Nóg ʼn verdrinking oor die Kersvakansie

Die swembad waar ‘n kind in Montana verdrink het. (Foto: Verskaf)

ʼn Seun het Donderdag in ʼn swembad in Montana Tuine, Pretoria, verdrink.

Paramedici het omstreeks 16:00 gereageer op ʼn oproep oor ʼn verdrinking in dié omgewing. “Volgens inligting het ʼn agtjarige seun in ʼn swembad by ʼn huis geval. ʼn 15-jarige van die huis langsaan het die kind leweloos in die swembad sien dryf en die inwoners daaroor ingelig,” sê Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911.

Die kind is uit die swembad gehaal en die inwoners van die huis het hom probeer bybring. Toe Netcare911 op die toneel aankom, het paramedici die kind ook probeer bybring. Ongelukkig het die pasiënt se toestand vinnig agteruitgegaan en is hy uiteindelik dood verklaar op die toneel,” sê Herbst.

Daar word na ‘n jong seun gesoek wat in die see by die Strand vermis geraak het. (Foto: PJ van Zyl)

Maroela Media het die afgelope dae oor verskeie verdrinkings in swembaddens of in die see berig. Arive Alive het ʼn paar wenke beskikbaar gestel om verdrinkings tydens die Desembervakansie te verhoed. Dit sluit in:

  • Kinders wat swem, moet voortdurend onder toesig gehou word. Indien peuters of kleuters in die water is, moet ʼn volwassene binne armlengte wees om bystand te bied indien moontlik.
  • Ouers moet kinders hul onverdeelde aandag gee wanneer hulle in en om die swembad speel.
  • Selfs sterk swemmers het soms hulp nodig. Dring daarop aan dat ʼn kind wat nie kan swem nie ʼn reddingsbaadjie aantrek.
  • Moenie speelgoed in die swembad los nie. ʼn Kind kan verdrink wanneer hy die speelding probeer uithaal.
  • Voordat jy en jou kinders in die see swem, kyk eers ʼn paar minute aandagtig na die golwe en stel vas waar daar rotse of sterk grypstrome is.
  • Moenie swem as die see te rof is nie. Swem eerder as die golwe reguit en kalm is.
  • Dit is beter om te swem wanneer die gety inkom omdat seestrome dan nie so sterk is nie en jy op die strand uitgespoel sal word indien die stroom jou meesleur.
  • Vermy dit om te swem wanneer jy alkohol ingeneem het of onmiddellik ná ʼn groot maaltyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.