Nóg ʼn DA-grootkop verlaat die party

Dan Plato toe hy in 2018 as Kaapstad se nuwe burgemeester ingehuldig is. (Foto: Stad Kaapstad/Twitter)

ʼn Toonaangewende politikus en lid van die Wes-Kaapse regering het Dinsdag aangekondig dat hy die DA verlaat om hom by Marius Fransman se People’s Movement for Change aan te sluit.

Dan Plato het voorheen vir twee termyne as burgemeester van Kaapstad gedien en was tot gister nog lid van die Wes-Kaapse provinsiale parlement. Hy het ook al as die LUR vir gemeenskapsveiligheid gedien.

Die DA het in ʼn kort verklaring kennis geneem van sy bedanking en hom alle sterkte toegewens vir sy toekomstige ondernemings.

“Ons bedank hom vir sy jare van diens, aan die DA én op verskillende regeringsvlakke,” het Tertuis Simmers, provinsiale hoof van die DA, gesê.

Volgens News24 het Plato besluit om die DA te verlaat omdat dié party (volgens hom) nie meer tot die armes en werkersklas spreek nie. “Die DA het wegbeweeg van sy verbintenis om die mees kwesbares in die samelewing te dien. Dit wil voorkom of die party stemme stilmaak wat nie ooreenstem met ʼn sekere kliek nie en kritiese uitreikprogramme wat bystand aan die armes moet verleen, word tans in die Stad Kaapstad gekanselleer.”

Fransman is ʼn oud-ANC-lid wat tot 2016 die voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap was. Hy het egter verlede jaar die PMC gestig, met die fokus op bemagtiging en om probleme in die plaaslike gemeenskap op te los.

Plato is die mees onlangse DA-leier wat die party, kort voor die nasionale verkiesing, verlaat het.

Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder van onderwys in Gauteng, het ook in Januarie uit die party bedank om hom by die nuwe party, Rise Mzansi, te skaar. Ghaleb Cachalia, voormalige DA-skaduminister vir handel en nywerheid, het drie weke gelede sy sakke gepak. In ʼn verklaring wat op 18 Januarie uitgereik is, het hy gesê dit is omdat die DA nie ooreenstem met sy siening en uitsprake rakende die oorlog in Gaza nie.

Sy bedanking kom sowat twee maande nadat die DA hom uit die skadukabinet geskop het – juis oor die uitlatings wat hy in die openbaar oor die voortslepende konflik in die Midde-Ooste gemaak het. Cachalia het onder meer gesê dat Israel besig is om volksmoord te pleeg en dat hy nie “stilgemaak sal word nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Elmarie ·

Jaaaa wat, laat die dislojales en die flip en floppers padgee. No harm done

Danie ·

Die DA kan nie praat van teleurstellings van die ANC nie. Hulle doen dieselfde deur hul rug op die armes te draai. Ek persoonlik gaan ook nie weer vir die DA stem nie, inteendeel stem ek vir geen politieke party meer.

Delia ·

@Danie. Jy gaan geen party kry waarmee jy 100% saam stem nie. Maar ons moet stem
Anders stem jy indirek vir ANC.

Anonymouse ·

Die DA gaan ‘n harde pak slae kry in die opkomende verkiesing. Dis net ‘n kwessie van tyd voor die EFF die opposisie party is, en die DA kan net hulle self daarvoor blameer.

Ore ·

Is daar probleme in die DA? Is die aantygings wat gemaak word teen die leierskorps dalk waar? Hoekom nou skielik? Mens wonder net

Casper ·

‘Geen lojaliteit nie’, sny na beide kante waar kiesers met reg vra waar is die lojaliteit aan die getroue kiesers vanaf die party vir wie hulle vir die laaste dertig jaar gestem het? Ek tel ‘n algemene gevoel op onder kiesers van verskeie partye dat hulle voel die party doen niks vir hulle nie en beloftes word nie nagekom nie. Oënskynlik is dit ‘n sentiment wat sommige in die leierskorps ook ervaar.

Fubar ·

Dis tyd dat ALMAL die DA verlaat. Kyk net na die gemors wat hulle met Tshwane aangevang het.

Catherina ·

Ongelukkig baie waarhede hierbo genoem. GOEIE mense het ,/ moes DA verlaat. Sal nogsteeds vir hulle stem maar party nie meer wat dit was nie

George ·

Delia en kie, om nie te stem nie is NIE n stem vir die ANC nie. Jou reg om NIE te stem nie, is net so groot soos jou reg om te kan stem.

George ·

@Jack, loyalty vir n party wat klomp ja-broers is met enige kwessie? As jou werksplek verander, en dit nie meer werk vir jou nie, gaan jy bly, of gaan jy beter geleentheid soek?

Oosieoos ·

Marius fransman wat a grap ongelooflik die ou is nog erger as rampie mens kan maar net lag hy sal nerens kom nie totaal onvertroubaar. Daar is ander goeie keuses as jy dan ongelukkig is

Gerhard ·

Die heel grootste probleem is SA, soos ek alreeds ‘n vorige keer gese het, hier is heeltemal te veel verskillende partye. Dit bring so baie verdeeltheid in totaliteit in SA. Ek wil nie graag die VSA as voorbeeld gebruik nie, aangesien hulle seker op ander maniere as ons werk, maar daar is 2 partye. Dit werk, so, waarom moet ons dan met so baie partye sit, waarvan daar eintlik baie is wat dieselfde kultuur het, maar hulle wil appart funksioneer. Ai, die politiekery maak mens skoon moedeloos.

Lettie ·

Gerhard, dis soos ons almal voel: MOEDELOOS GESPARTEL om die wêreld ‘n beter blyplek te maak. Al die gepraat en bespiegel …

Pierre ·

Politiek is hulle werk, in besigheid beweeg mense ook tussen werkgewers en dit het niks met lojaliteit te doen nie.

Johan ·

Akkoord met Delia en Sandra. Heeltemal korrek. @George, om nie te stem nie is nie n stem vir die anc nie, soos jy sê, màar dit bevoordeel die anc. Praat met n kenner, ek kan nie dit alles hier verduidelik nie. Stem dan vir enige ander party as jy nie vir die DA wil stem nie (behalwe anc of eff), maar stem net asb!

Martie ·

Daar moet net twee partye wees. Hierdie ander is skarrelaars vir geld. Die politiek is deesdae jou werkplek waar jy miljoene verdien vir niks doen. Almal nutteloos.

Danie ·

Politikuste en Predikers is dieselfde. Hulle kyk net waar hulle die meeste mense kan verneuk vir geld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.