Nuwe rasreëls oor landbou-uitvoere sal bedryf knou

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Nuwe regulasies oor swartbemagtigingsvereistes vir die landboubedryf wys hoe rasbehep die ANC-regering is.

Só sê Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. “Die toepassing daarvan gaan nie net uitvoer van produkte knou nie, maar totale voedselsekerheid in Suid-Afrika knou, aangesien dit jong boere gaan ontmoedig om die landbousektor te betree.”

Luidens ’n berig in Rapport vandag (Wit boerderye mag nie uitvoer, sê staat), sal nuwe reëls wat stilweg in die Staatskoerant gepubliseer is, boerderye wat “te wit” is nie meer toelaat om na Brittanje en die Europese Unie (EU) uit te voer nie.

Boerderye sal ingevolge die regulasies aan streng bemagtigingsvereistes moet voldoen om uitvoerpermitte te bekom.

“Landbou-ondernemings met ’n jaarlikse omset van minder as R10 miljoen word hiervan vrygestel, maar dit is betekenisloos aangesien feitlik alle groot uitvoerders se omset veel meer as R10 miljoen per jaar is,” voeg Groenewald by.

Die VF Plus sal skakel met alle moontlike organisasies, ook internasionaal, om beswaar teen die vereistes aan te teken aangesien dit indruis teen die grondwetlike beginsel van ’n vrye mark.

“Die internasionale wêreld stel nie belang in raskwotas nie, maar in vrye handel en die verkryging van landbouprodukte. Die VF Plus sal die saak ook opneem met die betrokke minister sodat daar weggedoen kan word met die diskriminerende regulasies.”

Groenewald sê die party sal ook regsaksies oorweeg indien dit ’n oplossing blyk te wees.

“Die ANC mislei homself deur te dink dat hy meer stemme kan kry in aanstaande jaar se verkiesing deur rassisme in sy verkiesingsveldtog te beklemtoon. Die Mensregtekommissie (MRK) het Vrydag ’n verslag uitgebring waarin gemeld word dat 120 kinders in die Oos-Kaap weens honger gesterf het. Dit belig die belangrikheid van voedselsekerheid en maak dit duidelik dat die ANC nie omgee vir die mense van Suid-Afrika en die belangrike rol van landbou nie.”

Hy voeg by landbou voed die nasie en Suid-Afrika is reeds nie ’n baie landbou-vriendelike land nie. “Die regering behoort daarom eerder dié sektor op elke moontlike wyse te ondersteun en te vertroetel as om hom te muilband.”

Noko Masipa, die DA se skaduminister oor landbou, sê die ANC poog om handelsgrense op te rig op dieselfde uitvoerondernemings wat die land benodig om meer werk te skep.

“Die regering is doelbewus besig om poste en mense se lewensbestaan te vernietig en sake-eienaars en werkers van ekonomiese uitvoergeleenthede te ontneem, bloot om sy perverse obsessie met velkleur te bevorder. Dit is niks anders nie as ekonomiese sabotasie deur die regering teen talle werklose Suid-Afrikaners.”

Volgens Masipa is die kennisgewings op 31 Oktober en 1 November (kennisgewing 4020 en 4023 in die Staatskoerant) eensydig gepubliseer sonder enige openbare konsultasie. “Dit is die burokratiese ekwivalent van ʼn potloodtoets op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerders.”

Die DA het reeds ʼn klag by die EU-handelskommissaris Valdis Dombrovskis en Kemi Badenoch, Britse minister van sake en handel, ingedien oor dié raskwotas.

“Ons sal ook regsadvies bekom,” sê Masipa. “Hierdie kwotas oortree die reëls van billike handel wat Suid-Afrika se ooreenkomste met die EU en die VK ondersteun.”

Volgens Masipa sal die ekonomiese gevolge van dié kwotas verwoestend wees. “Die ANC plaas poste en die bestaan van 800 000 mense in die landboubedryf (2,4% van ons land se jaarlikse ekonomiese uitsette) in gevaar. Wanneer ons die waardetoevoeging insluit, dra landbou 10% tot die ekonomie by. Helfte van die landbouprodukte wat in Suid-Afrika vervaardig word, word uitgevoer.”

Die land het in 2022 US$12,8 miljard in landbou-uitvoere aangeteken – waarvan 20% na die EU gegaan het en 4% na die VK. “In plaas daarvan om hierdie bedryf verder te bekragtig en werk te skep vir honderde duisende meer mense, plaas die ANC doelbewus soveel as moontlik hindernisse in die pad van werkskepping. Meer as 4 000 landbou-bystandbeamptes is sonder werk ná ʼn paar maande by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, weens onsuksesvolle raskwotabeleide wat landbou-beleggings vernietig het.

“Hierdie raskwotas vir landbou-uitvoere is duidelik deel van ʼn doelbewuste ANC-agenda om werk te verwoes op die altaar van ras.”

Masipa sê dit volg kort op die hakke van soortgelyke wysigings aan gelyke indiensneming en raskwotas vir toegang tot water vir landbougebruik.

“Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners erken dat dekades van ANC-wanbestuur en ekonomiese sabotasie die worteloorsaak is waarom miljoene Suid-Afrikaners en miljoene jong mense nie werk kan vind nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

electricmango ·

So biekie donkerder van gelaat, kan hulle ook uitgeken word aan hoe stadig hulle groeie….

Republikein in die Wes Kaap ·

Brittanje en die EU moet bearbei word om die invoer van Suid-Afrikaanse landbouprodukte te staak.

electricmango ·

Wonder of die dom soos grond stelling van toepassing is hier. Dis vir die regering belangriker om hulle selfbeeld te poets as wat dit is om die land te voed. Dis n duur les net soos al die ander lesse wat hulle al geleer het. Regtig jammer dat hulle die skole afgebrand het toe hulle moes leer, nou sit ons met die gebakte pere.

Chris ·

Ek is die laaste tyd in ‘n “flat spin”. Die ICC (Krieket) skors Shri-Lanka uit wêreld-krieket weens staatsinmenging (
6 Nov 2023). Suid-Afrikaanse sport is deurspek met raskwotas. Geen haan in die wêreld kraai daaroor nie. En nou uitvoerkwotas! Geen haan in die wêreld kraai daaroor nie. Hamas vermoor kinders en volwassenes op groot skaal, maar wanneer Israel daarop reageer, is hulle die oortreders .
En het enige instansie in die wêreld al ooit plaasmoorde veroordeel? Die hartseer is die media van die dag bevorder hierdie skeefgetrekte beeld met vooropgestelfe beriggewing.

annie ·

Hmm… Ek wag juis vir foto’s van die nou 11 000 grafte van die Palestyne wat Israel glo vermoor het. Hamas het mos fotograwe presies waar alles gebeur.

George Lodewikus ·

Die regering is nie onnosel nie. Hulle draai die skroewe vir alle sektore al stywer, ten einde en spesifiek in die geval, te stel dat boere nie die landbou grond ekonomies aanwend nie en derhalwe daarop geregtig is om dit te onteien.

Willem ·

Moenie bekommer nie – ‘n Boer maak ‘n plan – ons WEET op wie ons vertrou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.