Nuwe Tshwane-burgemeester se doppie geklink

Dr. Murunwa Makwarela. (Foto: Twitter)

Nog voordat dr. Murunwa Makwarela sy ampstermyn as Tshwane se nuwe burgemeester kon begin, is hy klaar weer uit dié pos geskop. Hy mag ook glad nie meer as raadslid dien nie.

Dit volg nadat Makwarela geen bewyse van rehabilitasie kon lewer nie nadat hy insolvent verklaar is. Ingevolge art. 47 en 158 van die Grondwet mag ongerehabiliteerde insolvente persone nie as openbare verteenwoordigers in munisipale rade, die Nasionale Raad van Provinsies of die Nasionale Vergadering dien nie. Makwarela was dus uit die staanspoor ongeskik en onverkiesbaar, hoewel hy aangevoer het dat hy wel gerehabiliteer is.

Johann Mettler, stadsbestuurder van die metro, het die vakature van die setel wat Makwarela beklee het, Dinsdag aangekondig. Cope moet nou nuwe kandidate aanwys om Makwarela se setel as raadslid te vul. Hy was Cope se enigste raadslid in die Tshwane-metro.

ʼn Nuwe burgemeester moet ook so gou moontlik verkies word.

Volgens die DA is Makwarela, die ANC en EFF se kandidaat vir burgemeester, in Augustus 2016 deur die hooggeregshof in Gauteng gesekwestreer. In 2019 is ʼn hofbevel vir uitstaande skuld teen hom uitgereik.

“Ons kon geen bewyse van ʼn rehabilitasiebevel in hierdie saak kry nie, so ons het aan die stadsbestuurder en die Onafhanklike Verkiesingskommissie geskryf en versoek dat Makwarela bewys van sy rehabilitasie verskaf,” het Jacqui Uys, DA-raadslid in Tshwane, gesê.

“Dit is nou duidelik dat Makwarela nie sodanige bewyse kan lewer nie, wat beteken dat hy die publiek mislei het toe hy sy benoeming as raadslid in die Tshwane-metro op 1 November 2021 aanvaar het.”

Uys sê Makwarela het die publiek nog verder mislei deur nie sy insolvensiestatus te verklaar nie en boonop die benoeming en pos as Tshwane se burgemeester te aanvaar.

“Hy moet ten volle verantwoordelik gehou word vir sy optrede.”

Grandi Theunissen, die VF Plus se koukusleier in Tshwane, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Makwarela het almal “ʼn rat voor die oë gedraai” en dat die jongste verwikkeling op die “valsheid van Makwarela” dui.

“Hy het van die begin af geweet hy mag nie ʼn raadslid wees nie. Al sy ander leuens sal nou ook in die oopte uitkom.”

Volgens Theunissen is Makwarela boonop gelys as die direkteur van ongeveer 20 aktiewe maatskappye, wat onwettig is as jy gesekwestreer is.

“So geskied geregtigheid. Van die VF Plus en die koalisie se kant af kan ek sê dat alles met eerlike bedoelings gedoen is. Ons het self nie geweet van die geraamtes in hierdie man se kas totdat dit nou onlangs onder ons aandag gebring is nie. Dit was ʼn groot skok, want hy was ʼn lid van die koalisie,” het Theunissen gesê.

Volgens Theunissen was dit ook Cope se verantwoordelikheid om Makwarela te verifieer voordat hy as raadslid benoem en verkies is.

Die DA sê dit is belangrik dat ʼn nuwe verkiesing van Tshwane se burgemeester so gou as moontlik plaasvind en dat alle partye die stabiliteit van die stad bo enige politieke agendas en speletjies moet plaas. Die koalisie sal ook weer die geleentheid hê om ʼn voorkeurkandidaat vir die pos beskikbaar te stel.

“ʼn Stabiele stadsregering met ʼn duidelike mandaat en plan is nie net in die beste belang van die veelpartykoalisie nie, maar ook in die belang van ANC-raadslede wat hulp benodig met diensleweringsprobleme aan inwoners,” het Uys gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

domheks ·

Net so vrot soos anc en eff! Dis nie ‘n wonder hy was verkies nie!

Aai ·

Toe word wolf toe nou nie skaap.Kan net lag HA HA julle opsies raak op.

Amelia ·

Ja en hoeveel het hy verdien Kan darm se hy nie geld onder bank gehad nie haHAHAHA

Stofdonkie ·

Kan iemand nie net alle raadslede gaan verifieer nie? Hoeveel van die ander raadslede is nie dan ook skuldig daaraan dat hulle insovent verklaar is nie. Afriforum, hier is vir julle dalk ‘n werkie, gaan alle raadslede se rekords na en bring dit onder die aandag van die rade.

Eugene ·

Wat n’ grap! Kan Hy bewys hys n’ dokter? Dokter waarvan?? Leuens leuens leuens. Nog n’ lid van die sirkus.

Di ·

Ja nee kyk, hulle dink mos hulle sal vir ewig wegkom met hulle leuens en korrupsie. Kyk maar net na ons Perlementslede en ESKOM!!!! Al loop ‘n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.

Kobus ·

My voorspelling was toe reg en ek hoop hy het my raag gevolg deur nie enige foto’s en sertifikate in sy kantoor te hang nie. Ek glo ook die nuwe pak klere op appro gevat is en dat dit ook terug gegee moet word. Dis opvallend hoe vuil politiek is. Toe hy saam met die DA en VF+ ‘n koalisie sou vorm, het nie een van die twee partye sy status bevraagteken nie. Toe hy hulle verraai toe begin die poppe dans.

Mastermind ·

…………………en nou is hy sy pos as SPEAKER ook kwyt !

skurweberg ·

Dis waarom poligraaf-toetse of Psigometriese toetse verpligtend gemaak moet word, voordat enige Politieke-leier aangestel kan word. In die privaatsektor is dit in baie gevalle verpligtend, veral as jy met geld werk. As jy weier kan jy ‘n ander werk gaan soek.

Ek is ‘n belastingbetaler met ‘n gewete en dring daarop aan. Hulle is besig om ons swaarvediende geld te mors. Skandalis en Barbaars!!!

Sean ·

Direkteur van 20 maatskappye????? En hy het tyd om burgermeester te wees??????

Nettie ·

En so gaan die sirkus maar net voort. Ek voel soos die liedjie “California”. You can check out any time, but you can never leave. Ek wil uit die sirkus, maar ek mag nie “leave” nie.

annie ·

… speel Tshwane nou vrotaspaai vir opwinding? Wie word volgende uitgevang? Die jaar is nog lank. Teen Kersfees behoort hul deur almal te gedraf het… en dan gaan die uitgeputte spul niksdoeners lekker vakansie hou tot 2024; die jaar van nog groter en lekkerder verkiesings.

Doompie Daan ·

Hoor Hoor!
Welgedaan julle ouens wat die tipe ongehoorde korrupsie openbaar en aan die man bring!

Chris ·

Ek onthou toe die man met die loure van die nuwe Tswanetoria Stadsraad vereer is. Al wat politieke party se verteenwoordiger het om hom saamgedrom en gedreunsing. Die DA mannetjie was nie te sien nie. Dit het my weereens tot helderheid laat besef, ons moet uit die inboorlinge se politiek bly. Daar gaan ‘n ophef van sy onbevoegdheid/diskwalifiesering gemaak word. Op grond waarvan word die man nou diskwalifiseer. Hy het nie iemand skade berokken nie.

Watsenaam ·

Net toe hy dink hy kan homself ryk dief om homself te rehabiliteer klink iemand sy doppie.Dalk moet iemand die anc kanidate se geskiktheid ook toets?

Anel ·

Laat hy sommer al.die geld wat hy as salaris gekry het ook terug betaal. Want hy het dit deur bedrog gekry en verdien dit nie.

Pinoccio ·

Munisipaliteite behoort nie deur politiek gelei te word nie, grootste aftakeling van infrastruktuur en finansies!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons kan maar kla en die ANC en hul pelle slegsê. Feit is, hulle beheer ons. En dit gaan nog dekades aanhou.

Jaco ·

Maar cope het dan ‘n paar jaar gelede vanaf die ANC weggebreek. Die DA se Helen Zille was op cope se stigtingsvergadering en het nog gejuig oor die “nuwe era in SA politiek”. Nou is cope weer in koalisie met die ANC. Hoe dan nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.