Noue ontkoming toe olifantbul motor in sloot gooi

(Foto: Ezemvelo KZN Wildlife)

Die olifantbul het eers een van sy tande deur die passasiersruit gedruk voordat hy die motor opgetel en in ʼn sloot langs die pad gegooi het.

Dit was die toneel wat Woensdagmiddag in die Hluhluwe Imfolozi-park in KwaZulu-Natal afgespeel het toe ʼn olifantbul ʼn Ford Figo met twee insittendes geteiken het.

Die bestuurder van die motor, ʼn gereelde besoeker aan die park, het opgemerk dat die olifantbul na die motor stap, maar hy het rustig voorgekom en die bestuurder het sy motor na die kant van die pad getrek sodat die olifant verby kan kom.

Die olifantbul het egter ander planne gehad en sy slurp op die enjinkap gesit. Die bestuurder het probeer om die motor weg te beweeg waarna die olifant sy tand deur die passasiersruit gedruk het. “Hy het die motor opgetel soos rugbyspelers wat ʼn lynstaan uitvoer,” het Vlenekosini Ntombela, ʼn veldwagter wat die voorval aanskou het, gesê.

“Die olifant het gelukkig besluit om nie hiermee voort te gaan nie en het die motor in ʼn sloot langs die pad gegooi.” Die olifantbul het hierna voortgegaan om die motor se agterkant te stoot.

(Foto: Ezemvelo KZN Wildlife)

Ntombela het ʼn waarskuwingskoot afgevuur waarna die olifantbul finaal die aftog geblaas en in die veld verdwyn het. Die insittendes van die motor is opdrag gegee om hul motor agter te laat en is in ʼn voertuig van die park van die toneel af vervoer. Hulle is nie in die voorval beseer nie. Die motor is later die dag ingesleep.

Ntsikelelo Dlulane, waarnemende uitvoerende hoof van Ezemvelo, het gesê hy is verlig dat die voorval nie noodlottig was nie.

“Ek wil ook my waardering uitspreek teenoor Ntombela wat kalm gebly het onder die omstandighede. Ons sal nie weet wat kon gebeur het indien hy paniekerig geraak en die besluit het om die olifant te skiet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Bly niemand is beseer. Glo dit was angswekkende oomblikke.

Sandra ·

Olifant 1 – Ford Figo 0. Ek is net bly dit het nie sleg geeindig met die olifant wat geskiet moes word of die mense beseer nie. Dit moes super scary gewees het.

Swerwer ·

Beslis angswekkend. Dankbaar dat die insittendes niks oorgekom het nie. Die Olifant het seker maar met ‘n verkeerde voet wakker geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.