Nuwe burgemeester ‘kan nie Tshwane-begroting red’

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

Die Gautengse tesourie het ingestem om die voorlegging van die Stad Tshwane se aanpassingsbegroting en die aangepaste dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan nóg verder uit te stel.

Dit is omdat die stad steeds nie ʼn nuwe burgemeester het om die begroting goed te keur nie.

ʼn Raadslid meen egter dit gaan nie ʼn dooie duit verskil maak of die begroting nou of later goedgekeur word nie.

“Daar is eenvoudig nie geld beskikbaar om dienste in Tshwane te lewer nie, of jy nou ’n aanpassingsbegroting aanvaar of nie,” verduidelik Lex Middelberg, raadslid van die Republican Conference of Tshwane, ‘n groepering van onafhanklike raadslede.

Die burgemeesterlose metro het aanvanklik om uitstel tot 24 Maart gevra, maar intussen besef die tyd gaan hulle inhaal en wéér om uitstel gevra.

Die aangepaste dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan sal nou op 14 April voorgelê word.

Dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisie-toesiggroep in Tshwane, sê die uitvoerende burgemeester van ’n metro is die persoon wat daarmee getaak is om die aanpassingsbegroting by die stadsraad “in te dien en te verduidelik”.

“Indien daar nie ’n uitvoerende burgemeester is nie, is daar ook nie ’n burgemeesterskomitee wat as ministers van plaaslike regering verantwoordelikheid kan aanvaar vir spesifieke portefeuljes nie,” verduidelik Mulder oor die vertraging in die voorlegging van die aanpassingsbegroting en die voortslepende vertraging in die verkiesing van ’n burgemeester.

“Dit is alles vas aan mekaar.”

Middelberg sê terwyl die voorlegging van die aanpassingsbegroting uitgestel word, word die bedrag van ongemagtigde uitgawes al hoër. “Nou word daar geld uitgegee op dinge wat nie deur die begroting gemagtig word nie.

“Dit is dus eintlik net ’n akademiese oefening in hierdie stadium om die bedrag van ongemagtigde uitgawes minder te maak en die verleentheid kleiner te maak tydens die volgende oudit.”

Hy meen egter nie die spoedige aanstel van ʼn burgemeester – of dit nou die DA of ANC se kandidaat is – gaan ʼn verskil aan dienslewering in die stad maak nie.

“Wat ’n aanpassingsbegroting doen, is om fondse van portefeuljes wat in die oorspronklike begroting onderspandeer het, te skuif na portefeuljes waar daar oorspandering was.”

Die jongste kwartaallikse syfers dui op ’n onderverhaling van 5% van inkomste in die Stad Tshwane.

Middelberg sê nadat die metro sy werknemers betaal het, bly ʼn skamele 4% tot 5% van die begroting oor, waarmee dienste gelewer moet word.

“Dit is maar as gevolg van swak begrotings in die verlede wat oorspoel na vanjaar en beteken dat jy munisipale werkers elke maand betaal om vir mekaar te sit en kyk, want daar is nie geld vir dit wat nodig is om die dienste te lewer nie.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

“Alles het tot stilstand gekom in hierdie stad. Al wat ons nou doen, is salarisse betaal. Dit maak nie saak of jy die ANC of DA is nie, as jou uitgawes vyf is en jou inkomste vier, dan boer jy agteruit.”

Mulder het wel Maandag aan Maroela Media gesê die uitstel van die aanpassingsbegroting behoort nie enige impak op die metro se bestaande projekte te hê nie. Dit sluit in die projek om watertoevoer in dele van Hammanskraal en Vastfontein te herstel.

Maroela Media het die afgelope naweek berig die Stad Tshwane word deur die hof verplig om spoedig ʼn begroting goed te keur om die gebrek aan watertoevoer in dele van Hammanskraal en Vastfontein te beëindig.

Die hof het ook gelas dat  ʼn watervoorsieningswerkgroep op die been gebring word in ’n poging om water aan die gebiede te verskaf.

Mulder sê die werkgroep behoort te kan aangaan met hul werk terwyl daar gewag word op die verkiesing van ’n burgemeester.

“Indien daar nie ’n burgemeester is nie, neem die munisipale bestuurder die rol oor. Die amptenare is daarom veronderstel om aan te gaan. Dit is egter ongelukkig so dat indien ʼn skool sonder ʼn hoof sit, dit nie vanselfsprekend is dat onderwysers steeds hul werk gaan doen nie,” erken Mulder.

Die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester sal nou hopelik Dinsdag tydens ʼn spesiale raadsvergadering plaasvind nadat dit twee keer vantevore uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.