Nuwe wending in Sasolburg-moordsaak

Sithembiso Hlongwane (regs) en Stanley Lingena (links) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Sithembiso Hlongwane (28) beweer polisiebeamptes het hom die dag van sy inhegtenisneming vir die moord op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat Michael Zantow (64) drie keer erg aangerand en ook bewysstukke in sy huis geplant.

Hierdie inligting het Woensdag en Donderdag in die rondgaande hof in Parys uitgekom tydens sers. Chrissie van der Linde, ondersoekbeampte, se kruisondervraging.

Liebenberg en Zantow is op 20 Augustus verlede jaar by twee verskillende huise in Sasolburg in die Vrystaat vermoor.

Volgens Hlongwane se regsverteenwoordiger, Terrence Mogwera, is sy kliënt deur polisiebeamptes aangerand by sy huis in die Irak-nedersetting in Zamdela, by een van die moordtonele in Lateganstraat, Sasolburg, en toe later in die aanhoudingselle in Zamdela.

Van der Linde het vroeër getuig sy en twee van haar kollegas is op 23 Augustus verlede jaar danksy ʼn informant na Hlongwane en sy medebeskuldigde, Stanley Lingena (38), se onderskeie huise gelei.

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Die informant het die polisie eerste na Lingena se huis gelei, want volgens die informant was “die vermoorde paar se tuinier [Lingena] moontlik by hul moorde betrokke”. Lingena het die polisie weer na Hlongwane se huis geneem nadat hy in hegtenis geneem is.

Die verdediging het tydens kruisondervraging geïnsinueer dat die informant moontlik by die moorde betrokke kon wees, wat volgens Van der Linde onwaar is.

Soos vroeër berig, het Van der Linde by die verdagtes se huise toestemming gekry om hul huise te deursoek, waar sy toe op van die paar se gesteelde goedere afgekom en op beslag gelê het.

Volgens Hlongwane se getuienis het sers. Van der Linde buite die huis gewag terwyl twee manlike polisiemanne saam met hom (Hlongwane) binne die huis was.

“Dit is toe dat hulle my kliënt erg aanrand. ʼn Derde polisiebeampte het tussenbeide gekom, waarna my kliënt probeer vlug het. Hy het gevlug vir sy lewe,” het Mogwera in die hof gesê.

Volgens Hlongwane se getuienis het Van der Linde hom gepootjie net toe hy uit die huis vlug en daarna haar vuurwapen op hom gerig en hom in hegtenis geneem.

Hlongwane voer ook aan die polisie het by sy huis aangekom met ʼn groot tas vol items en dit in sy huis gesit.

Volgens Van der Linde strook Hlongwane se getuienis egter nie met haar ervaring van die gebeure nie.

“Ek en twee kollegas was binne die huis om die plek te deursoek, terwyl ʼn derde kollega buite gestaan en wag het. Daar was geen aanranding nie,” het Van der Linde getuig.

“Ek het die beskuldigde agterna gesit toe hy probeer vlug het, maar nie gepootjie nie. Ek het my vuurwapen uit die holster gehaal vir beveiliging omdat ons met ʼn moordsaak te doen gehad het. In daardie stadium het ek ook nie geweet of die beskuldigde ʼn vuurwapen in sy besit het nie.”

Van der Linde het getuig by die moordtoneel in Lateganstraat was daar ook nie enige aanranding nie, want daar was verskeie polisiebeamptes, die stasiebevelvoerder, die takbevelvoerder en lede van die Plaaslike Kriminele Rekord Sentrum (LCRC) op die toneel om ʼn ogie te hou.

Op ʼn vraag van die staatsaanklaer, adv. Antoinette Ferreira, of die beskuldigde enige beserings gehad het toe hy selle toe geneem is, het Van der Linde gesê dat sy geen beserings opgemerk het nie en dit ook so op rekord aangeteken het.

“Volgens polisieprotokol kan ons in elk geval nie ʼn beseerde verdagte in die sel toelaat nie, want dan sal die polisiebeampte aan diens verantwoordelikheid vir die persoon moet vat. Beseerde persone word gewoonlik na ʼn uitgesoekte hospitaal – onder polisiebewaking – verwys.”

Volgens Van der Linde hou polisiebeamptes toesig oor die selle en gaan kyk elke uur wat in die selle aangaan.

“Volgens die personeel wat by die spesifieke selle aan diens was, was geen aanrandingsgevalle aangemeld nie.”

ʼn Onverwagse getuie

Om die dispuut op te klaar, het die staatsaanklaer, adv. Antoinette Ferreira, Donderdag op die laaste minuut vir AO Freddie Nel van die Sasolburg-polisie ingeroep. Hy was saam met Van der Linde op die tonele. Hy is Van der Linde se groepbevelvoerder.

Hy sou nie aanvanklik ʼn getuie in die saak wees nie, maar die staat het ʼn spesiale versoek aan die hof gerig om hom as getuie te roep.

Hy het getuig dat Hlongwane nie deur enige polisiebeamptes aangerand is nie en dat die polisie ook nie bewyse geplant het soos die beskuldigde beweer nie.

Maroela Media het vroeër berig Zantow en Liebenberg is op 20 Augustus by twee huise in Sasolburg vermoor. Zantow se liggaam is by Liebenberg se oorlede ma se huis in Lateganstraat in ’n Wendyhuis gevind en Liebenberg by die paar se huis in Watersonstraat. Die huise is net 230 m van mekaar.

Hlongwane en Lingena is kort na die moorde vasgetrek.

Dit het vroeër in die hof uitgekom dat Lingena tuinwerk vir die paartjie gedoen het, maar ’n groot kopseer vir hulle was omdat hy glo gereeld geld wou leen en ook vermoedelik alkohol uit die huis gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

AndrewL ·

Die ou-ou storie van prokureurs. As die klient vas is, pleit aanranding, en polisie brutaliteir.

Dit is duidelik soos daglig die knaap is skuldig.

Kokkies ·

Hulle is nou vas en probeer enige sop storie en beskuldigings rondgooi om uit die moeilikheid te kom. Die land se groot koppe doen dit dan en kom weg daarmee.

Chavonne ·

siestog, jy is gemartel? wat van die 2 mense wie se lewens jy geneem het? wat van hulle geliefdes wat elke dag nou sonder hulle moet voortgaan? maar nee, aangeklaagdes het mos regte, ons burgers het mos niks. kry vir jou!

Casper ·

Dit is ‘n oud soos die berge verskoning wat deur regsverteenwoordigers gebruik word hulle sien hulle kliënte is vas.My kliënt is deur die polisie aangerand en gedwing om ‘n verklaring afte lê of bewysstukke is geplant

Lillian ·

Maklik om nou aantygings te maak teen die polisie. Buitendien lyk die rubbish blakend gesond. As hy dan sodanig aangerand is deur die polisie, hoekom het hy dit nie dadelik gerapporteer nie?

Simoné ·

Hulle lyk nie eens vreeslik jammer of toon berou oor die saak nie, lyk my hulle is heel gelukkig en geniet die aandag van die media…

Kobus ·

Klink of die prokureur vir die verdediging lesse by Mpofu kry om met stories wat uit flieks kan werk nou opgedis word. Slagoffers is altyd aangerand, voorgesê,gedwing en allerande stories net om die landroste te mislei. En dit werk gewoonlik

Koos 100 ·

Dis nou tyd dat kriminele wat sulke bewerings maak en dit word onwaar bewys, moet daar ‘n skuldig bevinding van meieed wees. Die persoon is mos onder eed in die hof en lieg dan. SAPS beamptes word van ernstige goed beskuldig, wat hulle loopbane kan verwoes.

Tanya ·

Maar natuurlik sal die storie mos nou gedraai word….want dit sal die hof saak nog bietjie langer uitrek! Hulle hoop mos maar altyd dat uitstel, afstel sal word want die kriminele het hopeloos te veel “mense regte”!

Hendrik ·

Daar is seker tuinwerkers en tuinwerkers en hoe kan jy nou sien wie nou die gevaar is.

Marcello ·

Ek sê nie dit het nie gebeur nie, maar Polisie is nie ALTYD so onskuldig nie. Hulle behandel “veral blankes” maar nie korrek nie, terwyl hulle in die Polisieselle is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.