Nóg ʼn moord in Pretoriase informele nedersetting

Die Plastic View-informele nedersetting in Pretoria. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

ʼn Man is in die Plastic View- informele nedersetting in Pretoria vermoor skaars ʼn week nadat twee vroue in dieselfde nedersetting verkrag en vermoor is, het die polisie Maandag gesê.

Dié informele nedersetting is aan die buitewyke van die Garsfontein-woonbuurt geleë.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die jongste slagoffer is met ʼn voorwerp doodgesteek.

Volgens Selepe is dié moord aan die ander kant van die nedersetting gepleeg as wat die vorige moorde gepleeg is. Die twee voorvalle is ook nie verwant aan mekaar nie, het sy gesê.

Die polisie was net verlede week op die spoor van vier mans wat na bewering verlede Woensdag twee vroue in dié informele nedersetting vermoor het.

Die vier mans word ook gesoek vir verkragting, ontvoering en sakeroof nadat hulle die betrokke dag by ʼn kroeg ingestap het. Drie vroue, die eienaar van die kroeg en twee werknemers, het in die stadium in die kroeg gewerk. Die mans het drank gekoop en wou later nog koop, toe die eienaar vir hulle sê dat die kroeg vir die aand toegemaak het. Die verdagtes het egter daarop aangedring om gehelp te word, waarna hulle ʼn vuurwapen op die vroue gerig het.

“Die verdagtes het kontant geneem en een van die slagoffers seksueel aangerand voordat hulle die eienaar (43) doodgeskiet het,” het Selepe verduidelik.

Die ander werknemer (38) is ook verkrag waarna sy ontvoer is. Haar liggaam is die volgende oggend deur gemeenskapslede aangetref.

Volgens Selepe is die gemeenskap van Plastic View verslae ná die grusame moorde.

Die informele nedersetting brei voortdurend uit om duisende mense vanaf verskillende dele van Suid-Afrika asook buurlande te akkommodeer.

Die gebied is vernoem na die talle plastiekstrukture wat as behuising opgerig word. Strukture in dié nedersetting is al verskeie kere deur brande vernietig.

Die motief vir die jongste voorval in die nedersetting is onbekend. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, het Selepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

fred ·

vroue in die informele nedersettings is baie kwesbaar…voel jammer vir hulle…hulle kry seker baie kou nou in die winter..

Ivan ·

Ek wonder of die mense van die buurlande verblyf permitte en wettige paspoorte het. Indien nie en die owerhede weet daarvan wat doen hulle dan daaraan. O ja hulle monitor die situasie.

HPV ·

Dit gebeur al vir meer as vyftig jaar in Afrika wat deur regimes regeer word, lees oor die DRK, Burundi, Rwanda, ons is besig om te daal na daardie vlakke.

Alida X ·

Gaan lees oor Kigali die hoofstad van Rwanda. Skoonste stad in Afrika.
Nogal insiggewend as jy dink hulle was 25jaar gelede in burgeroorlog gewikkel. Daarna het hulle begin opbou. Hier in SA het hulle toe begin afbreek.

Johan ·

Alida X, en jy kan nou maar glo wat jy wil – Rwanda sal in ‘n duisend jaar net eenvoudig nooit op Europese standaard wees nie. Dit is ‘n FEIT!

Nel ·

Weet jy hoeveel doen die kerke al om nood te help verlig?? Dit word net nie aan die groot klokke gehang nie.

piet piet ·

Ripelefek van die moreletta park gemeente wat hulle gevoed en geklee het en nou sit die gemeenskap met die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.