Nog ’n Intercape-busbestuurder geskiet

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Nóg ’n Intercape-busbestuurder is tydens die uitvoering van sy pligte geskiet.

Die betrokke bestuurder was Sondag op pad na ’n bushalte in die Kaapstadse middestad om passasiers te gaan oplaai toe ’n aanvaller skote op die bus in Jakes Gerwelweg afgevuur het. Die bestuurder van die bus is tydens die voorval gewond en sterk sedertdien in ’n hospitaal aan.

Daar was ten tyde van die aanval twee ander insittendes in die bus, maar dié is gelukkig ongedeerd.

Die busbestuurder is een van verskeie wat tydens aanvalle op die langafstandbusdiens geskiet is. Die meeste van dié gewonde busbestuurders het herstel. Bangikhaya Machana is egter in April vanjaar dood nadat hy buite die langafstandbusdiens se kantoor in Kaapstad geskiet is.

Die Wes-Kaapse premier Alan Winde het die jongste aanval Maandag veroordeel. “Hierdie lafhartige dade van geweld moet met beslissende optrede beveg word,” het die premier gesê.

Winde het ook opnuut belowe om druk op die regering, veral die minister van vervoer, uit te oefen in ’n poging om die aanvalle te stuit.

Dít nadat Winde reeds in Augustus vanjaar ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het waarin hy ’n vergadering en gekoördineerde ingryping by die openbare vervoersektor op nasionale vlak versoek het. Ramaphosa het die saak na die ministers in die veiligheidskluster verwys, “maar ons wag steeds op optrede van die minister van polisie”, het Winde Maandag gesê.

Winde sal ook vandeesweek met die bestuur van Intercape vergader en die nodige ondersteuning aan die maatskappy bied.

“Openbare vervoer is oor die algemeen in ’n skokkende toestand. Ons kan nie toelaat dat misdadigers ook anargie na die busbedryf bring nie. Duisende burgers sal in die komende dae die paaie aandurf. Hulle verdien veilige vervoer.”

Johann Ferreira, hoof van Intercape, het in Oktober vanjaar aan Maroela Media gesê die maatskappy verduur al jare lank teistering, intimidasie, geweld, voorskrifte en dreigemente deur ’n “taximafia” wat sedert 2015 ’n skrikbewind teen die maatskappy voer.

“Dit is regtig hartseer dat lewe in Suid-Afrika so goedkoop geraak het; dat dit net statistieke is,” het Ferreira tydens die onderhoud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarel ·

Tyd geword dat Partye soos die Mimister van Vervoer & Minister van Polisie gedagvaar word om verantwoordelik gehou te word..

Harley Davidson ·

Hulle moet maar belê in ‘n goeie sekuriteits maatskappy om die bestuurders en kliënte te beskerm noudat Suid Afrika nie meer polisie het nie.

Waarnemer ·

BELE EN N GOED GEFIRMULEERDE METRO POLISIEMAG OM DIE TAXI MAFIA UUT TE ROEI.

Jerry ·

Goed opgeleide wagte met vol automatiese gewere en HE Handgranate moet help.

Swerwer ·

Plaas gewapende Skerpskutters op die busse wat die gemors kan terug gee wat hul toekom.

Gert ·

Jy kan gewapende wagte op die bus he dan kaap hulle weer die bus vir die wapens. Skiet die wagte die kriminele word die wagte gearresteer. Die kriminele is baas als is in hulle guns.

Lillian ·

Gebruik die useless weermag om die busse te vergesel, hulle sit buitendien net in die kampe en word dik.

Piet parys ·

Verbied taxis want hulle sit agter die skietvoorvalle . Gee hulle n ultimatum .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.