NWU-taalbeleid: Só sien Kgwadi die toekoms

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

As ʼn voornemende student in 2035 op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit in ʼn BSc-rigting wil gaan studeer, sal die onderrigmedium waarin sy klasse aangebied word afhang van die taal waarin die dosent die gemaklikste voel om sy klasse aan te bied.

Die onderrigmedium in die klasse by dié universiteit sal ook bepaal word deur die taal wat die studente in die spesifieke klas verkies.

“Indien die dosent verkies om die klas in Engels aan te bied en jou seun verkies Afrikaans, sal daar wel ʼn tolkdiens vir hom beskikbaar wees. Dieselfde diens sal vir studente beskikbaar wees indien hulle Engels is en die klas in Afrikaans aangebied word,” het prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU, Dinsdag verduidelik.

Dit is hoe Kgwadi die toekoms van die taalaanbod in klasse aan dié universiteit sien. Hy het erken die universiteit beskik tans oor ʼn uitstekende taalbeleid en daar is eintlik min wat daaraan verander moet word. Dit blyk egter die toepassing daarvan wat die doring in sy vlees is.

Hy het in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media gesels oor die uitslag van ʼn meningspeiling oor die NWU se taalbeleid wat tans hersien word. Die meningspeiling wat die vakbond Solidariteit gedoen het, het getoon dat 61 275 mense gestem het dat Afrikaans die primêre onderrigtaal op die Potchefstroom-kampus moet bly.

Kgwadi het gesê hy twyfel of mense die universiteit se taalbeleid reg verstaan. Hy het ook weer benadruk dat die Potchefstroom-kampus van die NWU lankal nie meer net Afrikaans is nie.

“Ons moet toegang tot al ons kampusse verseker – alle studente van verskillende rasse moet hier welkom voel. As ons sê die NWU is ʼn veeltalige universiteit kan daar nie iets soos ʼn primêre of sekondêre onderrigmedium wees nie, alle tale moet gelyk behandel word.”

Hy het gesê die taaldebat wat tans veral oor die NWU se Potchefstroom-kampus woed, is met paranoia en verwarring gelaai.

“Mense wil nou eis dat sekere kampusse of universiteite vir ʼn taalgroep uitgesonder word en ek sê vir jou dit sal apartheid by die agterdeur inlaat. Dan is ons weer terug by die beleid van afsonderlike ontwikkeling soos wat destyds met die tuislandstelsel afgedwing is en ek is ʼn produk van daardie stelsel – ons kan dit nie toelaat nie.”

Kgwadi het gesê hy stem egter saam dat inheemse tale tot volwaardige onderrigmediums ontwikkel moet word.

“Ek ondersteun die idee ten volle en omdat die NWU in die Noordwes-provinsie geleë is, is dit ons plig om Setswana te prioritiseer vir dié soort ontwikkeling.

“Dit kan egter nie op ʼn wyse gedoen word waar die Setswana-student aan die Mafikeng-kampus studeer omdat dit die kampus is wat nou vir dié studente toegewys is nie. Wat van die studente van die Oos-Kaap wat by die NWU landbouwetenskappe wil studeer – hulle moet dit ook steeds by die NWU se Mafikeng-kampus kan doen.

“Ons spog daarmee dat die universiteit ten volle funksioneel veeltalig is, terwyl die universiteit se taalbeleid op ʼn eentalige manier toegepas word. Ons kan nie bekostig om eentalig te wees nie, die toepassing van ons taalbeleid moet dus verbreed word.

“Daar moet ʼn omgewing en leerervaring vir studente, Afrikaanssprekend en nie-Afrikaanssprekend, geskep word waar hulle dieselfde ervaring by al die NWU se kampusse het,” het Kgwadi bygevoeg.

En wat sê hy van die aantygings dat talle ander universiteite al dieselfde paadjie as die NWU met hulle taalbeleid gestap het en nou bykans reeds heeltemal verengels het?

“Ek dink nie hulle is werklik net Engels nie. Miskien ly ons almal tans aan dieselfde sindroom as dié waaraan ʼn slagoffer van ʼn verhouding waarin hy of sy mishandel is ly. Daarom vertrou ons tans niks wat uit daardie verhouding kom nie. Alles herinner ons aan die verlede en ek dink dit is waar ons onsself tans in die land bevind.

“Ek dink mense wil by die verkeerde begrafnis huil, hierdie is nie daardie begrafnis nie.”

Op ʼn vraag watter impak hy meen Solidariteit se meningspeiling op die universiteit se taalbeleid sal hê, het Kgwadi gesê: “Almal het die reg om hulself uit te druk. Mense kan aan ʼn referendum deelneem – dit is sekerlik hoe ʼn mens die meningspeiling kan beskryf – maar as die uitslag van daardie referendum ongrondwetlik is, sal die resultate nooit daglig sien nie.

“Dit gaan vir my hier oor wat die beste vir ons studente sal wees en jy moet onthou die Afrikaanse studente is ook my studente. Ek dra ook hulle belange op die hart.

“Ons moet sien hoe ons ʼn balans vir al hierdie studente kan skep. Dit is hoe ons dit sal benader maar ons gaan nie sekere regte beskerm nie. Hierdie land is ʼn diverse land en ons is ʼn reënboognasie. Wat belangrik is, is die manier waarop ons die pad hieruit verder vorentoe inslaan en verseker dat almal hul grondwetlike reg tot onderwys kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dinarie

NWU se 2035 se taalbeleid = pie in the sky.

Dit sal blyk onuitvoerbaar te wees

Basson

‘n Paar kodewoorde, ‘As die meningspeiling ongrondwetlik is’, dekmantel vir vertrapping van minderheidsregte.

‘Ek glo nie ander universiteite is totaal Engels’, verseker weet hy hulle is!

Totsiens Afrikaanse aan NWU.

Hans

Hoeveel afrikaanse klasse word op Mahikengkampus aangebied? Is daar tolkdienste vir afrikaanssprekende studente?

Kgwadi

Hauk

Eugene

Ek dink nie enige iemand wil sien dat Afrikaans verdwyn nie, maar ons moet ook tred hou met wat internasionaal aangaan. Deesdae is die voertaal in howe amper 95% Engels, omdat die meeste Landdroste Engels verkies. Is dit dan nie beter dat jou kind bv eerder sy LLB in Engels doen en daaraan gewoond raak, as om dit in Afrikaans te doen en dan in die praktyk te moet aanpas onder druk nie? 11 Amptelike landstale maak dinge baie lomp…