Vyf dood in Amanzimtoti-ongeluk

Paramedici is Sondagaand omstreeks 20:30 na die ongelukstoneel ontbied (Foto: ArriveAlive, Twitter)

Vyf mense is dood toe twee motors Sondagaand op die N2-snelweg by Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, in ʼn ongeluk betrokke was.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, is paramedici omstreeks 20:30 na die ongelukstoneel – naby die M37 in die Amanzimtoti-gebied – ontbied.

Volgens inligting was ʼn ligte motor en ʼn sportnutsvoertuig in die ongeluk betrokke.

“Vier volwassenes en ʼn vierjarige kind het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê Van Reenen.

Daar was geen oorlewendes nie.

Vroeër Sondag was daar nog ʼn gru-ongeluk in KwaZulu-Natal wat die lewe van sewe mense geëis het.

Volgens Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het ʼn minibustaxi en ʼn vragmotor omstreeks 17:30 op die N3-snelweg tussen Bergville en die Tugela-tolplaza gebots.

Ses mense is op die toneel vir ernstige tot kritieke beserings behandel.

Die oorsaak van albei ongelukke word ondersoek.

Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van die N3-tolkonsessie (N3TC), het motoriste gemaan om waaksaam en geduldig te wees en verkeersreëls ten alle tye te gehoorsaam.

Hierdie berig is gewysig sedert publikasie. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.