Omikron-variant in afvalwater in Kaapstad gevind

Afvalwater-behandelingsaanleg (Foto: SAMRC)

Wetenskaplikes van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) het die Omikron (B.1.1.529)-variant van SARS-CoV-2 in die meerderheid van afvalwaterbehandelingsaanlegte in Stad Kaapstad gevind, asook ʼn monster wat by Kaapstad- Internasionale Lughawe geneem is.

Dr. Mongezi Mdhluli, leier van die SAMRC se afvalwateropname en navorsingsprogram (SAMRC-WSARP) het bevestig dit is die eerste keer dat die Omikron-variant in Stad Kaapstad se afvalwaterstelsel aangemeld word.

Die SAMRC-WSARP is in Julie 2020 aangestel om die evolusie van Covid-19 te verstaan en ʼn bydrae te lewer tot die bestuur van die virus in Suid-Afrika. Wetenskaplikes het sedertdien die konsentrasie van fragmente van die SARS-CoV-2-virus se ribonukleïensuur (RNS) in vier van Suid-Afrika se provinsies se afvalwater gemonitor.

“Individue met Covid-19 skei die virale oorskot af deur hul ontlasting. Alhoewel die fragmente nie aansteeklik is nie, kan dit in afvalwateraanlegte opgespoor word en dit gee ʼn aanduiding van waarskynlike Covid-19-gevalle in die omgewing. Dit kan ook gebruik word om variante te monitor deur middel van polimerase kettingreaksie (PKR)-metodes asook volgende-generasie volgordebepaling (NGS),” sê prof. Craig Kinnear, direkteur van die SAMRC se genomika-sentrum.

“Ons het die Omikron-variant in 11 van die 12 (92%) monsters van afvalwater opgespoor wat op 30 November 2021 by Kaapstad se behandelingsaanlegte ingesamel is. Die Delta-variant was nog slegs in een van die aanlegte dominant,” sê prof. Rabia Johnson, adjunkdirekteur van die SAMRC se biomediese navorsing- en innovasieplatform.

“Ons het Omikron ook in ʼn rits afvalwatermonsters opgespoor wat by Kaapstad- Internasionale Lughawe ingesamel is. Ons data in hierdie stadium wys dat Omikron vir die eerste keer op 23 November 2021 aanwesig was. Die opsporing van die Omikron-variant in afvalwater in Kaapstad strook met ʼn toename in gevalle van Covid-19 in die stad.

Die omvang waartoe die Omikron-variant na landelike gebiede buite Kaapstad versprei het, is nie bekend nie, maar genetiese volgordebepaling op ʼn monster van afvalwater wat in Rawsonville in die Breedevallei in die Wes-Kaap versamel is, wys ʼn afwesigheid van Omikron, terwyl die Delta-variant steeds dominant bly. “Dit beteken egter nie noodwendig dat Omikron nié in dié gebiede oorgedra word nie.”

Dr. Mdhluli het beskryf hoe die huidige wydverspreide voorkoms van Omikron in afvalwater in Kaapstad dramaties verskil van dit wat die SAMRC-WSARP-span opgemerk het in September 2021, in die middel van die derde vlaag Covid-19-infeksies. In daardie stadium is slegs die Delta-variant in al Kaapstad se afvalwateraanlegte opgespoor.

In samewerking met die Nelson Mandela-universiteit het die SAMRC-WSARP-span ook toetse gedoen op afvalwater in die Nelson Mandelabaai-gebied. Voorlopige uitslae wys dat drie van die vier afvalwateraanlegte in dié stad ook positief getoets het vir Omikron.

Afvalwater speel ʼn noodsaaklike rol in die monitering van SARS-CoV-2 omdat dit vinnig brandpunte kan identifiseer, asook variante wat in die gebied sirkuleer om ʼn vinnige openbaregesondheid-reaksie te verseker.

SAMRC-WSARP se uitslae vandeesweek het gewys dat fragmente van SARS-CoV-2 by byna al Kaapstad se behandelingsaanlegte toeneem, net soos in ander dele van die land.

In die lig van die span se aanduidings oor ʼn toename van SARS-CoV-2-RNS in afvalwateraanlegte landswyd en bewyse van ʼn toename van die Omikron-variant in Suid-Afrika, het prof. Glenda Gray, president en uitvoerende hoof van die SAMRC, gesê dit is noodsaaklik, nou meer as ooit tevore, dat almal ingeënt word en aan alle nie-farmaseutiese ingrypings voldoen (soos die dra van gesigmaskers, streng handhigiëne, handhawing van ʼn afstand van minstens 1,5 meter van ander en om skares te vermy). “Noodsaaklike byeenkomste moet verkieslik buite gehou word of in binnenshuise ruimtes met goeie ventilasie. Dit is een van die maniere om die oordrag van Covid-19 te beperk tydens die feesgety. Ons moedig ook alle Suid-Afrikaners aan om hulself voor hul vakansies te laat inent.”

Klik hier vir meer inligting oor die SAMRC se afvalwater-moniteringsprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jeepie ·

Kom ons hoop en bid dat die nuwe variante wat gaan kom nie naby verwant is aan Delta nie. Die omvang van verspreiding is kommer wekkend

Waarnemer ·

Verplig ALLE landsburgers om see toe te gaan….dit is in die buitelug en oop ruimtes en vars lug!!! in plaas van die vepligte inenting.

Jeepie ·

Ek dink as die gevalle toeneem en daar nog ‘n variant kom, dan gaan verpligte inentings gebeur en moet gebeur.

Miskruier ·

Familie in Nederland het nou al 3 spuite agter die blad en raai, hul is in kwarantyn omdat hul positief getoets is na n snotneus.

Janie ·

Ek stem 100% saam met jou, maar nie almal dink so ver nie. Dis mos lekkerder om by die huis te sit en in 4 mure vas te kyk as om bietjie van alles om jou te vergeet en die see met sy vars lug te geniet…

Pieter ·

Jy kan die tyd en kersdag en Nuwejaarsdag na Durban toe gaan en dit daar geniet.

Magda ·

Gauteng is di een met di meeste gevalle ni enige plek by Di see ni.

MARIANA ·

Dankie vir so n insiggewende artikel
Ek kan dink hoeveel moeite en insig dit sal verg om so ‘n artikel gereed te kry!

Samuel ·

Nou moet mense nie weer histeries begin raak nie. Daar is altyd virusse en kieme in enige afvalwater.

VaalDonkie ·

Feite. Hulle het laasjaar ook SARS-CoV-2 hier in die rioolwater gekry en ons het nie op ‘n streep omgekom nie. Moet net nie van daai water skep en drink nie

VaalDonkie ·

Toemaar ouens, hulle het laasjaar ook vir Alfa en Delta innie rioolplaas opgetel. Nee ek grap nie, dit was ‘n storie laasjaar. En ons lewe almal nog. So moenie (te veel) stres nie. Die punt van ‘n rioolplaas is om al daai goeters dood te maak voordat die water daar weggaan.

annie ·

Tot onlangs toe het virusse, via skepe (en vliegtuie) met voorrade en bemanning, na ander lande oorbeweeg. Niks word nou meer gesê oor virusse se oorlewing op oppervlakke nie. Vroeg verlede jaar is dit genoem maar dis nou tjoepstil. Deesdae moet ons glo vlieg as ons wil vlieg (om lande se ekonomieë en ego’s te beskerm), virus of te not. Sou Omikron mense erg siek maak, is rondjol sekerlik dwaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.