Nóg vertragings in Tshwane-burgemeesterstryd

Die Tshwane-metro is steeds leierloos met verskeie vertragings om ‘n nuwe burgemeester te verkies. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester vir die Tshwane-metro verloop teen ʼn slakkepas.

Die metroraad probeer vir die tweede keer binne ʼn week om ʼn burgemeester te verkies nadat die DA verlede week as ʼn teken van protes uit die vergadering gestap het.

Cilliers Brink, die veelpartykoalisie in Tshwane se burgemeesterskandidaat, het Woensdagmiddag gesê dit is duidelik dat die ANC‑EFF-koalisie nie die getalle het om ʼn “marionet-burgemeester” – soos in die geval van dr. Murunwa Makwarela – te verkies nie. Daarom dat hulle hul nou tot allerhande ander vertragingstaktiek wend.

“Die jongste truuk wat hulle gebruik, is om die gesag van Cope [een van die partye in die koalisie] en sy gemagtigde verteenwoordiger te bevraagteken om te besluit wie die party se raadslid moet wees,” sê Brink.

“Dit word nou voorgehou as ʼn verskoning oor waarom die raadsvergadering en die verkiesing van ʼn burgemeester nie kan voortgaan nie.”

Brink sê dit is ook duidelik dat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, ook die ANC se leier in die provinsie, met raadslede van die ANC en EFF saamwerk om die bestuur van die stad te ontwrig en chaos te skep sodat die Gautengse provinsiale regering by die stad se sake kan probeer inmeng.

“Natuurlik bestaan die vrees dat die doel hiervan is om hulpbronne na die ANC en moontlik selfs die EFF in die aanloop tot die 2024-verkiesing te kanaliseer.”

Brink het vroeër al aan Lesufi geskryf en hom gewaarsku dat sy beweerde inmenging by Tshwane se sake dit “moeilik vir hom maak om sy verantwoordelikhede as premier teenoor die stad na te kom”.

“Die belangrikste kwessie nou is dat die ANC‑EFF-koalisie van korrupsie, dienslewering en regering in die Tshwane-metro ontwrig. Ons sal nie skroom om Lesufi en die ANC ten volle verantwoordelik te hou vir die gevolge van hul dade nie, selfs al moet ons weereens hof toe gaan en ʼn kostebevel kry teen die mense wat hier persoonlik betrokke is.”

Die veelpartykoalisie in die Tshwane-metroraad bestaan uit die DA, ActionSA, VF Plus, IVP en ACDP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.