Cachalia uit DA se skadukabinet geskop

Ghaleb Cachalia (Foto: DA)

Die DA het sy woordvoerder vir openbare ondernemings uit sy amp verwyder oor uitlatings wat hy oor die konflik tussen Israel en Gaza gemaak het.

Die party het gesê daar is ooreengekom dat lede van die party hulle sou weerhou van “openbare uitlatings wat daarop gemik is om verdere verdeling aan te blaas”, en dat Ghaleb Cachalia versuim het om dié ooreenkoms na te kom.

Cachalia het Dinsdag op die sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) uitgevaar teen die situasie in die Midde-Ooste deur te sê dat hy hom nie sal laat stilmaak nie, en dat Israel besig is om volksmoord te pleeg.

John Steenhuisen, leier van die DA, het in ʼn brief ʼn paar dae later Cachalia in kennis gestel dat sy openbare uitlatings oor die situasie die rede is waarom hy nie voorts as woordvoerder van openbare ondernemings vir die DA sal optree nie.

Cachalia gaan eerder nou sy “wetgewende en toesighoudende pligte uit die agterbanke” voortsit.

Steenhuisen voer aan dat daar in gesprek getree is met Cachalia oor sy bewerings dat hy “stilgemaak” word, asook sy “verontagsaming van ʼn koukusbesluit” oor die DA se standpunt oor die konflik waaraan hy twee weke vantevore deel gehad het.

“Steeds was jy opstandig,” het Steenhuisen aan Cachalia gesê.

“Dit het daarna geblyk dat jy ook die media hieroor betrek het op ʼn manier wat verder verdeeldheid aangewakker het.”

Volgens Steenhuisen was Cachalia “selfsugtig” om die uitlatings te maak, en het hy ʼn formele besluit deur die DA verontagsaam.

Ná die terreuraanval op Israel het die DA ooreengekom dat hy ten gunste is van ʼn twee-staat-oplossing, maar dat humanitêre hulp ten alle tye vir Gaza beskikbaar moet wees. Die DA se woordvoerder vir internasionale betrekkinge en samewerking sou ook as woordvoerder oor die situasie opgetree het.

Steenhuisen het aan Cachalia geskryf dat sy optrede “ʼn koukusbesluit opsetlik verontagsaam” en dat dit Steenhuisen se leierskap ondermyn wat “onbetaamlik is vir iemand wat ʼn senior pos in my skadukabinet beklee”.

Volgens die DA is dit die ANC se versuim om teen kabinetslede op te tree een van die redes waarom Suid-Afrika tans in alle soorte krisisse sit.

“Een van die DA se doeleindes met die skadukabinet is om te demonstreer dat ons party anders is. Enige optrede deur lede van die DA se skadukabinet wat, soos die ANC se kabinet, die strewe na enige eiebelang bo die gemeenskaplike belang demonstreer, moet dus deur gepaste optrede regverdig word,” het Steenhuisen gesê.

Cachalia het in reaksie op die gelekte brief gesê dat hy nie met Steenhuisen se weergawe van gebeure saamstem nie, maar dat hy nie hare gaan kloof oor wie wat gesê het nie.

“Ek bly getrou aan die waardes en beginsels van die DA,” het hy gesê.

“Ek sal voortaan ʼn wakende oog oor menseregtevergrype hier en wêreldwyd hou, en sal my deurgaans daarvoor beywer om die waarheid te laat seëvier.”

Steenhuisen het gesê dat hy Cachalia altyd as ʼn gerespekteerde kollega en goeie vriend beskou.

“Dit is die verantwoordelikheid van ons almal, insluitend myself, om op te tree in die beste belange van die party in die aanloop tot die belangrikste verkiesing in ons geskiedenis,” het Steenhuisen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

vuurvliegie ·

Well done DA. Reels is en bly reels. Julle het nog steeds my stem.

Cherokee ·

My stem het kulle nog nooit gehad nie, DA, maar in hierdie geliberaliseerde land, begin julle na die enigste moontlike alternatief lyk.

Willem Wikkelspies ·

Welgedaan! Hierdie is die tipe optrede wat ek wil sien van die party waar my steun heen gaan. Bou so voort!

annie ·

Ongelukkig gaan dit verrykende gevolge vir die DA hê… En vir die hele land. Die oorlog in Israel is nie ‘n agterstraat-bende-opstootjie nie of kinders op ‘n kerkpiekniek wat oor ‘n ballon baklei nie…

Frank ·

Een mens wat uitgekop word omdat formele beleid verontagsaam het gevolge he vir die Da en hele land? Klink tipies van mense wat heeldag op stoep sit en babbel oor enigiets onder die son

tweeling ·

Gaan sit maar op die agterbanke want jy wil nie hoor nie. Hoop jou salaris vat ook ‘n duik.

AREND1 ·

Mooiso DA dis reg en hulle moes hom heeltemaal uit die party geskop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.