn dak, een venster en ʼn deur.

Bety Magxaka, ʼn gemeenskapsleier wat die Houtbaai-gemeenskapsaal in ʼn hulpsentrum vir brandslagoffers omskep het, sê op haar beurt daar is uitdagings oor die uitdeel van noodboumateriaal. Magxaka verduidelik dat daar nie voorsiening gemaak word vir diegene wat strukture huur nie. Magxaka sê slegs die verhuurder kry nuwe boumateriaal, terwyl die huurders, wat in dié geval reeds vir Septembermaand huur betaal het, geen heenkome of geld meer het nie.

Volgens Quintas is inwoners nie veronderstel om strukture uit te verhuur nie. Hy sê die stad het al verskeie klagtes ontvang wat verband hou met plakkersbuurt-base wat onwettige wins uit verhuring maak, maar dat inwoners uit vrees vir viktimisering nie die base uitwys nie.

Herbouing vind plaas in Imizamo Yethu na ‘n brand op 6 September 2020. Foto: Eunize Stoltz

Nog ʼn inwoner wat gehoop het om teen Saterdag weer na haar huis terug te trek, wag nog vir ʼn deur. Sy sê verskeie inwoners het nog nie deure ontvang nie.

In reaksie hierop sê Quintas hy is nie bewus van die deure nie en dat dit deel van die boumateriaalpakket uitmaak.

Vir inwoners van Imizamo Yethu is brande ʼn algemene verskynsel. Sommige brande saai net meer verwoesting as ander. Soos in die geval van die brand op 11 Maart 2017 waarin nagenoeg 650 strukture vernietig is en duisende mense haweloos gelaat is.

Quintas wat kort voor die verwoestende brand in 2017 as wykraadslid van Houtbaai ingehuldig is, sê sedertdien was daar sowat agt brande in die gebied, waarvan meer as die helfte kleinskaalse brande was.

Anda Nyoka, oorspronklik van die Oos-Kaap, woon al die afgelope 15 jaar in die nedersetting. Hy het alles in die onlangse brand verloor. Dit is die vierde keer sedert 2008 dat al sy besittings in ʼn brand vernietig is.

Geen maklike oplossing

Pamela Voyi, inwoner kyk hoe haar huis na die brand herbou word. Foto: Eunice Stoltz

Inwoners is na die verwoestende brand in 2017 alternatiewe grond in Vrygrond naby Muizenberg aangebied waar die terrein meer toeganklik vir brandbestryders asook dienslewering is. Aanvanklik het inwoners ingestem om na die gebied sowat 20 km van Houtbaai af te verhuis, maar het kort daarna weer geweier, aldus Quintas.

Hy voer aan dat die stad verskeie oplossings probeer vind om die uitwerking van brande op die gemeenskap te verminder, maar dat talle inwoners weerstand bied.

ʼn Model wat reeds in groot dele van Imizamo Yethu toegepas word, is die implementering van die sogenaamde superblokstelsel. Dit behels dat plakkershutte verder van mekaar gebou word om sodoende die nedersetting meer toeganklik te maak en ruimte te bied dat wanneer ʼn brand uitbreek inwoners die struktuur makliker kan afbreek en kan voorkom dat die brand verder versprei. Die stelsel maak ook voorsiening dat stormwaterpype, elektrisiteit- en sanitasiegeriewe opgerig kan word.

“Dit is ʼn suksesvolle stelsel wat reeds in groot dele van Imizamo Yethu geïmplementeer is, terwyl inwoners in ander dele weerstand bied omdat hulle meen hulle gaan woonspasie verloor. Tesame hiermee is die terrein in sommige gebiede te steil, wat die soort stelsel net nie moontlik maak nie,” meen Quintas.

Ananda Nyoka, inwoner wie al vier keer al sy besittings verloor het. Foto: Eunice Stoltz

Intussen hoop die Stad Kaapstad om ʼn bykomende plan deur te voer deur nog ʼn pad in die nedersetting te bou. Hierdie pad sal byna die hele nedersetting omring wat brandbestryding- en diensleweringsvoertuie toegang tot die omgewing sal gee. Dit is egter nie so doeltreffend as die superblokstelsel nie.

Quintas hou vol dat weerstand vanuit die gemeenskap ongelukkig sake bemoeilik. “Die bewerings is dat baie van die gemeenskapsleiers wat meervoudige strukture in die gebied verhuur, nie wil hê inwoners moet na ander gebiede verhuis nie. Dit sal veroorsaak dat hulle onwettige inkomste verloor. Dit is die laaste ding wat hulle wil hê.”

Nog ʼn inwoner wat haar huis in die brand verloor het, Pamela Voyi, sê dit is ook die vierde brand waarin al haar besittings vernietig is. Sy voer aan die regering doen niks om hul omstandighede te verbeter nie. “Daar is geen ontwikkeling nie, net leë beloftes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Die wolf en die 3 varkies. Herbou om later weer te brand. Houtstrukture en min spasie tussen die strukture. Net soos Medfort Estates in Oregon wat ook tot as is na die bosbrand daar deur is. Houtstrukture soos te sien op hul webblad. Mens sou verwag dat na so ‘n katastrofe logiese denke en beplanning sal intree.

Is jy seker? ·

‘n Baksteen huis in die VSA is skaars soos hoender tande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.