Nog te veel vrae oor geskiedenis as verpligte vak

dr-danie-langner-skoolgeskiedenis-2018-09-12-01

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gevra dat daar anders oor skoolgeskiedenis gedink moet word tydens ‘n beraad oor die toekoms van die vak op 12 September 2018 in Pretoria. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Geskiedenis as skoolvak het ongelukkig in die Suid-Afrikaanse konteks ʼn wapen geword. Dit is nie net die geval onder die ANC nie, maar was so onder die Nasionale Party en selfs onder Britse Imperialisme en die tyd van die VOC.

Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, een van die sprekers by ʼn bespreking oor die toekoms van skoolgeskiedenis. Die geleentheid, wat dié organisasie saam met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied het, is in Arcadia, Pretoria gehou.

Die bespreking was deel van die twee organisasies se plan om voorleggings aan die departement van basiese onderwys (DBO) te maak oor die departement se voorneme om geskiedenis teen 2023 ʼn verpligte vak vir gr. 10- tot 12-leerders te maak.

Geskiedenis se toekoms

“As ons ernstig oor die toekoms van geskiedenis is, sal ons anders oor die skoolvak moet dink. Dit moet eerder as ʼn stuk gereedskap gesien word wat gebruik kan word om kultuurgeletterde gemeenskappe te skep.

“Moet asseblief nie die kritiek op die verpligting van die vak verkeerd beskou nie. Almal wat vandag hier is, glo geskiedenis is belangrik vir die toekoms van die land. Almal hier is ook baie lief vir die vak, maar niemand van ons is voorstanders van ʼn eensydige geskiedenis nie. Ons wil nie hê ons kinders moet napraters van nóg ʼn staatsideologie word nie,” het Langner gesê.

Elize van Eeden, ʼn professor in die vakgroep geskiedenis aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), het talle vrae gehad oor die ministeriële taakspan wat dié vak ondersoek het, asook die verslag wat hulle aan die DBO voorgelê het.

Van Eeden het die taakspan se verslag as flou beskryf met ʼn eensydige fokus. Sy het ook gesê die paneelkeuse vir die taakspan was opvallend.

“Ek dink hulle is vir hul persoonlikhede gekies en dit was opmerklik dat geen aktiewe kenners in dié skoolvak of opvoedkunde op die paneel ingesluit is nie.”

Prof. Fransjohan Pretorius, ʼn emeritusprofessor van die departement historiese en erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria (UP), het vir ʼn genuanseerde geskiedenisleerplan gepleit.

“Die ‘ja, maar’ moet as’t ware reeds in die leerplan ingebou wees. Die kurrikulumskrywers sal versigtig moet wees vir hul eie dwaling in ʼn eensydige siening van die geskiedenis, iets waaraan ek al self ook skuldig was.”

Prof. Elize van Eeden van die NWU het die taakspan se verslag oor skoolgeskiedenis as flou beskryf met ʼn eensydige fokus. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Argeologie bied geleenthede én uitdagings

Anton van Vollenhoven, ʼn buitegewone professor in geskiedenis aan die Mahikeng-kampus van die NWU, het gesê die plan om argeologie by die geskiedenisleerplan in te sluit, bied talle geleenthede om ʼn opbloei in die historiese wetenskappe te bring en mites aan die kaak te stel terwyl dit groter begrip tussen verskillende bevolkingsgroepe en kulture kan bring.

Van Vollenhoven het egter gewaarsku dat daar te veel mense is wat nie die verskil tussen argeologie, paleontologie en geologie verstaan nie. Hy ook gesê talle onderwysers sal opgelei moet word om argeologie te begryp.

“Mense moet ook verwag dat daar kulturele en godsdienstige teenkanting kan wees teen argeologie in ʼn nuwe leerplan vir geskiedenis.”

Prof. Johan Wassenaar, van die UP se fakulteit opvoedkunde, het gesê hy glo nie geskiedenis as verpligte skoolvak is ʼn bedreiging of ʼn geleentheid nie.

“Ek dink nie dit gaan ʼn verpligte vak word nie – dit is logisties, ekonomies en polities net nie moontlik nie.

“Geskiedenis sal waarskynlik in hierdie stadium net as ʼn gedeelte van lewensoriëntering op gr. 10- tot 12-vlak ingesluit word. Dit sal ʼn soort geheuegeskiedenis wees in die vorm van hoe meer feite die leerder kan gee, hoe meer punte kry hy met die idee om ʼn siviele identiteit te skep wat sal help om hulle trots op hul land te maak.”

Verpligte vak sal nie ingestel word

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), het die stelling vanuit die gehoor beaam.

“Daar is eenvoudig nie genoeg hulpbronne en onderwysers om die nuwe verpligte vak aan te bied nie,” het Colditz gesê.

Daan Potgieter, uitvoerende hof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), was nog ʼn spreker wat glo die planne om die vak as ʼn verpligte vak in te stel, sal moontlik nie binnekort plaasvind nie. Hy het genoem dat ʼn R5 miljard-tekort om die ideale van gratis hoëronderwys te befonds, by die departement van basiese onderwys verhaal gaan word.

“Hoe gaan daar gehalte-geskiedenisonderwysers hiervoor opgelei word? Boonop vervreem die leerplan leerders tans.

“Ek weet nie of julle weet nie, maar daar was ʼn pragtige plan om ʼn derde taal by skole in te voer. Hoofde was aan die begin van 2018 reg om dit te doen, maar die DBO het aan die begin van die akademiese jaar die skole laat weet dat daar nie genoeg geld is om ʼn onderwyser in dié vak by die skole aan te stel nie.

“Die DBO het gesê hulle kan een onderwyser vir elke drie skole aanstel en die skole moet eenvoudig hul roosters hiervolgens aanpas. Hulle het ook gesê die ou Model C-skole het genoeg geld om hul eie onderwysers hiervoor aan te stel.”

Hy glo die enigste manier hoe die planne vir verpligte geskiedenis kan werk, is as daar ʼn verteenwoordige werkkomitee aangestel word om die volle spektrum van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te verteenwoordig en die leerplan heeltemal ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Bou skole ·

haal julle kinders uit staatskole uit . die Afrikaner moet wakkerword en sy kind in privaatskole begin sit en meer privaatskole moet gebou word .. mense is bereid om miljoene vir ander skole en speelskooltjies en rekenaarsentrums te skenk in informele nedersettings . staan nou vas en bou ordentlike privaatskole .. vra ‘n billike fooi en laat die kinders sonder ANC geskiedenis voortleef asb.

Leonard van der Dussen ·

Die noodsaak vir privaatskole wat werklik onafhanklik van die staatsonderwys funksioneer is eintlik ooglopend. Daar word egter aan die openbare skole vasgeklou, en die denke is verslaaf aan die denkraamwerk dat die staat onderwys verskaf en moet verskaf – ‘n oorblyfsel van toe die regering doeltreffend was en die land ordelik, en staatskole inderdaad goeie onderwys gelewer het; maar gaan ons ons oë oopmaak en vir onsself buite die stelsel begin dink? Die huidige ervaring is dat dit nie gebeur nie.

M ·

Sjoe, dit is darem lekker voor op die wa om te sê ek moet my kinders in ‘n Privaatskool sit “Bou van Skole”. Wie gaan daai geld betaal. Jy! Ons is nie almal finansieel gerat om privaatskole se aandeelhouers te verryk nie. Want wat ek al gehoor het is die skole ook maar nie alles wat jy in ‘n skool wil hê nie. Klom bedorwe brokkies wat dink hulle kan met alles weg kom omrede die ouers geld het. Nee wat, dankie.

Wie se geskiedenis? ·

Geskiedenis word vertel, soos mense dit WIL onthou. Wit wil WIT geskiedenis vertel hoe wittes gestruggle het en geveg het vir geregtigheid….
Swat wil SWART geskiedenis vertel hoe swartrs gestruggle het en vertrap is….
Wie is reg en wie is verkeerd?
Die geskiedenis het baie kante, baie stories, baie weergawes.

Veritas ·

Die wenner van ‘n oorlog skryf die geskiedenis. Ongelukkig het ons die oorlog verloor weens die kapitulasie van die NP. Al wat ons nou te doen staan, is om ons kinders die waarheid omtrent die geskiedenis te leer. Afrikanertrots is iets wat net die ouers kan oordra aan hul kinders. Meer bekostigbare Afrikaanse privaatskole sal die enigste haalbare oplossing wees om die kommunistiese doktrine van die Departement van Onderwys teen te werk. Afriforum sal hierin die leiding moet gee.

Leonard van der Dussen ·

Die oproepe aan Afriforum om leiding te gee oor privaatskole verplaas maar net die verantwoordelikheid vir onderwys van een soort staatsgesag na ‘n ander soort sentrale organisasie: niks keer ‘n gemeenskap om sy eie skool op te rig nie, hoewel dit natuurlik nie onderskat moet word nie. Die moeilike werk kan nie heeltyd aan een of ander groter instansie toegedeel word nie: onderwys begin by die huis, by die gemeenskap self en hoe sterker die gemeenskap self daaraan deelneem, hoe beter. Maar ‘n 20ste eeu van staatsonderwys wat goed bestuur en deeglik opgebou en wat besonder suksesvol en selfs globaal erken is, het ons lui en staatsverslaaf gemaak.

Al ·

Geskiedenis as vak gaan nie baat as leerders hulself moet slyp vir ñ volhoubare beroep nie.
Geskiedenis gaan nie brood op hul tafel sit nie.

DinkBiejie ·

Nee dit gaan miskien nie brood op die tafel sit nie. Die geskiedenis gaan wel gebruik word as propaganda om kinders te breinspoel, en die ANC se weergawe van die land se geskiedenis in ons kinders se kele af te druk.

Disselboom ·

Die beoogde ANC-weergawe is nie “geskiedenis” – die mooi akademiese vak wat sy eie tegnieke het en belangrik is vir ‘n beskaafde samelewing dat dit geleer en beoefen moet word – nie, maar ‘n propagandasamestelling van hoe hulle wil hê Suid-Afrika verstaan moet word. Die probleem begin sodra jy die vak Geskiedenis in ‘n kurrikulum en ‘n handboek vir die kurrikulum indruk en dit dus afkamp, verskraal en fokus waar dit vir manipulasiedoeleindes geplaas moet word: dis ‘n vak wat kan baat by die internet en die wyses van kennisdeling wat vandag beskikbaar is; maar dit verg natuurlik inspanning en vakkundigheid om die vak dan uit geskiedenisboeke, media en allerlei bronne aan te bied, wat in vandag se afmerklysie en robotagtige onderwys baie skaars geword het. Moet Disselboom asb nie verdink van tuisskoolneigings nie, maar daar is elemente daarin, bv die klem op voorlesing en om nie-handboek bronne te gebruik, waarvoor die baba nie met die badwater uitgegooi moet word nie.

Jaco Olckers ·

Ek sal my kinders leer wat waar is en wat nie waar is nie. Hulle sal my nie voorskryf nie. Ons moed ons eie boeke skryf vir die kinders.

Leeutjie ·

So waar Jaco. Ons S.A se geskiedenis het begin by Jan van Riebeeck. My kleinkind se geskiedenis het begin by Nelson Mandela. Niemand weet meer van ons boere struggles en die wrede moorde op ons boere, boervroue en kinders nie…

Celtis Africana ·

Die geleerde kommentare op die onderwerp is skrikwekkend!
” Van Eeden het die verslag van die taakspan as flou beskryf met n eensydige fokus. Sy het ook gesê die paneelkeuse vir die taakspan was eensydig.”
” Ek dink hulle is vir hul persoonlikhede gekies en dit was opmerklik opmerklik dat geen aktiewe kundiges in diè skoolvak of of opvoedkunde in die paneelkeuse ingesluit is nie.”
Die geleerde professor se kommentaar is myns insiens dié definisie van verafrikanisering.
Presies dieselfde konsep wat totaal mank gaan aan integriteit, professionaliteit en kundigheid, kenmerk die wyse waarop ons regeer word.
Só kan ons aangaan. Lyk tog of hul die evolusieleer ook wil bygooi.
Daar is nou mos geen wyse dat n regdenkende mens sy kind aan die indoktrinasie kan oorlaat nie.
Leonard van der Dussen se oplossing is die enigste alternatief.

pinkie ·

Dis ‘n verdraaide geskiedenis wat in ons kinders se kele afgeprop word. Punt.

DinkBiejie ·

Ek is dankbaar ek het nie kinders om bloot te stel aan die sirkus, wat Suid-Afrika genoem word nie. Vir die wat privaat skole wil begin, wie gaan daarvoor betaal? Daar is duisende arm wit ouers wat nie eers kos op die tafel kan sit nie, wat nog van vir privaat onderwys betaal. Natuurlik sal die privaat maatskappy nooit betrokke raak, by so ‘n projek nie, die geld lê mos nou by die meerderheid, en die privaat maatskappye wil tog altyd SO polities korrek wees, en dan nog die winste laat inrol.

Leonard van der Dussen ·

Die koste van privaatskool is ‘n werklikheid, maar daar moet darem onderskei word tussen die Curro-genoteerde maatskappytipe, die Engelse (en Helpmekaar-tipe) grênd skole en gewone privaatskole waar laasgenoemde ‘n balans handhaaf tussen deeglik te wees, maar ook nie buitensporige gelde te hef nie. Die somme van ‘n privaatskool kan werk, maar dit verg net samewerking – en gewilligheid om van nuuts af te bou – maar dis veral laasgenoemde waar mense wag dat iemand anders dit eers doen, en dan sal hy oorweeg om te kom aansluit. Ken dit van binne en kan lank daaroor gesels.

J ·

privaat skole is nie veel meer as n gewone midel c skool nie. Ek het my seun uitgehaal doen nou home schooling en prys verdkil is maar R300 wat ek meer betaal. Spaar op skool klere en al die xtra wat skool deur die jaar vra om by te dra.

Joey Brits ·

Geskiedenis as verpligte vak sal die oorsaak wees dat meer leerders nie matriek klaarmaak nie. Hopelik sal hulle in n kollage gaan klaarmaak. Ek is bevrees.ons gaan met n groter syfer jongmense sonder matriek sit, juis hieroor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.