Nóg verdagtes vas oor inbrake by Gauteng-skole

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nog verdagtes in hegtenis geneem in verband met inbrake en vandalisme by skole in Gauteng.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die polisie gelukgewens met die inhegtenisnemings.

“Die polisie het die departement Donderdag in kennis gestel dat nog twee verdagtes in hegtenis geneem is, wat glo gesteelde eiendom in hul besit gehad het wat met inbrake by skole in Katlehong verbind kan word,” het Steve Mabona, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

Die polisie het Woensdag ook bevestig twee persone is in hegtenis geneem wat glo met gesteelde items betrap is van Botebotsebo Secondary School in Sebokeng. “ʼn Derde verdagte is op die skool se perseel aangekeer. Hy het vermoedelik toegang bekom deur die venster te breek van een van die klaskamers en het ʼn brand gestig in die klas. Die teëls en stoele het gebrand.”

Dit kom ná die polisie Maandag aangekondig het 41 verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met inbrake en brandstigting by skole in Gauteng sedert Maart 2020.

Die departement het op 12 April bevestig daar was reeds 55 gevalle van inbrake en vandalisme by verskillende skole.

“Ons moet ongelukkig bevestig dat misdadigers steeds by skole inbreek en die getal inbrake staan tans op 67,” het Lesufi gesê. “Ons is dankbaar vir die polisie se goeie werk om dié misdadigers aan te keer, wat steeds die reëls tydens dié noodsaaklike afsonderingsperiode breek. Ons verstaan nie waar hulle die tyd kry om die misdade te pleeg nie, want almal moet by die huis wees.”

Die departement moedig die gemeenskap aan om die polisie steeds in kennis te stel van enige misdrywe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leandra ·

Hi eks n matriek leerder en die situasie is so stresvol ek wenie om te kom of om te gaan nie …
Ons kan nie korter skool vakansies kry nie want ons kry nou werk om op te vang terwyl ons tuis is en ek dink dit is groot impak dat ons nogsteeds werk moet doen by die huis
Ons stres nie nie net oor ons jaar nie , mar wat as ons terug skool toe gaan?
Dit stel ons en onderwysers se lewe in gevaar en ek dink dit moet in ag geneem word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.