OG-verslag wys op verval, wanbestuur van ANC-munisipaliteite

Ouditeur-generaal Tsakani Maluleke (Foto: GCIS)

Die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, se pas uitgereikte verslag oor die stand van munisipaliteite in die land, belig opnuut die erns en omvang van die verval en grootskaalse wanbestuur in ANC-beheerde munisipaliteite.

Die verslag vir die 2020/21-finansiële jaar wys onder meer uit dat onreëlmatige besteding by 64% van die munisipaliteite ten bedrae van R20,45 miljard geïdentifiseer is en dat 28% van munisipaliteite in die afsienbare toekoms nie meer regtens as lopende sake beskou sal kan word nie.

Slegs 16% van die munisipaliteite het ongekwalifiseerde oudits ontvang en by 22 munisipaliteite is bevind dat daar substantiewe onreëlmatighede plaasgevind het.

“Die feit dat 64% van munisipale skuld as oninvorderbaar beskou word, beklemtoon ook die vlakke van onbekwaamheid in munisipale besture landwyd,” sê Michal Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake. “Geen behoorlike kontrole- en invorderingstelsels is in plek nie en dit is ook duidelik dat die politieke wil ontbreek om wanbetalers van munisipale dienste vas te vat.”

Groenewald sê dit blyk ook duidelik dat die dringende implementering van behoorlike bestaande tegnologie en bestuurstelsels die hoogste prioriteit behoort te geniet.

“Digitale deurlopende finansiële assesseringstelsels sal finansiële onreëlmatighede beperk en behoorlike rekordhouding en akkurate oudits verseker. Dit is tyd dat die ANC-regering ophou beloftes en uitsprake maak oor die tegnologiese rewolusie en die stelsels begin implementeer. ʼn Verdere voetslepery sal belastingbetalers nóg miljarde rande aan verspilde belastinggeld kos.”

Die verslag bevestig ook die negatiewe impak wat die voortslepende ANC-binnegevegte en gevolglike onstabiliteit op munisipale dienslewering het.

“Veral die inwoners van die Vrystaat en Noordwes ly reeds lank onder die gevolge van die ANC se binnegevegte. Die OG beklemtoon ook dat ʼn gebrek aan etiese politieke leierskap lei tot ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid en ʼn algemene toestand van wanorde in sommige provinsies.”

Groenewald meen gemeenskappe in alle munisipaliteite behoort saam te staan en die plaaslike politieke leiers in munisipaliteite tot verantwoording roep vir hierdie wanbestuur van hul skaars hulpbronne. “Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.”

Derrick America, die Demokratiese Alliansie in die Wes-Kaap se woordvoerder oor provinsiale regering, sê die OG se verslag wys weereens dat die DA-beheerde Wes-Kaap steeds beter presteer as die res van die land.

“Die OG het in sy verslag bevind dat die Wes-Kaap op ʼn ‘opwaartse trajek’ beweeg en skoon, diensgefokusde plaaslike regerings bied. Alhoewel die algemene strekking van die verslag negatief is, staan die Wes-Kaap uit as die uitsondering met 22 munisipaliteite wat skoon oudits kry.”

Dit beteken dat die Wes-Kaap 53,6% van alle skoon oudits in die land verteenwoordig.

“Dit is verreweg die hoogste getal skoon oudits in die land. Dit werp lig op die uitstekende werk en samewerking tussen die munisipaliteite en die provinsiale departement van plaaslike regering,” sê America. “Ons wens die uitvoerende lede en munisipale beamptes in elkeen van dié plaaslike regerings geluk met hul toewyding om te dien.”

America sê alhoewel die plaaslike regering baie het om te vier, bly hy besorg oor die verslae oor Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg-munisipaliteite. “Ek sal dié munisipaliteite versoek om voor die staande komitee oor plaaslike regeringsake te verskyn om die wetgewer in te lig oor hul planne van aksie om hul finansiële omstandighede om te keer.”

America sal ook met die provinsiale minister van plaaslike regering, Anton Bredell, saamwerk om seker te maak dat die munisipaliteite op ʼn pad na herstel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Hul gee geld uit wat hulle nie het nie en daar is nog steeds die wat krag en water verniet kry. Wanneer gaan almal ewe veel vir dienste en tariewe begin betaal ?

twaalfboor ·

Die OG se verslae moet ook maar met ñ knippie sout gevat word. GLAD nie meer so akkuraat soos in die verlede nie. Daar is staats departente wat ongekwalifiseerde oudits kry wat vrot is tot in die murg. Die ware stand van sake is heelwat erger.

Dup ·

Ons almal weet al vir jare dat genoemde munisipaliteite ten gronde gegaan het en het nie ñ OG nodig om dit weer te herhaal nie.Die vraag is: Wat Gaan Julle Doen Om Dit Reg Te Stel?

Nie Verbaas ·

Met ANC aan die stuur? Absoluut niks sal daaraan gedoen word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.