Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het ʼn mosie deur die Demokratiese Alliansie (DA) goedgekeur dat ʼn ondersoek begin na die verwydering van die Openbare Beskermer uit haar amp.
Die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, het op 3 Desember verlede jaar die substantiewe mosie om adv. Busisiwe Mkhwebane van haar amp te onthef kragtens die nuwe reëls van die parlement ingedien.
Die DA voer aan Mkhwebane is onbevoeg vir haar pos, onder meer op grond van die groot aantal hofuitsprake wat verskeie van haar bevindings al ongeldig verklaar het.
Die eerste stap in die proses om haar van haar amp te probeer onthef, is dat ʼn onafhanklike paneel kenners wat afgetrede regters kan insluit deur die parlement saamgestel word om vas te stel of daar ʼn prima facie-saak teen Mkhwebane bestaan.
Modise het politieke partye twee weke gegee om nominasies vir die paneel in te stuur. Die sluitingsdatum vir nominasies is 7 Februarie. Kragtens die nuwe parlementêre reëls moet die onafhanklike paneel bestek opneem of daar ʼn saak uit te maak is, en binne dertig dae hul bevinding bekend maak.
Namens die DA het adv. Glynnis Breytenbach, die party se woordvoerder van justisie, gesê hulle is verheug oor die speaker se besluit. “Dit is duidelik dat adv. Mkhwebane nie haar mandaat verstaan nie en ook nie die Grondwet mooi onder die knie het nie. Ons hoop dat hierdie proses so gou doenlik volvoer kan word,” het sy gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Dit is nou die beste nuus van 2020 tot sover. Kan ek haar gaan help om haar laaie leeg te maak, en die gebou te verlaat?
Ja en so gaan hulle weer miljoene vermors. Ai
Betaalde “skorsing” en “herontplooiing”…
Ek lees die kommentare en lei af dat daar hoop is.
Ek het n verrassing vir julle niks gaan verbeter nie.
Sal nogsteeds niks oorkom nie. ace, eff en zumas sal haar beskerm.