Oliestorting in PE onder beheer; pikkewyne steeds sleg geraak

Verskeie Afrika-pikkewyne is weens die storting met olie besmeer en moes gered word. (Foto: Sanccob)

ʼn Oliestorting wat plaasgevind het terwyl ʼn vragskip by die Ngqura-hawe naby Port Elizabeth brandstof ingeneem het, is suksesvol onder beheer, het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Samsa is nagenoeg 360 liter olie opgeruim.

Die owerheid het gesê hy is besig met ʼn ondersoek om te bepaal hoe tot 400 liter olie vroeër vandeesmaand in die oseaan beland het.

Samsa het gesê die maatskappy SA Marine Fuels, wat die MV Chrysanthi SA volgemaak het, het aangedui dat die skip se eienaar vir die storting verantwoordelik was.

“Dit lyk of die storting voorgekom het nadat een van die brandstoftenkkleppe nie behoorlik toegemaak is nie, wat beteken het ʼn groot hoeveelheid brandstof het per ongeluk op die skip en in die see uitgemors. In daardie stadium was die skip besig om tot 1 300 metrieke ton brandstof in te neem,” het Bongi Stofile, Samsa se streeksbestuurder, gesê.

Stofile het gesê die eienaar van die skip, Golden Flower Navigation Incorporated, het “verantwoordelikheid aanvaar vir die oliestortings en het die nodige ondernemings gemaak om aan die betrokke Suid-Afrikaanse wetgewing en bepalings, asook internasionale konvensies wat met voorvalle van dié aard verband hou, te voldoen”.

Die MV Chrysanthi S, wat teruggehou is terwyl die ondersoek gedoen is, het intussen die hawe by Port Elizabeth verlaat.

Samsa het gesê terwyl die vinnige optrede en goeie samewerking verseker het dat die olie nie die kuslyn bereik nie, het dit steeds ʼn uitwerking op mariene wildlewe, veral seevoëls en pikkewyne, gehad.

Teen Donderdag is 90 Afrika-pikkewyne, nege kuikens, drie pikkewyneiers, 12 malgasse en vyf Kaapse kormorante gered en skoongemaak.

“Dit is uiters betreurenswaardig dat, ondanks al ons pogings, mariene wildlewe en veral bedreigde spesies soos die Afrika-pikkewyn seergekry het,” het Stofile gesê.

“Samsa werk nou saam met Sanparke en Sanccob (die Nasionale Stigting vir die Bewaring van Seevoëls) om te verseker dat alle geraakte wildlewe behandeling kry en dat hulle geen permanente skade opdoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kat ·

Dis vreeslik!! Die diere moet altyd seer kry ai my hartjie bloei ,ek wil sê puik vir die opruiming…Maar ek is boos dat dit moes geskied … ai ai my liewe Heer moet ons nie vergewe nie straf die gene wat die natuur te na kom.. vir ewig en altyd..

Genade ·

Genade is dit nie bietjie drasties om te sê die Here moet ‘n mens nie vergewe nie. Oh hoe dankbaar is ek nie vanoggend dat God nie altyd luister na ons nie en dat Hy wel vergewe maak nie saak watse fout jy in die lewe maak nie. Dankie Heer dat U vergewe 70×7 en help ons op soos U te vergewe.

Seadog ·

Daar is baie meer olie gestort as wat voorgegee word! Die werklike hoeveelheid is nie gemeet nie, dis net n skatting, maar kyk na die gevolge!

John ·

Iets anders was aan die gang. Onwettige olie-handel het moontlik plaasgevind… oorhaastig. Die naam van die skip klink Oosters. Stories… stories… En nou is die skip weer weg en dit is die laaste sien van die blikkantien. Koebaai pikkewyne en skoon strande.

jean ·

Per ongeluk? Daar gebeur te veel “ongelukkies”….waar stort baie van die groot passasierskepe hul riool….en moenie sê daar is spesiale houers nie. Nee wat sekere hawens is vol van drywende ongelukke….

pieter ·

Sal graag wil weet hoeveel is presies gestort.Moet baie meer as 400 liter wees.

piet ·

Sal graag wil weet hoeveel is presies gestort.Moes baie meer wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.