Nuwe Covid-19-variant in agt Amerikaanse deelstate

Argieffoto (Foto: Brendan Smialowski/AFP)

Die nuwe variant van die koronavirus wat verlede maand in Brittanje kop uitgesteek het, is in agt Amerikaanse deelstate opgemerk.

Data van die VSA se sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) toon die variant, bekend as die B117-variant, is verlede week vir die eerste keer in die dié land aangemeld en sedertdien in agt deelstate opgemerk met Kalifornië en Florida wat die ergste geraak word.

Die variant is ook in Colorado, Texas, New York, Georgia, Connecticut en Pennsylvania in altesaam 63 gevalle opgemerk.

Dr. Anthony Fauci, die land se voorste spesialis vir aansteeklike siektes, het reeds Woensdag gesê die variant is moontlik meer wydverspreid in die VSA as wat daar vermoed word.

Die verspreiding van B117 en die variant in Suid-Afrika, bekend as B1351, het die vrees laat ontstaan ​​dat ʼn soortgelyke nuwe soort variant in die VSA sou kop uitsteek, maar Amerikaanse amptenare het Vrydag ontken dat ’n heel nuwe variant tot dusver opgespoor is.

“Navorsers hou Amerikaanse variante sedert die begin van die pandemie dop met 5 700 monsters wat in November en Desember versamel is,” het Jason McDonald, CDC-woordvoerder, gesê.

“Nie navorsers of ontleders van die CDC het tot op hede die verskyning van ʼn spesifieke variant in die VSA gesien soos waargeneem is met die opkoms van B117 in Brittanje of B1351 in Suid-Afrika nie.”

Byna 290 000 nuwe gevalle van Covid-19 is Vrydag in die VSA aangemeld. Byna 4 000 sterftes is die vorige dag in dié land aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.