NWU moet primaria se ‘skorsing’ verduidelik

Karlien-dameskoshuis. (Foto: Facebook / NWU-Pukke Karlien-dameskoshuis)

Die DA en VF Plus eis antwoorde van die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) op Potchefstroom nadat die universiteit en studenteraad gesê het die primaria van die Karlien-dameskoshuis is van dié rol onthef. Dit nadat sy glo verlede naweek tydens ʼn koshuisdinee ʼn toespraak in Afrikaans gelewer en gevolglik Engelssprekende studente in die gesig gevat het.

Die keuse van musiek wat by die geleentheid gespeel is, onder andere “sokkieliedjies”, het dié studente glo ook rooi laat sien.

Haar regsverteenwoordiger, Hein Papenfus, het egter Vrydag aan Maroela Media gesê sy is nié geskors nie, maar haar termyn as primaria het bloot in die normale loop tot ’n einde gekom.

Die universiteit het vroeër aan Maroela Media bevestig dat die aangeleentheid intern hanteer word en dat taal nooit gebruik mag word om ander uit te sluit nie. Hy het wel ook gesê dat die termyn van die vorige huiskomitees buitendien Woensdag verstryk en dat nuwe primarias en primariusse reeds aangewys is.

Die DA het nietemin ’n dringende brief aan die rektor en visekanselier van die NWU, dr. Bismark Tyobeka, gerig waarin hy ’n verduideliking oor die voorval eis. Die party beskryf dit as ’n “blatante geval van taaldiskriminasie”.

Luidens die brief wil die DA weet wat die feitestel is wat gelei het tot die skorsing van die primaria en of dit akkuraat is dat sy geskors is bloot omdat sy Afrikaans gepraat het by ʼn koshuisfunksie, en ook omdat “sokkieliedjies” by die funksie gespeel is.

Die party sê indien dit die geval is, dring hy daarop aan dat die primaria onmiddellik in haar amp herstel word. Hy eis ook dan dat Tyobeka ʼn openbare verskoning rig aan Afrikaanse studente aan die NWU vir “die wyse waarop die betrokke student se menseregte geskend is” deur hierdie skorsing, sowel as vir “die wyse waarop die skorsing die waardigheid van Afrikaanse studente aan die NWU skend”.

“Die skorsing van ʼn student bloot omdat sy ʼn amptelike, inheemse Suid-Afrikaanse taal praat, is nie net ʼn belediging vir alle sprekers van daardie taal nie, maar ook ʼn growwe skending van haar menseregte, met inbegrip van die reg op vryheid van spraak, taal en kultuur, gelykheid en menswaardigheid,” sê die DA in die brief wat Maroela Media onder oë gehad het.

“Dit behoort vir elke Suid-Afrikaner duidelik te wees dat dit verregaande en beledigend is om iemand uit ʼn amp te onthef bloot omdat daardie persoon ʼn taal praat wat deur ons Grondwet as amptelike taal erken word en wat deur die Grondwethof bevestig is as ʼn inheemse Afrikataal.”

Volgens die party sal hy dringende regs- en ander stappe ondersoek indien die NWU-bestuur nie aan hul eise voldoen nie.

Die VF Plus sal ook nie skroom om ʼn klagte by die Menseregtekommissie (MRK) in te dien nie, het dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier, gesê.

Hy beskryf die primaria se skorsing as niks anders as boelietaktiek, diskriminering en ʼn poging om Afrikaans te onderdruk nie.

Volgens Groenewald het die NWU vier amptelike tale, Engels, Afrikaans, Setswana en Sesotho, en die lewer van ʼn toespraak in een van die tale is binne die beleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

H.A. ·

Daar is nou te veel aanslae teen afrikaans. Ek weet net nie hoekom afrikaners NWU toe gaan nie.

Elma ·

Pukke is loshande die beste universiteit wat inderwaarheid nog enigsins Afr toelaat. Daarom gaan ons kinders daarheen.

Elma ·

en nou al die onderstebo gesiggies, he he he…. Waar studeer julle kinders – Stellenbosch?

Perdeby ·

En nog meer AL DIE mense wat so onsimpatiek is oor Elizabeth 11 se afsterwe is ongeindig lief vir die taal!

Keelvol ·

“All animals are equal, but some animals are more equal then others.”

Animal Farm
1945

Rudi ·

Our people kan nie Afrikaans verstaan nie en ken nie sokkie liedjies nie. Verskil in kultuur.

SwartBees ·

Maklik, jy doen net sulke flakka trekkings dan kan jy dans op dit.

Trotse Boervrou ·

Hierdie was nie net ‘n aanval teen ons taal nie. Dit is blatant rassisties. Kom ons noem dit tog net by die naam! Skandelik dat hierdie pragtige prim wat haar alles vir die koshuis gegee het so hanteer moet word net om die meer bevoorregtes tevrede te stel. Eintlik skokkend.

Samuel ·

En om te dink NWU was eens ‘n trotse Afrkaans universiteit!

Nici ·

Ek dog Potch is die laaste Afrikaanse universiteit wat oor is? Mag Afrikaners nie Afrikaanse skole of universiteite he nie? Wat as ons uitgesluit voel deur Engels?

Barend ·

Ek wonder ook net in watter taal word die verontregtes onderrig.

Haan ·

Die MRK is gestig om Afrikaners te help teiken, nie om hulle te verdedig nie. Die VF Plus sal elders moet soek vir hulp.

Vonny ·

As jy in die omgewing van potch woon…
Kom kyk hoe vervalle lyk die Bult.
Hartseer…!
Lyk soos n hool.
Al die goeie besighede trek uit.
Vandat prof Fika weg is lyk die Bult soos n ashoop.
So so hartseer!

Jacobus ·

En om te dink daar is nog diegene wat vas glo dat as jy die krokodil voer jy nie geëet gaan word nie! En dan word net gesê wat die baas wil hê jy moet sê!

Tino ·

Ek word in die gesig gevat waneer Julius sy gebroke weergawe van sy moedertaal praat, dink hy moet ook geskors word

Delia ·

En nou gaan ek myself in die leeukuil gooi. Mens lees nooit werklik die ware storie in n koerant nie, maar as die primaria Sotho was en die hele toespraak in Sotho gedoen het en die musiek was doef doef, sou jou en my Afrikaanse kinders tevrede gewees het? Wees eerlik.
Maar ek sê weer, die ware stories haal nie die koerante.
Het sy nie dalk die toespraak ook in Engels herhaal? Was die musiek gemeng?
Dis die antwoorde wat mens moet kry.
As dit wel die geval was, het die verontregtes geen voet om op te staan.
Dalk kan Anja vir ons uitvind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.