Nóg ʼn dodelike ongeluk eis lewe van ses

Vier vroue en twee mans het in die ongeluk omgekom (Foto: Verskaf)

Ses mense is dood toe twee voertuie Sondagaand op die N1-hoofweg naby Makhado in Limpopo gebots het.

Volgens Tidimalo Chuene, woordvoerder van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, het die ongeluk omstreeks 21:00 op die pad suid van Makhado, naby die Lalapanzi-hotel, gebeur.

“’n Ligte motor het volgens berigte reg van voor met ’n ligte afleweringsvoertuig gebots nadat dit by ʼn sperstreep verbygesteek het,” sê Chuene.

“Vier vroue en twee mans het in die ongeluk omgekom.”

Vier ander mense is beseer.

“Die polisie was op die toneel en ondersoek roekelose bestuur as die moontlike oorsaak van die ongeluk.”

Florence Radzilani, LUR van die departement, beskryf die provinsie se paaie as ʼn bloedbad.

“So baie mense het hul lewens die afgelope naweek op paaie verloor,” sê Radzilani.

“Dit is ʼn pynlike, maar ook geskikte tyd om alle padgebruikers te vra om gehoor te gee aan die oproep om altyd die padreëls te gehoorsaam.”

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 12 mense Sondag in twee ongelukke onderskeidelik op die N2- en N3-snelweg in KwaZulu-Natal dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.