NVG verwag ‘toename in armoede-verwante misdaad’

(Foto: Maroela Media)

Die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwag ʼn toename in sogenaamde armoede-verwante misdaad terwyl die landwye staat van afsondering voortduur.

“Wanneer die afsonderingsmaatreëls verslap word en die ekonomiese krisis verdiep, verwag ons ʼn toename in armoede-gedrewe misdaad soos diefstal, straatrooftogte, inbrake, ernstige geweldsmisdaad, openbare geweld, georganiseerde en kubermisdaad, korrupsie en xenofobiese geweld,” het Batohi in ʼn voorlegging aan die parlement gesê.

Sy het gesê in ʼn krisistyd skuif die mag na die uitvoerende gesag en op straat na die polisie en weermag – en dit is kritiek dat die regsorde aanhou geld. Sy het gesê die NVG se rol as onafhanklike instelling is baie belangrik.

“Diegene wat die krisis deur onwettige optrede misbruik, moet met mening vervolg word. Dit sluit korrupsie tydens Covid-verwante verkrygingsprosesse in, asook die diefstal van mediese voorraad, wetstoepassers wat omkoopgeld eis, aanvalle op die polisie, plundery en die afbrand van skole, en staatsamptenare wat afsonderingsregulasies oortree,” het Batohi gesê.

“Diegene wat disproporsioneel deur Covid geraak word – vroue en kinders, die armes en diegene in die gemeenskap wat as gemarginaliseerd beskou word – moet met deernis behandel word.

“Dit is duidelik dat gemeenskappe nou die finansiële knyp begin voel.”

Shamila Batohi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Batohi het gesê die NVG gaan sy hulpbronne prioritiseer en hom toespits op hoë prioriteitsmisdaad, ook dié wat Suid-Afrika se post-Covid- ekonomiese herstel pootjie.

“Die vervolging van minder ernstige en armoede-gedrewe misdaad gaan herprioritiseer word deur die gebruik van afwentelingsprogramme of alternatiewe dispuutoplossingsmeganismes.”

Terwyl die polisie ʼn beduidende afname in ernstige misdaad tydens die inperkingstydperk aanmeld, is duisende mense reeds in hegtenis geneem of beboet vir oortredings van die Wet op Rampbestuur wat in dié stadium geld.

Volgens die NVG word bitter min sake in die stadium afgehandel en word die meeste uitgestel na ʼn datum ná die afsonderingstydperk.  Van die vervolgingsgesag se grootste uitdagings tans is netwerkprobleme wat beteken aanklaers sukkel om inligting in te dien, asook die polisie se teenstrydige toepassing van regulasies.

Toegang tot howe word tans uiters streng beperk en in sommige gevalle so erg dat getuies en selfs beskuldigdes wat vir sake aanmeld sekere howe verbied word.

Batohi het gesê die NVG is ʼn noodsaaklike diens en gaan steeds voort met sy bedrywighede – al is dit tydens die afsonderingstydperk geweldig afgeskaal.  Amptenare werk in skofte van die kantoor af, of van hul huise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Die Wolf ·

Voor die handliggend. Hoef nie n rocket scientist te wees om dit te voorspel nie.

Anel ·

As hulle dit weet hoekom doen hulle nie iets daaraan nie. Jy kan nie die weermag daarvoor gebruik nie. Of vat die spul se wapens terug want ek glo nie een van hulle het ‘n bevoegdheidssertifikaat nie. Die maklikste is doen weg met al hierdie drakoniese inperkings.

Grassie ·

As die regering nie anderpad gekyk het toe miljoene onwettige immigrante die land binnegestroom het nie, en ook nie die vroue met kindertoelae aangemoedig het om onbeheers voort te plant nie sou hierdie probleem nou baie kleiner gewees het. Dit klink vir my as hulle nou begin plunder gaan hulle sagkens behandel word. Die drie of vier miljoen belastingbetalers kan nie meer die 17-miljoen plus toelaagtrekkers langer onderhou nie en ook nie die skade wat die plunderaars aanrig dra nie. Die land stuur beslis op ‘n ramp af.

Boortor ·

Ek het dit al vyf weke terug voorspel maar meeste mense het gedink ek maak n berg van n molshoop. Nou ja…daar het julle dit. Dit gaan nog n slagting veroorsaak.

Nie Verbaas ·

En ANC is ten volle verantwoordelik bit armoede. Die wat geplunder het sit mos in weelde in plaas van agter tralies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.