Nuwe heining moet rondloper-olifante keer

Die Krugerwildtuin het sowat 23 745 olifante. (Foto: Du Preez de Villiers)

ʼn Nuwe heining in die omgewing van die Numbi-hek moet keer dat rondloper-olifante uit die Kruger-wildtuin ontsnap en gemeenskappe langs die grens van die wildtuin terroriseer.

’n Deeglike assessering is deur SANParke en die Mpumalanga Toerismeraad (MTPA) van stapel gestuur ná verskeie voorvalle waar olifante uit die wildtuin ontsnap en die Matsulu-nedersetting ingevaar het op soek na kos. Dit het die vrees laat ontstaan dat wilde diere skade aan gewasse kan aanrig en selfs lede van die gemeenskap kan beseer.

Die span wat die assessering moes doen, het uit wetenskaplikes en natuurbewaarders bestaan. Tegniese spanne sal nou na die gebied gestuur word om die omvang van die projek te bepaal.

Maroela Media het in Februarie berig dat ’n olifant uit die wildtuin ontsnap en groot amok in die nedersetting gesaai het. Die olifant is van kant gemaak.

SANParke se hoof van kommunikasie, JP Louw, sê die projek sal in April begin en ongeveer agt maande duur.

“Die aanvang van hierdie projek is in ooreenstemming met SANParke se algehele benadering om verhoudings met gemeenskappe naby nasionale parke te bou en te versterk.

“Gesprekke met gemeenskappe en sleutelrolspelers word beplan om die bouprojek saam te ontwikkel en ook seker te maak die heining word nie gevandaliseer nie,” sê Louw.

Die Krugerwildtuin het sowat 23 745 olifante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harold ·

Hopelik hou die nuwe heining die olifante binne en die stropers buite !!

Kerneels ·

Kom ons hoop dis ‘n beter poging as de Lille se ‘grensdraad’ langs die limpopo

Ann ·

Jammer, maar g’n heining sal ‘n olifant keer nie. As hy wil loop, sàl hy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.