NSFAS gemaan oor beursongerymdhede

Solidariteit Jeug het Woensdag ʼn dringende skrywe aan die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) gestuur waarin hy die hulpskema maan om onmiddellik ʼn einde te maak aan sy wanbetaling aan tersiêre instellings. Die aanmaning volg in reaksie op NSFAS se versuim om sy kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor beurshouers met die uitbetaling van beursgeld aan tersiêre instellings na te kom.

Verskeie beurshouers is onlangs deur hul betrokke tersiêre instellings ingelig dat NSFAS versuim het om hul studiegeld te betaal. Hierdie versuim van NSFAS om sy verpligtinge teenoor sy beurshouers na te kom, het tot gevolg dat die betrokke studente nie hul studie kan voortsit of afhandel nie.

“Studente is van hierdie beursgeld afhanklik om te kan studeer en hul studie te kan voltooi,” sê Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en Loopbaanontwikkeling. “Om uit die bloute te hoor jou studiegeld is nie betaal nie, is ʼn geweldige skok, veral vir ʼn student wat dit juis nie kan bekostig om hierdie koste self te dra nie. Hierdie versuim deur NSFAS het nie net ʼn direkte impak op studente se studie nie, maar beroof hulle in werklikheid ook van hul toekoms.”

In die aanmaning dring Solidariteit daarop aan dat NSFAS al sy verpligtinge onmiddellik hervat en dat hy sal onderneem om sy kontraktuele en statutêre verpligtinge, soos uiteengesit in die beursooreenkomste, sonder enige verdere versuim na te kom.

“Hierdie studente het almal suksesvol aansoek gedoen vir die beurse, maar NSFAS het, sonder om enige rede daarvoor te gee, bloot ophou betaal,” voeg Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, by. “Solidariteit kan nie toelaat dat hierdie versuim deur NSFAS net aanvaar word nie. Wanneer ʼn ooreenkoms aangegaan word, moet albei partye daarby hou. Solidariteit sal dus nie skroom om verdere regstappe te doen indien NSFAS nie aan hierdie eise voldoen nie.”

Lees die aanmaning hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Hier is weer hidden agendas behalwe die ooglopende redes soos BBBEE en nail die Wittes. My dogter moes oorsee dokter gaan studeer en ek moes opdok. Nou is dit ‘n eindelose pyn om haar hier in SA as ‘n dokter geregistreer te kry omdat sy wit is. Die Kubaanse dokters vir Covid is in 3 dae geregistreer. Wat ‘n klomp tweegesigte. Sterkte Solidariteit. Nail hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.