Nóg ʼn doodloopstraat vir Henri van Breda

Henri van Breda in Junie 2018 in die hof. Foto: Ayanda Ndamane/ANA Photo

Henri van Breda, wat skuldig bevind is dat hy sy pa, ma en broer met ʼn byl vermoor het, se aansoek is in die hoogste hof van appèl afgekeur.

Regterpresident Mandisa Maya het Woensdag sy aansoek om appèl van die hand gewys.

Drie regters van die hof het verlede jaar ook sy appèlaansoek teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging verwerp. Aansoekers kan aansoek doen by die regterpresident van die hoogste hof van appèl oor ʼn besluit wat deur die hof se regters geneem is.

Sy regspan het aangevoer dat die hof ʼn fout gemaak het deur die “omstandigheidsgetuienis” wat deur die staat voorgelê is te aanvaar en die beskuldigde bo enige redelike twyfel skuldig bevind het. Hul argumente fokus op verskeie aspekte waaronder veiligheid by die landgoed waar die Van Breda’s gewoon het. “Daar was 191 voorvalle van misdaad voor dié een wat by die polisie aangemeld is sonder enige verduideliking oor hoe die misdadigers die landgoed betree en weer verlaat het.”

Regter Siraj Desai het, nadat hy Van Breda se appèlaansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys het, gesê hy het lanklaas ʼn saak aangehoor waarin die bewyse teen die beskuldigde so sterk is soos in hierdie een. “Hierdie saak pas soos ʼn mosaïek, soos stukke van ʼn legkaart. Alles pas inmekaar.”

Desai het gesê nadat hy Van Breda se regspan se argumente aangehoor het, is hy oortuig dat daar geen oortuigende redes bestaan waarom ʼn appèlaansoek aangehoor moet word nie. Hy het gesê die staat het “onweerlegbaar” bewys dat Van Breda vir die misdade verantwoordelik is.

Van Breda is tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis met ʼn bykomende 15 jaar vir die moord op sy pa, ma en ouer broer en poging tot moord op sy jonger sussie. Hy het sy gesin in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch met ʼn byl aangeval. Sy ouers, Martin, Theresa, en sy broer, Rudi, het op die toneel gesterf terwyl Marli kritieke beserings opgedoen het. Marli het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar ly sedertdien aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van dié tragiese aand onthou nie.

Marli bly intussen onder die kuratorskap van adv. Louise Buikman. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het die kuratorskap tot 29 November 2019 verleng. Marli vier in Oktober vanjaar haar 21ste verjaarsdag.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ig ·

Die mannetjie sou n goeie minister in Zuma se parlement kon wees, probeer elke truuk in die boek net om tegnies los te kom maar sit sal hy sit.

Gert van Wierdapark ·

Die klein swerkater moet nou sy Oranje pakkie aanhou en sy tronk-straf begin uit-dien, of eerder uit-doen, want tronkvoels dien niemand nie! Wonder waar kom die geldjies vandaan vir al die regskostes. Ek glo nie die ouens werk vir n persentasie as hy onskuldig bevind sou word nie!!! He-he-he!

Thys ·

Sal ek ook graag wil weet,want ek dink sy oom is al droog wat gehelp het met geld,hy moes lankal handoek ingegooi het en sy lot aanvaar het,net jammer dat sy suster nou haar 21e verjaarsdag sonder haar ouers gaan vier

Saartjie ·

Hy hoort in die tronk hy het sy gesin vermoor.. Hy verdien nie vryheid nie

J ·

Wat as Marli haar geheu terug kry en Henry loop as n vry man uit. Het julle al daaraan gedink.

Willie ·

Wat ‘n goeie storie sal maak as dit die hele tyd die sussie was wat gemaak het of sy ook aangeval is en seker maak alles wys na haar broer. Ek kan so fliek gaan kyk. Ek praat natuurlik van fiksie en beskuldig haar nie. :-)

Eben P ·

Willie …. of sus onthou en bevestig dat klein boet die waarheid gepraat het en daar was iemand anders wat moord gepleeg het. Pappieeeee dan gaan iemand hard betaal ?

Spatare ·

Dink nie syt regtig ‘n geheue verlies nie, sy wil dalk net stilbly.

Cherokee ·

Spat are, dit is jòu mening. As daar meer mense is wat soos jy dink, wat te betwyfel is, is daar min. Wat jy sê staan op geen grond nie want as hy onskuldig was en sy kon dit bewys, sou sy dit gedoen het. As hy skuldig was en sy kon dit bewys, sou sy dit ook gedoen het.

christine ·

Hy skuldig wys geen emosies dat hy sy ouers mis .Sluit hom toe.

Saartjie ·

Ek sê hoegenaamd nie dat Henri onskuldig is nie, maar geen emosies is nie ‘n bewys van skuld nie, Christine. Onthou jy die Lindy Chamberlain-geval in Australië waar almal aanvaar het die ma is skuldig omdat daar geen bewyse was van ‘n dingo-aanval nie en die ma het deurentyd geen emosie getoon nie? Sy het ‘n tyd lank tronkstraf uitgedien.

Jare later is bewyse wel gevind en die staat moes haar ‘n mooi bedraggie skadevergoeding betaal … nie dat geld ooit kan vergoed vir haar baba wat dood is, die verguising tydens die verhoor, en die emosionele skade tydens die tronkverblyf nie!

Waarheid ·

Sorry ou bly maar waar jy is.
Jy is n gevaar vir almal.
Hoop nie jy kom ooit uit nie.

Cherokee ·

Probleem is, dit is volgens my mening onwaarskynlik dat Marli haar geheue sal terugkry. Ek was in 1977 in ‘n kop aan kop botsing waarna ek bygekom het met 100% geheue verlies. Nie eens myself geken nie. Dinge het brok vir brok terug gekom maar dit het lank geneem. Daar is egter 3 weke wat steeds weg is. Dit is op grond daarvan wat ek sê dat sy sal waarskynlik ne die betrokke aand terug roep nie.

Mariaan ·

Beslis skuldig…sies man! Sit in die tronk..gooi sleutel weg!

Mareli ·

GOED SO, gaan sit nou in die TRONK soos OSCAR en kry jou tyd verby …

Domvraag ·

Selfs Regter sê bewyse so sterk teen van Breda dat geen twyfel bestaan. Al sy appelle misluk. Almal wat saak gevolg het kon ook net tot die slotsom kom dat hy die moordenaar was.
Wonder as sy regspan nie betaling sou ontvang of hul steeds in sy onskuld sou glo?

Bella ·

Tydens die verhoor was Marli genooi om te getuig, as sy enigsins in haar boetie se onskuld geglo het (of sy nou kan onthou of nie) sou sy gaan getuig het – so ek twyfel of sy wel steeds aan geheue verlies lei, en as sy nie die aand kan onthou nie, hoekom nie in die hof gaan se sy kan nie onthou nie maar kan nie glo dat dit haar boetie sou wees nie? Nee wat, ek het twee boeties, sal my bes doen in watse omstandigehde ookal om hul by te staan…..I smell a rat

Sam Brookes ·

Regter Desai het een groteske flater begaan in sy vonnisoplegging van Henri Van Breda, naamlik dat hy beslis het dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word. Dit moes opeenvolgend gewees het. Soos sake nou staan behoort Henri na 25 jaar vrygelaat te word, nog vroeer met goeie gedrag. En psigopate in die gevangenis word gekenmerk as diegene met die beste gedrag. Hulle weet om tot eie voordeel die beste gedrag voor te sit om daardeur voordele te bekom, en natuurlik vroeere ontslag. Ek sidder om te dink dat Henry van Breda eendag ‘n vry man gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.