‘NVG versuim om vervolging in te stel’ – AfriForum

(Argieffoto: Unsplash)

Landdros Bertus van Zyl het Dinsdag in die landdroshof in Upington, Noord-Kaap, AfriForum se privaatvervolgingseenheid gelyk gegee in die formele geregtelike doodsondersoek na die 14-jarige Maverick Links. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy plig versuim het om vervolging in te stel, wat gelei het tot hierdie doodsondersoek.

Links is na bewering reeds in Julie 2017 deur ’n tienjarige maat met dié maat se pa se dienspistool doodgeskiet. Die doel van ’n doodsondersoek is onder meer om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kan word vir die slagoffer se dood.

In hierdie geval het Van Zyl, op die betoë wat die privaatvervolgingseenheid gemaak het, bevind dat ’n persoon wel aanspreeklik gehou kan word en dat sy dade ’n misdryf uitmaak. Dit nadat die NVG geweier het om die minderjarige of sy pa te vervolg.

Van Zyl se bevinding volg kort op landdros John Maloba van die Johannesburgse landdroshof se opmerking dat die staat die hof vir doodsondersoeke gebruik as ’n vangnet of as repetisie vir ’n verhoor en ook om aan slagoffers te illustreer watter slaggate ’n verhoor kan inhou.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die NVG se konstante afstanddoening van hul grondwetlike plig om te vervolg deur eerder doodsondersoeke aan te vra, ’n misbruik van die proses en ’n miskenning van die slagoffers van misdaad, aan wie hulle pligsgebonde is, se regte.

“Ons eenheid sien al hoe meer dat die NVG eerder ’n doodsondersoek aanvra as om te vervolg ten einde hul onbekwaamheid om moeilike besluite te neem te omseil en weg te kruip agter die bevinding van ’n landdros. In hierdie tragiese geval moes die NVG onmiddellik die prosedures soos voorgeskryf deur die Wet op Kindergeregtigheid 75 van 2008 gevolg het,” het Leask gesê.

Leask het ook beklemtoon dat die privaatvervolgingseenheid namens hul kliënte teen die staat en die persoon van belang veg vir geregtigheid in hierdie doodsondersoek, aangesien dit blyk dat hierdie partye albei vervolging wil verhoed.

“Dit is ironies dat die ‘prokureurs vir die mense’ weer eens die samelewing in die steek gelaat het eerder as om daadwerklik op te tree in belang van die slagoffer se familie. Verder laat die ondersoek in die saak veel te wense oor en dit blyk dat die polisie traag was om ondersoek in te stel omdat die pa van die persoon van belang self ’n polisiebeampte is. Dit is eers nadat ons in 2019 by hierdie saak betrokke geraak het dat die polisie die relevante verklarings en getuienis ingewin het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

casper ·

Ja – Dis net ‘n job – hoef nie te werk as jy ‘n job het nie !!

Nico ·

Die pa moet aangekla word ‘n dienspistool was gebruik om die misdaad te pleeg, hoe het die kind die vuurwapen gekry, die pa was hier absoluut agterlosig. AfriForum moet die NVG aantree oor die swak beleid om nie te vervolg nie terwyl ‘n jong lewe geneem is, die skool is ook aanspreeklik om ‘n vuurwapen op die skoolgronde toe te laat, waar is die skool se sekuriteit dan, AfriForum moet die NVG gas gee.

Mathys ·

Die burgerregte organisasie moet die staat dagvaar vir die kostes wat hulle moet aangaan om die pligte, wat die vervolgingsgesag en die polisie, teenoor die bevolking het, na te kom.
Hulle sou nie hierdie kostes hoef aan te gegaan het indien die belastingbetalers se geld nie op ander uitgawes verkwis was nie. Of is daar ‘n voorwaarde van siviele kwytskelding met die uitreik van die nolle prosequi?

Hennie J ·

So word die kaders, een na die ander, ontbloot vir wat hulle eintlik is……..useless!

Perdeby ·

Hoe kan hulle nie iemand vervolg nie. Die pa se dienspistool was nie in ‘n kluis gewees nie, en sy 10 jarige kind het dit gevat en sy maatjie perongeluk geskiet. Hy moes al lankal onbevoeg verklaar geword het.

Theuns ·

Vraag te logies. Onthou dis ramaposa cadres waarvan jy praat..reg is verkeerd by hulle en verkeerd is reg dis hoekom cadres NOOIT vervolg word. CR17 is voorbeeld van hoe hul toesmeer.

Swerwer ·

Toe die land nog onder ‘n bevoegde Regering was, sou die pa onmiddelik gearresteer gewees het vir agterlosigheid. Die Pa is en bly skuldig/verantwoordelik vir die daad want hy het sy dienswapen nie in ‘n kluis toegesluit nie. Vandag is dit aan die orde van die dag dat wapens aan/in die verkeerde hande is en absoluut niks daaromtrent gedoen word nie . Maar laat ‘n blanke nou so iets doen en almal is op hom, en hy is onmiddelik sy werk ook kwyt. Dubbelstandaarde te danke aan die ANC se onbevoegdheid.

Theuns ·

Wie is verbaas? Die NVG is hgellai met cadres deur RAMPOSA om homself- CR17 FONDS- en sy cadre tjommies te beskerm met onbevogede cadres wat besluite neem soos aangese. NVG is swakker as ooit met die ramaposa aanstellings. Nes Valke . Nes SAPS. Nes kabinet ,. Geregtigheid bestaan nie. Dalk het aanklaer nie eens regte kwalifikasies nie wat standaard is met cadres

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.