Nóg warmbloedige haaiespesies ontdek   

Navorsers ontleed ‘n kleintand sandhaai. (Foto: Nicholas Payne)

Navorsing het aan die lig gebring dat warmbloedige haaispesies dalk meer volop is as wat voorheen gedink is. Hierdie navorsing is deur wetenskaplikes van die Universiteit van Pretoria in samewerking met Trinity College in Durban uitgevoer.

Die meeste haaie het ʼn liggaamstemperatuur gelykstaande aan die water waarin hulle swem, maar party haaie behou hitte, wat beteken hul liggaamstemperatuur is etlike grade hoër as dié van die water. Hierdie haaie hou gewoonlik net sekere liggaamsweefsel warm, soos die spiere wat nodig is om te swem. Dit staan bekend as rooi spiere.

“Dit is baie moeilik om warm te bly in koue water. Dit is selfs moeiliker vir warmbloedige haaie omdat die bloed wat deur die hart gepomp word, direk na die kieue gaan. Hierdie bloed kom dan in aanraking met die koue water en koel baie vinnig af,” sê dr. Ned Snelling, ʼn eksperimentele fisiologie aan die UP se Fakulteit Veeartsenykunde.

Mariene bioloë was tot dusver bewus van ten minste vyf haaispasies wat warmbloedig is, met die groot withaai een van die bekendste van hierdie haaispesies. Die navorsing het egter nog twee spesies geïdentifiseer, naamlik die koesterhaai en die kleintand-sandtierhaai.

Snelling sê warmbloedige haaie se rooi spiere is naby die kern van hul liggame geleë, wat help om die spiere van die koue water weg te hou. “Hierdie haaie het ook ʼn gekompliseerde netwerk van bloedvate wat hitte oordra om kouer bloed vanaf die kieue, met warm bloed vanaf die spier te verhit. Teen die tyd wat die bloed vanaf die kieue die spier bereik, is dié bloed amper net so warm soos die spier,” verduidelik hy.

“Warm spiere funksioneer baie beter as koue spiere, so hierdie haaie is in staat om aktief en mobiel in koue water te wees.”

‘n Kleintand Sandhaai. (Foto: David Curnick)

Navorsers was aanvanklik onder die indruk dat slegs makro-roofdiere soos die groot withaai oor warm rooi spiere beskik, aangesien dit vir hierdie diere nodig is om vinnig in koue water te kan swem. Die nuwe navorsing, wat in November in ʼn verslag gepubliseer is, wys egter dat ten minste twee ander haaispesies ook warmbloedig is. Hierdie haaie is egter nie makro-roofdiere nie.

“Die kleintand-sandtierhaai is nogal skaam en ontwykend, en eet kleiner vissies en ongewerwelde diere op die seebodem. Die koesterhaai is die sagmoedige reus van die oseaan. Hy beweeg baie stadig en vreet plankton en ander klein visse deur water deur sy kieue te filtreer.”

Navorsers het tot hierdie gevolgtrekking gekom deur haaiespesies wat aan die kus van Ierland en Brittanje uitgespoel het te dissekteer. Navorsers kon toe vasstel dat hierdie haaie anatomiese kenmerke soortgelyk aan dié van warmbloedige haaispesies het.

Dit sluit in rooi spiere naby aan die kern van die liggaam, asook baie dik hartwande.

“Ons dink hierdie bevindings is baie belangrik, want as hierdie haaie warmbloedig is, al is hulle nie makro-roofdiere nie, kan talle ander haaie ook warmbloedig wees,” sê dr. Nicholas Payne van Trinity College. “Dit laat talle ander vrae oor die ontwikkeling van warmbloedige haaie ontstaan en kan belangrike gevolge hê vir die manier waarop hierdie spesies bewaar word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.