Cilliers Brink: ‘Lesufi nie onskuldig in Tshwane se politieke onstabiliteit’

Cilliers Brink. Foto: Twitter

Die DA het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gewaarsku om enige moontlike planne om die Tshwane- metropolitaanse munisipaliteit onder administrasie te plaas, te skrap en sê voorts hy is nie die “onskuldige party” in die hoofstad se huidige “politieke onstabiliteit” nie.

Cilliers Brink, die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, het Vrydag ʼn brief aan Lesufi gestuur waarin hy dit duidelik stel dat die premier ʼn “direkte politieke betrokkenheid” by die keuse van dr. Murunwa Makwarela van Cope as burgemeester het.

Brink se brief volg nadat Kgosi Maepa, die voormalige ANC-koukusvoorsitter in Tshwane en huidige politieke raadgewer in Lesufi se kantoor, Vrydag in ʼn onderhoud op Newzroom Afrika gesinspeel het dat die provinsiale regering in die Tshwane-metro kan ingryp om die politieke onstabiliteit aan te pak.

“Ons wil die rol wat u gespeel het om die huidige politieke onstabiliteit in Tshwane te bewerkstellig amptelik aanteken, asook dat u u amp misbruik het om verdere politieke voordeel uit die situasie te trek,” skryf Brink aan Lesufi.

Gautengse premier Panyaza Lesufi [Foto: Verskaf]

Brink verwyt Lesufi dat hy openbare uitsprake gemaak het oor sy voorneme om regerings doeltreffend tot ʼn val te bring.

“In geen stadium het u selfs voorgegee om bo die politieke stryd uit te styg soos wat art. 154 van die Grondwet van ʼn provinsiale premier vereis nie. En so het dit gevolg dat u verlede week se vergadering van die Tshwane- munisipale raad nie as waarnemer bygewoon het nie, maar as aktiewe politieke deelnemer.

“In sy eie onderhoude met die media het dr. Makwarela bevestig dat u koukusvergaderings met hom en raadslede van die ANC, EFF en ander partye gehou het, asook dat u ʼn deurslaggewende rol gespeel het om dr. Makwarela te oorreed om homself beskikbaar te stel as kandidaat vir uitvoerende burgemeester, en vir die raadslede wat u koukus bygewoon het om hom te ondersteun.

“U het hierdie stappe gedoen, ten spyte daarvan dat u geweet het dat die ANC-EFF-stemblok nie ʼn meerderheid in die Tshwane- munisipale raad het nie, en dat dr. Makwarela se verkiesing as uitvoerende burgemeester tot ʼn ewe onsekere verkiesing van die speaker sou lei. Met ander woorde, u was ten volle bewus van die politieke onstabiliteit wat u bemiddelde onderhandeling in Tshwane sou veroorsaak. U het in geen stadium ʼn vergadering met leiers van die DA en ander partye buite die ANC-EFF-stemblok aangevra om ons sienings oor die situasie vas te stel nie.

“Die breër punt is dat u dit deur u openbare uitsprake en direkte politieke betrokkenheid by die Tshwane- munisipale raad uiters moeilik gemaak het vir die provinsiale uitvoerende raad waar u voorsit om gesonde en onafhanklike oordeel uit te oefen in sake van interregeringsteun, monitering en ingryping soos dit betrekking het op Tshwane. Ons wil u veral waarsku teen die beroep op interregeringsingryping vir die bykomende doel om die politieke magsbalans, en die beheer van hulpbronne, in Tshwane te manipuleer. U was ʼn lid van die provinsiale uitvoerende raad wat besluit het om die Tshwane- munisipale raad in Maart 2020 te ontbind ingevolge art. 139(1)(c) van die Grondwet, en ons moedig u aan om die verskillende hofuitsprake te lees wat teen Gauteng gelewer is. Die finansiële wanbestuur en institusionele ontwrigting weens Gauteng se onwettige ingryping in Tshwane moet nog ten volle reggestel word, en daarom sal ons nie huiwer om teen u op te tree om te verhoed dat die geskiedenis hom herhaal nie.”

Dr. Murunwa Makwarela. (Foto: Twitter)

Oor Maepa sê Brink dat hy homself ook by die politiek van die Tshwane- munisipale raad betrek en verskeie stellings in die media gemaak het ter verdediging van dr. Makwarela, wat oënskynlik steun op die geloofwaardigheid van die kantoor van die premier om dr. Makwarela rakende bedrieglike bewerings te verdedig, naamlik dat hy wel gerehabiliteer is voor sy verkiesing as raadslid.

Die DA beoog om ʼn Paia-aansoek in te dien om vas te stel of Lesufi se kantoor, onder wie dr. Maepa, enige rol gespeel het om dr. Makwarela van raad te bedien oor die hantering van sy persoonlike regskwessies, en of dit ʼn skending van Lesufi se verpligtinge as premier behels.

“Die DA sal alles in sy vermoë doen om stabiele en verantwoordbare regering in die hoofstad te herstel, en ons is seker dat dieselfde waar is van ons koalisievennote ActionSA, die VF Plus, die ACDP en die IVP. Ons glo ook dat daar raadslede van ander politieke partye in Tshwane is wat veel meer omgee vir dienslewering en die finansiële volhoubaarheid van die stad as die politieke meganismes wat hul partyleiers nastreef en in stand hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die mnr Brink klink na ‘n man wat ‘n ding sê en doen sonder vrees,presies wat nodig om ‘n metro reg te ruk.

Casper ·

Ja Mnr Brink,jy kry mense wat dit wat hulle aanraak in goud laat verander maar dan kry jy mense soos Lefoefie wat alles wat hy aanraak in ……………….verander.Muslikking op sy beste.

Kokerboom ·

Dankie Cilliers. Die politieke ge woer woer spelery met die toekoms van die Tshwane inwoners se mooi stad moet nou stopgesit word. Stel asb bevoegde mense aan. Reinig die stadsraad van sweer in hul midde

annie ·

Lesufi, is orals betrokke… Oefen dalk om ‘n ‘hands on’ president te wôrre. Die gastentwa-bestuurder is ook steeds onbekend en onskuldig danksy die uwe se ingrepe. ‘n Paar interessante karakters gaan binnekort mekaar aan die keel begin gryp vir ereplekke binne die hoogste orde van dié platgetrappe landjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.